Te Bêre of te Begrawe
deur Fien
(oorspronklike teks is onveranderd)

"Is net jammer dat jy nie die goeie gewoonte van 'n brakkie wil aankweek nie", brom my wederhelfte, toe hy net mooi vir die tiende keer oor die rommel in die waenhuis struikel.

"'n Brakkie het tog immers die verstand om goeters wat hy wil  hou, te BEGRAWE. Maar jy,,,,!! 'n Mens het 'n soeklig en 'n span kaffers nodig om net één ding tussen al hierdie mengelmoes te kry; waarom bêre jy alles?"

Nou het hy 'n teer punt geraak, en dit het my laat nadink.....

Van toeka se dae het ons vroumense maar almal een vaste gewoonte aangekweek, en dit is om goeters te bêre; "want jy weet nooit wanneer jy dit dalk sal nodig kry nie", is ons vaardige antwoord.  Onlangs het ek my huis van voor tot agter deurgegaan, (sonder 'n soeklig en 'n span kaffers!!) en 'n volledige inventaris gemaak van al die goeters wat ek bêre, (in geval ek dit dalk eendag nodig kry), en dit as volg groepeer;-

(1) Goeters wat op goeters gaan - soos deksels van leë bottels, ou deksels van stukkende kastrolle, ou proppe van bottels wat gebreek het en ou pierings waarvan die koppies gebreek het maar wat uiters geskik is om onderstebo op ander ou pierings te plaas om goeters te dek, (wat ek wil bêre), soos bv. bietjies kos van die vorige maaltyd, stukkies konfyt wat op die broodbordjies agter gebly het, verlepte tamatieslaai van laas Sondag se middagete en 'n lepeltjievol nagereg (van doe vorige Sondag se middagete).

(2) Goeters wat van goeters kom - soos hempsknope, broeksknope, tas handvatsels en strykyster handvatsels.

(3) Goeters waar ander goeters ingekom het - soos leë kardoessakkies, leë lemoensakkies, skoendose, groot kartondose om klein kartondose in te bêre, bruinpapier, vaalpapier, koerantpapier, enige papier.

(4) Goeters waarvoor ek te jammer is om weg te gooi - soos leë "olie kolonie" bottels, ou gelapte onderklere, (wat net ideaal is vir vloerlappe), ou besemstokke, (wat  nog dalk eendag gebruik kan word stutte vir die wasgoedlyn), ou gordels van nagpakke, ou tafeldoeke, ou gordyne, die bruin sokkie - (die maat waarvan die brakkie iewers begrawe het), en daardie linkerhandse handskoen, (ingeval ek dalk die regterhandse handskoen raakloop!!)

(5) Goeters waarvoor ek te jammer is om te gebruik - soos daardie messe-en vurkestel, ('n geskenk van ou tant Katryn met my troue - hoeveel jare bêre ek dit nie al nie), die bottel drankies wat al vir soveel jare gebêre word vir 'n spesiale okkasie, daardei vloermatjie wat Ouma van sykouse gehekel het, MET HAAR EIE TWEE HANDE!

(6) Goeters van sentimentele waarde - soos daardie bondel liefdesbriewe van gewese minnaars wat nog steeds in die sjokoladedosie gebêre is, al laasjaar se Kersfeeskaartjies, blink papier en snuisterye wat Kersdag so 'n gedenkwaardige dag gemaak het, en ou, verbleikte kiekies geneem in die fleur (?) van my jare, (party by geleentheid van my eerste Sondagskoolpiekniek, en party geneem net na die groot middagete op Ouma se verjaardag, - dis mos EK daardie in die voorste ry by moeder se knie!!)

(7) Goeters wat gebêre is om tyd te bespaar - (want 'n mens weet nooit wanneer jy dit nodig gaan kry nie!!) - soos daardie ou tas wat al vir jare en jare die ereplek bo-op die hangkas behou: maak die deklsel oop en 'n sterk naftalienreuk dring die neusgate binne, want net onder al die lae bruinpapier en dan onder al die lae sagte papier, is sorvuldig gebêre......baba kousies, baba baadjies, baba mussies, baba kombersies, in kort alles wat gebrei en gebruik was vir die eerste baba, en wat gebêre was ingeval.....
(Die feit dat baba no. 1 al in matriek is ontneem net niks van die goeie voornemens van die vrou nie, en bewys tog dat alle vroue, van geboorte af, verorden is om "houers van goeters" te wees.)

Nietemin, vroumense weet darem presies nét waar hulle goeters bêre.  Neem bv. die karsleutels: die mansmense het net EEN bêreplek hiervoor - en dit is waar hulle dit altyd kan kry - die broeksak, (met dien verstande dat hy altyd dieslfde broek dra!!). Vra nou vir die vrou waar sy die karsleutels gebêre het, en sy sal, sonder aarsel en in 'n paar woorde verduidelik dat die sleutels "....in die boonste regterhandse laaitjie van die spieëlkas" is, en om sekerheid te verseker - "...net  onder die bondel sokkies wat nog gestop moet word".

Dis tog heel maklik om te kry, maar nie vir die man nie!! Haastiglik vroetel hy deur en maak 'n warboel van die sykouse, handskoene, haarnette, haarnaalde, sakdoeke, linte, ongestopte sokkies en onbetaalde rekenings ..... NIKS!!

Dan snuffel hy deur die boonste linkerhandse  laaitjie, dan deur die onderste linkerhandse laaitjie en uiteindelik deur die onderste regterhandse laaitjie ... NIKS!!

Sy geduld nou tot uitermate beproef, pluk hy al die laaitjies uit die spieëlkas, smyt al die goed uit op die bed en begin weer van vooraf met sy reuse (?) taak om die verborge sleutels te soek.

NOG NIKS, en nadat hy al die laaitjies weer teruggeprop het, skree hy om hulp. Weer soos voorheen, sonder aarsel en in 'n paar woorde verduidelik die vrou dat die sleutels "...in die boonste regterhandse laaitjie van die spieëlkas" is; sy maak die betrokke laaitjie oop ..... en oorhandig die sleutels!!!

Maar dis in die spens, egter, dat die vrou haar hoogtepunt bereik in die kunsvaardigheid van "goeters bêre". Die spens is spesiaal ontwerp en gebou met genoeg (?) rakke WAAROP 'n mens goeters kan plaas WAARIN 'n mens goeters kan bêre. Groot sorg was dus aan die dag gelê  om elke blikkie of bottelduidelik te merk sodat 'n mens presies net weet waar goeters gebêre is. Dus kry jy bv. suiker in die soutblikkie, koffie in die teeblik en eiers in die sopskottel. Die blik wat eintlik bedoel is vir meel word die kruideniersware in toegesluit, "...omdat ou Nieta my rot en kaal besteel", die brood en soetkoekies word in die hangkas (in die spaarkemer) weggesteek; en terug in die spens, vind jy die broodblik tot bo by die deksel volgeprop met resepte!!

En NOU.....  Wat omtrent die wederhelfte, wat met 'n paar verpletterende woorde die hele sisteem van "goeters bêre" verdoem? 'n Vlugtige blik deur die venster van die somershut (!), (want hierdie is verbode grond), lewer bewys van ......GOETERS WAT GEBêRE WORD!!!! Hier lyk dit soos 'n negosiewinkel. Hier is 'n verrotting van gebreekte stoele, gebreekte tafels en gebreekte portretrame. Hier is 'n verroesting van krane, gieters, fietsparte, karparte, nommerplate en sinkplate.

Kortliks, hier is die man se MEKKA!!!!

Ja, mansmense bêre mos net belangrike goeters!!!