Presies wanneer die eerste Boeremusiekklanke die atmosfeer binnegedring het, kon nog nie bepaal word nie. Deels omdat kommunikasie en rekords 300 jaar gelede omtrent nie bestaan het nie. Navorsing dui daarop dat Boeremusiek waarskynlik tydens hierdie periode die eerste keer deur die slawe gespeel kon gewees het. Wat wel duidelik is, is dat die musiek as dansmusiek ontstaan het. Die wals, polka, kwadriel en mazurka is dansmate wat reeds lank voor Van Riebeeck se koms na die Kaap in Europa bekend was. Die eerste inwoners het dus hulle musiek vanaf Europa en die Verenigde Koninkryk na die suidpunt van Afrika saam-gebring.

 

Nou wat verskil Boeremusiek van bogenoemde musiek? Totaal! Alhoewel die tydmate ooreen-stem, verskil die voordrag van die musiek geheel en al. Boeremusiek het sy eie unieke klank.

 

Kan ons 'n definisie vir boeremusiek saamstel? Nie so eenvoudig nie as gevolg van die aard van boeremusiek. Boeremusiek is by uitstek dansmusiek wat in die meeste gevalle by Afrikaner byeenkomste  of by hulle huise gespeel is. So, stel jou nou voor: die mense wil dans en daar is nie 'n konsertina nie. Dan word die instrumente gebruik wat beskikbaar is. Solank die produk boeremusiek is, is dit boeremusiek. Soos Ollie Viljoen by die KKNK gesê het: "Jy HOOR onmiddellik as dit Boeremusiek is!" Met ander woorde Boeremusiek word geken aan 'n kenmerkende styl op die instrumente wat beskikbaar is wanneer die musiek gespeel word!

 

Die ander probleem en die groot rede vir die swak inligting wat oor Boeremusiek bestaan, is die swak beeld wat Boeremusiek nog deur die verloop van baie jare beleef. Die rede vir die swak persepsie van Boeremusiek kan deels voor die deur van die Calvinistiese Afrikaanse kerke gelê word aangesien die kerk vroeër sterk gekant was teen dans en omdat Boeremusiek in wese dansmusiek is. Dit is weliswaar so dat 'n dansparty gepaard kan gaan met onsedelike gedrag, maar dit is onredelik om die probleem aan die hals van Boeremusiek te hang. Dieselfde beginsel geld vir drankmisbruik. Drankmisbruik is 'n individuele siektetoestand wat geensins te make het met Boeremusiek nie. Met ander woorde 'n persoon wat drank wil en sal misbruik het nie 'n Boermusiekbyeenkoms nodig vir sy of haar verslawing nie.

 

Gelukkig is hierdie persepsie van Boeremusiek 'n nekslag toegedien en het Leon Ferreira reeds in die vorige boek melding gemaak van 'n NG Kerk Sinodebesluit dat "Nie alle vorme van dans sonde is nie". Hierdie meer gebalanseerde uitkyk op dans en Boeremusiek het verder uitgebrei en vandag word die klanke van konsertinas selfs in kerke gehoor en speel vele van ons Boeremusikante in orkeste by eredienste.

 

Boeremusiek het ook 'n groot vyand onder sy eie mense – die Afrikaner. Dit was vir die vroeëre Vryburger meer van belang om met die elite van die Kaap en sy uitheemse musiek te assosieer as met sy eie mense met hulle eie musiek. Daar is vandag nog Afrikaners wat glo dat dit waardiger is om na klassieke musiek te luister as na Boeremusiek. So is Boeremusiek afgedruk en het hy 'n stryd van die vroegste jare vir erkenning — let wel — erkenning as 'n besondere musiekstyl wat spontaan onder die Afrikaner ontstaan het, en nie as 'n teenvoeter vir ander musiek genré nie! Dit is al wat Boeremusiek vra: 'n plek onder die son. Gelukkig is daar tans 'n oplewing en waardering vir enige vorm van Afrikaanse musiek en sodoende word Boeremusiek weer herontdek en reeds 'n ereplek toegeken deur verskeie Afrikaanse musikante en sekere kunstenaars wat ligte Afrikaanse musiek beoefen. Die feit dat meer en meer jongmense Boeremusiek begin beoefen en dat die populêre Afrikaanse sanger, Dozi ingewillig het om as beskermheer van die Boeremusiekgilde op te tree is 'n klinkklare bewys dat Boeremusiek tog besig is om tot sy reg te kom.

 

Vroeg in die sestiende eeu het dans 'n oplewing gehad en 'n groot invloed op musiek gehad. Allerhande nuwe passies het die lig gesien en pare het begin om teen mekaar te dans. Aan die Kaap is danse soos die kwadriel, die minuet en die gewilde kontradans ingevoer  wat baie populêr was. Dat daar baie musiek gemaak is in die Kaap van 1652 tot 1800 is verseker. Tot op hierdie stadium word Boeremusiek nêrens vermeld nie maar, soos reeds genoem, was kommunikasie soos ons dit vandag ken, nie beskikbaar nie.

 

Na die bewindsoorname van die Kaap deur Brittanje vroeg in die 19de eeu het baie Britse orkeste die Kaap besoek. Musiekinstrumente het toe ook makliker bekombaar geraak.

Die ingewikkelde danse moes nou plek maak vir die nuwer danse soos die wals, polka, mazurka en die settees. Namate die Kaapse inwoners die binneland begin verken het en meer immigrante hulle hier gevestig het, het ontwikkeling vinnig gevorder. Graaf Reinett en Grahamstad was nou al gevestig, maar belangriker nog, die Afrikaner het as boere gevestig geraak en sodoende ook die grondslag vir die ontwikkeling van Boeremusiek gelê.

Alhoewel die grootste agting die eerste musikante wat plate gemaak het toekom, kan ons nie goedsmoeds die komposisies van die nommers wat hulle gespeel het aan hulle toedig nie. Die rede hiervoor is dat baie van die nommers wat hulle gespeel het reeds in die negentiende eeu deur andere gespeel was. Kalie de Jager bevestig hierdie beskouing en meld dat hy 'n konsertinaspeler geken het wat vroeg in die 20ste eeu leer konsertina speel het en negentig persent van die nommers wat die betrokke persoon gespeel het, het hy by sy pa gehoor wat mondfluitjie gespeel het! Dié het dit weer by sy pa geleer wat konsertina gespeel het! Nou is ons al terug by 1860! Inligting wat verder terug strek as hierdie kon ongelukkig nie bekom word nie.

Wat wel in die navorsing van Kalie de Jager duidelik was, is die feit dat die Soutpansberg Settees en Soutpansbergpolka voor die Vryheidsoorlog op 'n 2ry Wheatstone, oftewel Engelse konsertina, gespeel is! 

Kom ons kyk weer na die aard van Boeremusiekbyeenkomste in die 19de eeu. Boeremusiek is in die sitkamer of waenhuis gespeel met die instrumente wat beskikbaar was. Veral die viool en serfyntjie was baie populêr. In elk geval was die Boere reeds vroeg in die 19de eeu aan die trek. Verbeel jou om al jou besittings en kos vir 'n onbekende aantal maande, alles op die ossewa te laai! Weens hulle grootte was die viool en later die konsertina, so gewild want dit het bitter min plek gevat. Verder is Boeremusiek by sosiale geleenthede gespeel soos verjaardae en troues en kon dié instrumente maklik saamgeneem word na sulke byeenkomste. Omdat die Boere so ver uitmekaar gewoon het, is daar groot ophef van dié byeenkomste gemaak en het die vrolikheid dikwels sommer vir 'n week aangehou!

 

Hoewel die eerste vrolike klanke van Boeremusiek soos ons dit later leer ken het, reeds in hierdie tydperk aan die orde van die dag was, was die jare tussen 1800 en 1840 vol onrus en probleme — veral vir die Boere in die Ooskaap. Soveel so dat dit uiteindelik gelei het tot die Groot Trek. Tydens hierdie trek het die Boere natuurlik ook hulle musiekinstrumente saamge-neem en is Boeremusiek sodoende saam die binneland in.

Noodwendig ontstaan die vraag nou waaroor die groot geskarrel om die oorsprong van Boeremusiek na te vors?  Dit gaan oor erkenning en tantieme.

In die eerste plek word daarna gestreef om erkenning te verleen aan die musikant wat sy talente ingespan het om die nommer te komponeer. Tweedens is tantieme ter sprake om die musikant verder te vergoed vir sy bydrae. In hierdie opsig het die musikant ook 'n spesifieke verantwoordelikheid, naamlik om sy komposisie by die Suid-Afrikaanse Musiekregte Organi-sasie (SAMRO) te registreer.

Die organisasie is oorspronklik in Engeland gestig om musikante te beskerm. Oorlede Nic Potgieter het by hulle aangesluit voordat hulle Suid-Afrika toe gekom het en was ook 'n pensioentrekker by hulle. Registrasie van nommers het 'n tweeledige doel: die musikant ontvang in die eerste plek vergoeding wanneer sy nommer in die openbaar gespeel word en tweedens word verdere vergoeding betaal wanneer die nommer — hetsy op 'n album of by 'n openbare byeenkoms — gebruik word.

Die Eileen Alannah wals van Faan Harris kan as voorbeeld gebruik word om hierdie beginsel te verduidelik. Hierdie wals is die eerste keer in Amerika opgeneem op 'n Edison silinder — die eerste plate was in silinder vorm — en kan nie nou aan Faan toegedig word nie. So is daar baie ander, nie noodwendig van Faan Harris nie.

Thomas A. Edison het die fonograaf — die voorloper van die grammofoon — reeds in 1872 uitgevind en in 1880 begin plate (silinders) maak maar Boeremusiekplate is eers in 1930 vir die eerste keer gemaak! Met ander woorde 50 jaar later! Dit sou 'n geweldige hupstoot aan Boeremusiek gegee het as daar in die negentiende eeu reeds plate gemaak was want dit kon baie van die raaiwerk uitgeskakel het.

Sodra 'n plaat gemaak word kry dit 'n matrysnommer. Sodra iemand anders dieselfde nommer op plaat wil sit moet dieselfde matrysnommer gebruik word met 'n /1 of /A agtervoegsel. Op die manier word die belange van die oorspronklike komponis beskerm. Die gewoonte is om die nommers wat nie aan 'n komponis toegeken kan word nie, tradisioneel te noem. Hierdie gebruik is egter ook nie sonder haakplekke nie en lei tot velerlei misdrywe wat nie regverdig teenoor die komponis is nie.

Kom ons keer terug na die 19de eeu en Boeremusiek!

Sir Charles Wheatstone het 'n baie belangrike patent in 1829 geregistreer. Sy eerste free reed instrument, wat hy die Symphonian noem — die voorloper van die Wheatstone konsertina — sien die lig. Vir doeleindes van hierdie boek geniet die Wheatstone konsertina voorrang omdat dit die konsertina is wat baie populêr onder die Boeremusikante was en nog steeds is — veral die Anglo–chromatiese model.

Sommige ander lede van die free reed familie is die akkordeon, mondfluitjie en orrel. Die eerste free reed instrument is uit China afkomstig en bekend as die Naw  en is 5000 jaar oud!

Flip Delport, bestuurslid van die Noordwestak, is tans besig met omvattende navorsing oor die konsertina asook ander ou musiekinstrumente en het goedgunstiglik fotos van hierdie besondere ou instrumente beskikbaar gestel aan die redaksie.

Flip verduidelik: By hierdie instrument word wind deur die longe verskaf. Dit word deur die mond geblaas en fingers word as kleppe gebruik om gaatjies in die bamboespypies, wat resonerende klankkamers is, af te sluit en oop te maak. Die klank word geproduseer deur 'n metaaltongetjie waarvan die punt vry in beweging vibreer.

 

 
 

 
     
     
 

Om te verstaan waar die konsertina vandaan kom en hoe sy klank geproduseer word moet mens wys hoe lyk die bamboesklankbuis met gaatjie en metaaltongetjie van die Sheng.

Die eenvoudige metaaltongetjie is ook gebruik in 'n instrument wat 'n Typotone genoem word. Slegs een noot word met die instrumentjie geproduseer en dit is veral gebruik waar sonder begeleiding musiek gemaak was.

 

 
 

 
     
 

Bo: 'n Ou Typotone — 'n Eenvoudige metaaltongetjie gemonteer op 'n perlemoenskyfie. 'n Enkele noot kan met hierdie eenvoudige instrumentjie geproduseer word

 


'n Pragtige ou Sheng

 
     
 

Die bostaande fotos is verkry uit 'n publikasie van die Horniman Museum in Brittanje. 'n magdom inligting oor musiekinstrumente is beskikbaar op die webblad van dié museum.  Die adres is: www.horniman.com

Teen die einde van die 18de eeu en vroeg in die negetiende eeu is 'n hele reeks nuwe musiekinstrumente ontwikkel waarvan heelwat op die lees van die Sheng geskoei was. Hieronder val die Aura of Mundaeoline (Die woord Mundaeoline is 'n samestellng van mond, Griekse windgod en viool d.w.s. 'n windviool wat met die mond gespeel word) 'n voorloper van die harmonica of mondfluitjie. Volgens verkoopstatistiek was die mondfluitjie die gewildste vrytongetjie instrument ooit! Meer nuwe instrumente het die lig gesien en binne die volgende 50 jaar sou instrumente soos die akkordeon, mondfluitjie, traporreljie, konsertina en bandoneon en al hulle variasies, die lug vul met nuwe klanke.

Te midde van al hierdie nuwe ontwikkellinge in Europa het Sir Charles Wheatstone in Engeland die Sheng begin moderniseer en meganiseer en hy patenteer in 1829 sy Symphonium
 die voorloper van die Wheatstone konsertina.

Terwyl Sir Charles Wheatstone in Engeland besig was, het Carl Friedrich Uhlig in Chemnitz Duitsland sy konzertina ontwikkel. Wat veral belangrik is, is die feit dat hy van die begin af 'n diatoniese konsertina gebou het m.a.w. die in en uit van 'n noot het verskil.

 

 
 

 
 

Voor en agter aansigte van Sir Charles Wheatstone se Symphonium – voorloper van die konsertina wat in die Horniman Museum in Engeland bewaar word

 

 
 

Intussen is die Boere in Suid Afrika onbewus van hierdie gebeure en speel hulle Boeremusiek rustig voort op hulle mondfluitjies, traporrels, viole en tweery boerekonsertinas, meesal Höhners.

Dit is belangrik om daarop te let dat Wheatstone op hierdie stadium (1840), op sy Engelse Vierry konsertina met die 48 knoppies gekonsentreer het. Ene Rigondi was destyds 'n virtuoos van hierdie konsertina. 'n Ander konsertinaspeler van hierdie tydperk was Alexander Prince wie se musiek in 1898 op 'n Edison silinder — no. 23081 — opgeneem is. Nog 'n kenmerk van die Engelse Vierry konsertina was sy koppe met meer rye waarvan die bandjies in die duime gepas het en nie oor die hele hand soos ons dit vandag ken nie. Die sogenaamde Engelse konsertina was nog nie vervaardig nie!

George Jones het in 1850 die Duits-Engelse konsertina ontwikkel deur die eienskappe van Wheatstone en Uhlich se konsertinas saam te voeg.  Hierdie konsertina, toe bekend as die Anglo Duitse Chromatiese Konsertina staan later in Suid-Afrika bekend as die Engelse Konsertina.

Vanweë die groot aanvraag en ook omdat Wheatstone se ambagslui en tegnieke van hoogstaande gehalte was, was hy genoodsaak om hierdie konsertina te vervaardig. Bo en behalwe Engelse konsertinas vervaardig hy ook Tweery, Drie-ry, 3½-ry en ry konsertinas. Voormelde konsertinas staan ook bekend as die 20- 30– 32– en 40-keyed.

Hierdie was ONS konsertinas en nou kon die Boere ernstig begin speel! Die groot probleem was prys wat meegebring het dat die Tweery aanvanklik die populêrste konsertina was. Tweedens was die musiek nie gekomponeer vir die baie knoppies nie en die 3¾ ry konsertina sou eers in die tweede helfte van die 20ste eeu tot sy reg kom.

Een van die hartseer stories van Boeremusiek is dat ons vele konsertinaspelers se name nooit sal bekom nie omdat Boeremusiek van die begin af vir klein groepe privaat gespeel was. Die spelers was in hulle onmiddellike omgewing bekend maar verdere blootstelling in die wyer gemeenskap het nie plaasgevind nie omdat daar ook nog nie plate gemaak was nie. Vir hierdie boek is dit dus ook nie moontlik om aan almal wat in die vroeë dae van Boeremusiek 'n bydrae gemaak het erkenning te verleen nie hoofsaaklik omdat die name van bekende konsertinaspelers nêrens aangeteken is nie.

Een familie wat al oor vyf geslagte heen Boeremusiek maak is egter wel bekend! Terwille van die geskiedenis van Boeremusiek kan daar nie nagelaat word om hulle te vermeld nie. Daar is waarskynlik veel meer sulke families waarvan ons net nie die nodige inligting het nie.

Johan van Vuuren, een van ons jonger Gildelede, se oupagrootjie — Rudolph van Vuuren — het in die 19de eeu konsertina gespeel. Sy oupa — Mias van Vuuren — het vroeg in die 20ste eeu — voordat plate gemaak was — konsertina gespeel en sy pa — Neelsie speel vandag nog boerekitaar. Johan self is 'n bekende gesig op TV Boeremusiek en sy seun — Corné — het nou tot die geslag van Boeremusikante toegetree — 5 geslagte van boeremusiek.

 

 
 

 
 

Drie van die van Vuurens, v.l.n.r: Johan, sy pa Neelsie en sy oupa Mias

 

 
 

Aangesien so min bekend is oor die vroegste jare van Boeremusiek moes meeste skrywers wat reeds publikasies die lig laat sien het hulle ook maar verlaat op die inligting wat op grammofoonplate beskikbaar is. Skrywers soos Piet Bester het vir sy boek Tradisionele Boeremusiek — 'n Gedenkalbum ook van grammofoonplate gebruik gemaak om inligting te boek te stel. Wilhelm Schultz  het in sy boek — Die Ontstaan en Ontwikkeling van Boeremusiek —wat 'n reuse taak moes gewees het — baie inligting oor danse in die hande gekry maar bitter min inligting oor Boeremusiek per se.

Ewenwel, sedert 1860 het ontwikkeling vinniger plaasgevind, kommunikasie het grootliks verbeter en derhalwe het Boeremusiek ook 'n plek onder die son begin kry. Die Afrikaner het meer gevestig geraak en dorpstigting was aan die orde van die dag. Mondfluitjies was nou baie populêr en elke tweede Boer het een gehad en kon hom baie goed speel! Dit is nou belangrik om daarop te let dat die musikante nou gewoond geraak het aan die Tweery chromatiese konsertina met sy 20 klawers/knoppies. Dit het natuurlik ooreengestem met die mondfluitjie wat presies dieselfde aantal note gehad het en ook chromaties was. Vir verskeie musikante wat aanvanklik die mondfluitjie bespeel het was dit derhalwe seker nie te vreemd om aanklank te vind by die nuwe en populêre Tweery Wheatstone konsertina nie. Meeste van die wysies van daardie tyd kon op 'n Tweery konsertina gespeel word en dit was eers later dat die 3¾ ry konsertina noodsaaklik geword het vir meer ingewikkelde komposisies.

Die eeu het nou gedraai en ons staan in die vroeë 20ste eeu. Met die vernederende Anglo Boereoorlog pas agter die rug was die Afrikaner finansieel en in getalle geknak. Dit sou hom 'n halwe eeu neem om te herstel. Maar dis juis in hierdie tydperk dat Boeremusiek sy grootste opgang beleef het.

Christiaan August Blignaut (Chris) begin in hierdie tydperk om die eerste volksliedjies op plaat vas te lê. Tydens hierdie opnames sorg hy ook dat musiek van die Boereorkeste op plaat opgeneem word by His Masters Voice (HMV). Hulle het gekleurde etikette gebruik vir die verskillende musiek genre. Daar is toe besluit dat geel die mees onpersoonlike kleur is en vir Afrika  — en Boeremusiek — gebruik sal word. Later het hulle oorgeslaan na groen.

 

 
 

 
 

'n Afdruk van die oorspronklike skildery van die bekende hondjie by die fonograaf waarvan die ou etikette vir His Master's Voice plate gemaak was

 

 
 

Chris Blignaut het ook die name aan die orkeste gegee wat op HMV opgeneem is, te wete Die Vier Transvalers, Die Vyf Dagbrekers, Die Vier Hugenote, Die Ses Hartbrekers en Die Vier Springbokke. Die Vyf Vastrappers het toe reeds opnames op die Regal etiket gemaak.  Nou is Boeremusiek op rekord geplaas en kon sy geskiedenis baie beter gevolg word. Bogenoemde orkeste was van die bekendste maar elke dorp en elke distrik het sy Konsertinakoning gehad. 'n Jonger geslag wat tussen 1920 en 1930 gebore was, sou Boeremusiek tot groot hoogtes voer.

Boeremusiek het nie in 1930 opgehou nie soos baie kenners wil beweer nie, maar het in werklikheid toe eers begin blom! Met die koms van elektrisiteit in hierdie periode het die tegnologie met reuse spronge vooruit gegaan en so ook die lot van die Afrikaner en sy musiek. Name soos Hendrik Susan, Willie Welgens en 'n menigte ander Boeremusikante het nou opgeduik en platemaatskappye het oor hulle voete geval vir opnames. Toe raak dit stil vir 'n wyle.

'n Nuwe oplewing het in 1978 plaasgevind toe die program Konsertinaklub weer ingestel is by die SAUK. In 1980 begin die TV Boeremusiekkompetisie, in 1981 word die Konsertinaklub van SA gestig en in 1989 die Boeremusiekgilde.

Die interessante geskiedenis van die konsertina strek veel verder as wat in hierdie boek aangebied kan word. Ten slotte derhalwe slegs iets oor die herkoms van die woord  konsertina soos verskaf deur Flip Delport.

Dit was waarskynlik Alexander Demain van Parys wat in 1839 die eerste keer die woord, wat in Afrikaans  bekendstaan as konsertina, gebruik het. (Hy verwys in 'n geskrif na vervaardigingsregte van 'n konsertina). Daarna vind ons dat die bekende komponis, Hector Berlioz, in 1844 onderskei het tussen le Concertina Anglais en le Concertina Allemand. Laasgenoemde verwysend na verskillende instrumente wat in Duitsland gebou is en eersgenoemde na die Wheatstone produk. Konsertina verwys dus eintlik na 'n familie van instrumente. Sir Charles Wheatstone het sy eerste konsertina eers in 1844 gepatenteer en teen hierdie tyd het hy self sy produk 'n Concertina genoem. Die woord Konsertina was teen hierdie tyd al vryelik in omloop. Dit is ook bekend dat 'n virtuoos van Wheatstone se instrument, Regondi, in 1840/41 sy Wheatstone instrument wat hy in 1837 bekom het, voorstel as 'n Mélophone maar in 1846 noem hy dieselfde instrument 'n konzertina.

 

 
 

 
 

V.l.n.r: Wheatstone se Aeola in 24 kt. Goud, 'n Bandoneon en die Chernitzer Konzertina

 

 
 

Wheatstone het nie slegs uitstaande produkte gelewer nie maar het ook instrumente volgens die spesifikasies van sy kliënte vervaardig. Tot vandag toe is die naam Wheatstone, een wat respek afdwing by konsertinaspelers van reg oor die wêreld. Wheatstone se patent was op hierdie stadium 'n instrument wat deur die trek sowel as die indruk van die blaasbalk dieselfde noot op een knoppie voortgebring het (monotonies). Dit het 4 horisontale rye aan weerskante gehad en al die halftone kon gespeel word. Die belangrikste uiterlike eienskap waaraan hierdie spesifieke konsertina uitgeken kan word, is die duimband. Dit staan bekend as die Wheatstone Engelse Konsertina. Die Standaard Engelse Konsertina het 48 knoppies gehad.
 

 
 

 
 

V.l.n.r: Hans Bodenstein en sy vyf Vastrappers; Carolina Leeson, Hans Bodenstein, Stol Leeson, Henry Zeller en Henry Kruger

 

 
 

 
 

Faan Harris en sy Vier Transvalers

 

 
  Bogenoemde artikel met dank uit "15 Goue Jare - 1989 - 2004" van die Boeremusiekgolde.  
     
  Terug