Begin jou eie
Erdwurmboerdery

 
     
 

Wurm boerdery is regtig een van die maklikste dinge om van die grond af te kry. Indien jy dit op klein skaal aanpak, let op die volgende feite:

- Jy sien nie resultate binne 2 weke nie!
- Jy gaan nie geld maak hieruit as jy dit op klein skaal doen nie. Dus is dit 'n stokperdjie, tensy jy baie spasie het om hierdie wel in 'n volskaalse boerdery te omskep.
- Hierdie erdwurms is NIE die ou vales wat in ons tuine is nie – dit is rooi wurms wat vinniger werk om voedsel af te breek en grond 'gesond' te maak. Moenie jou tuin erdwurms gaan vang en op hok sit nie – hulle sal dit nie maak nie!
- My blog adres verskyn aan die onderkant van hierdie artikel, asook my epos adres. Alles waaroor ek hier skryf, is te vinde op die blog, verskaffers ingesluit. Besoek dit asseblief, en vra as jy meer wil weet.

Om gratis 'tuisterapie' te ervaar, begin jou wurmboerdery as volg:

- Koop 2 bins. Dit moet swart wees. Plastiek bins met deksels is te kry by hardeware winkels, plastiek winkels, of Game en Pick 'n Pay. 'n Foto op my blog sal die leser presies laat weet waarvan ek praat. As jy egter nie 'n internet toegang het nie, die bin is 47cm x 42cm x 28cm en die deksel kliek bo-op vas. Swart, omdat dit donker onder die grond is. 'n Deurskynende of wit bin sal die proses binne die bin belemmer.

- Wormeries adverteer bins en wurms, wat wonderlik is as jy nie 'n vaardige persoon is nie. Dan kan jy die ekstra geld betaal, en die volledige sisteem kry. Kry Wormeries se adresse op my blog. Moet egter nie gefnuik of verwar word deur die kraan wat die sisteem bevat nie – ek dink met 10 bins op mekaar gestapel sal jy dalk meer vog uittap, maar dit is regtig overkill, soos die ingilsman sal sę. Twee bins vir 'n wegspring, is meer as genoeg.

- In een bin boor jy die kleinste gaatjies wat jy kan – al op die bodem langs, so 2-3cm uitmekaar. Pas die twee bins in mekaar, en daar waar die boonste bin 'n gedeelte het wat nie toegemaak word deur die onderste bin nie, boor jy gaatjies vir lugbeweging deur jou wurm vesting (dis steeds dieselfde bin met die gaatjies in die vloer wat nou kant gaatjies kry!)

- Wenk: boor die gaatjies op die bodem, van binne die bin, sodat die boorpuntjie aan die onderkat na buite uit die bin uitkom. Indien jy dit van buite op die bodem na binne boor, vorm dit 'n riffie aan die binnekant van die bin, rondom die gaatjie, wat verhoed dat die vloeistof sal uitloop in die 'vang bin'. Jy kan wel die ventilasie
gate teen die kante van buite boor, veral met die onderste bin as gids vir waar die gate moet kom.

- Sit twee velle koerantpapier op die bodem van jou wurm bin (die een met die gaatjies in). Die onderste bin is om mettertyd die 'wurm tee' in op te vang. Ook wurms wat 'ontsnap'deur 'n geboorde gaatjie (dis hoekom die gaatjies so klein moontlik moet wees), beland gewoonlik in die onderste bin, en kan dan weekliks gered, en
teruggegooi word.

- As jy 'n papershredder tot jou beskikking het, shred koerantpapier. Anders moet jy dit in lang, dun repe opskeur. Hoe dunner die repe, hoe gouer werk die wurms hulle weg daardeur.

- Week die koerante in water, druk die water uit, maak die koerant bollings los van mekaar, en gooi in die bin. Maak die bin so byna 'n kwart vol koerant skeursels. Die koerant moet altyd klam bly – maar moenie dink jy het nodig om dit te doen nie, die kondensasie en evaporasie en wurm aktiwiteite, sorg dat die inhoud altyd lekker koel en klam is.

- Neem 'n paar hande klam grond, en sprinkel dit bo-oor die koerantpapier. Potting soil is die veiligste, aangesien dit skoon is van spuitmiddels, slakpille ens. Hou dit in gedagte as jy 'n hand vol in die tuin neem – het jy onlangs gif gespuit of slakpille gegooi???

- Wurms is gek oor teesakkies. Koffie moer vind ek persoonlik te sterk, daarom hou ek by teesakkies. Rooibostee se blare en stokkies maak heerlike speelplek. Hou die sakkies na elke tee sessie eenkant, en as jy 'n handvol het, spoel dit onder die kraan uit (verwyder enige melk wat saamgekom het uit die koppie) en begrawe dit so effe in die koerant laag. Die wurms baljaar daar, en jy sal sommer eiers ook vind na 'n tyd.

- Bins moenie in direkte sonlig staan nie – die wurms is nie saunas gewoond nie. My een bin staan binne die huis, sonder 'n reuk van 'n soort! Jy kan jou bin selfs in die garage sit, en een maal 'n week gaan loer of alles reg is. Wees versigtig vir insekdoders naby die bin – die ventilasie gaatjies laat nie net lug in nie!

- PASOP vir kos. Die beste is om groentes in die mikrogolf gaar te maak, en dit heeltemal te laat afkoel voor jy dit in die middel van jou wurm bin begrawe. Die gaarmaak proses raak ontslae van enige larwes wat dalk in die groente of vrugte mag skuil. Ek gee my wurms tans so een maal in twee tot drie weke 'n lekker butternut wat
in skywe gesny is, en in die mikro gaar gestoom is. Te veel kos in die somer veroorsaak 'n gistingsproses en 'n stank wat vlieë lok. Op die blog is 'n lys van voedsel wat hulle kan verwerk, en voedsel wat gladnie naby die bin moet kom nie. Indien jy jou eie vrugte of groentesap maak, kan jy altyd die pulp wat geskei word van die sap, in
die bin gooi. Pasop egter vir sitrus, aangesien die olie in die vel, te skerp is vir die wurms se voorkeur.

- Kyk hoe vinnig hulle die groente verwerk, en voer hulle daarvolgens. Wurms eet ongeveer hulle liggaamsgewig in kos elke dag. Klein wurms sal lyk of hulle peusel, maar sodra hulle groot is, sal jy meer gereeld kan voer. Voer hulle eerder een skyfie gaar butternut, in die middel van die bin, in die middel van die koerantpapier
begrawe, vir 'n hele 30 dae as jy hulle die eerste keer kry, as wat jou wurms die kante uit vlug en jy hande in die hare sit en wonder wat aangaan. Hulle het regtig tyd nodig om aan te pas by hulle nuwe omgewing, en eet is nie prioriteit nie.

- Een maal 'n maand gaan ek met skoon hande in en werk die dinge effe deurmekaar. Net sodat die verwerkte inhoud nie kompakteer nie. Dit is ongelooflik hoeveel wurm eiers, babatjies en reuse wurms te vind is in die bin na 'n tyd.

- Vat versigtig aan die wurms, moenie bang wees nie, die laaste ou wat opgevreet is deur 'n erdwurm, se Hollywood fliek het nie eens die silwerdoek gemaak nie – dit is sommer reguit video rak toe! Gril bietjie, haal asem, en vat aan jou diere. Touch Therapy in Progress…

- 'Wurm tee' verskyn nie oornag nie. Dit word stelselmatig bodem toe gestuur met die ontbinding en verwerking van die bin inhoud en uitskeidings van die wurms. Ook die nutriënte van die groente en vrugte wat in die bin lę en kompos word, se sappe kom uiteindelik in jou onderste bin te lande. My eerste voggies het eers na 3 maande
geland! Moenie ongeduldig raak nie.

- Soos die wurms die beddegoed deurmekaar woel en laat opbreek, kan jy nog koerant en bietjies grond byvoeg om die organiese proses gelukkig te hou en die wurms werk te gee.

- Hulle klouter soms teen die kante uit – ek tel hulle versigtig met 'n tandestokkie op en gooi hulle terug op die beddegoed. Een maal 'n week kyk ek vir verdwaaldes in die onderste bin. Ek sorg dat daar so 'n repie koerant in die 'vang bin' is indien 'n wurm wanderlust gekry het, en tydverdryf soek. Te veel wurms teen die kante dui op 'n wanbalans – op die blog is daar 'n skrywe hieroor.
Maar moenie met landbou kalk lol nie, ek het eenvoudig eierdoppe so fyn moontlik gemaak, en oor die koerante gestrooi. Gevolg deur bietjies heuning om hulle rustiger te maak, en die probleem was binne twee dae uitsorteer! Ja, dit is interessant en mens kan lag vir die rate, maar as dit werk, werk dit!

- Ek stuur elke keer wanneer ek iets in 'n pot vestig of ontkiem, 'n wurm of 5 'met vakansie'. Hulle kry die geleentheid om buite die bin hulle taak te verrig, en wanneer die plant klaar gedra of geblom het, of uitgeplant word, is dit terug bin toe met die wurms (en enige nuwelinge) wanneer die grond uit die houers geskud word.

- 'Wurm tee' is geweldig ryk aan voedingstowwe. Gooi die vloeistof uit die onderste bin, en voeg water by. 2 Dele water, teenoor een deel wurm tee. Maak jou huisplante of troetelplante daarmee nat. Die resultate is duidelik sigbaar na 'n ruk.

- Sodra jy 'n volwaardige wurm boer is, en te veel wurms het, begin dit verkoop. Adverteer gratis op my blog, of gee vir jou buurman 'n paar. Jy kan besluit om 'n handvol wurms te laat aangaan met die bin, hulle eenkant sit, en die bin inhoud met potting soil te meng vir potplant grond. Dan het jy wurms en voedingsryke plantgrond
in een. Jy kan ook wurms op jou grasperk of in jou beddings loslaat – hoop net die die voëls los hulle uit.

- Neem nuwe koerante, sit die handvol wurms terug, en begin die proses van voor-af. Baie mense stapel bins op mekaar en laat die wurms deurkruip. Ek sien nie die nut daarvan nie. Daarvoor het ek hande wat vinniger is as 'n wurm se pas.

- Ek het my bin inhoud halveer deur wurms in 'n deurgesnyde wynvat te los, gevul met grond. Ek praat egter nog glad nie uit oor hierdie eksperiment nie, aangesien dit minder as 'n maand terug gedoen is, en ek nognie begin grawe het om te sien wat gebeur het nie. Hulle kry wel ook hulle pampoen…

- Jy kan egter meer bins aanskaf, en jou plaas verdeel. Die opsies is legio. Dit is nie 'n hond of kat wat elke dag aandag nodig het nie. Jy kan met vakansie gaan, solank daar 'n gaar butternut in die middel van die bin begrawe is.

- Hierdie boerdery is effe duur om van die grond af te kry as jy jou sente omdraai. Die bins kan net onder R100 elk wees, en ek het 30c per wurm betaal. My bestelling was 1 000 wurms, aangesien ek nie wou wag totdat hulle volwasse word en aanteel nie, ek wou sommer wurms sien as ek die deksel lig. Dit werk nie so nie, hulle skuil onder die koerante, maar deesdae as ek grawe, is dit 'n fees vir die organiese oog! Ek het rondgesoek en baie eposse en oproepe gemaak voordat ek wurms gevind het. Dit is deels hoekom ek die blog begin het – nou kan jy jou vrae en verskaffers op een adres opspoor. Van hulle stuur ook wurms per koerier!

- Gaan kuier op my blog www.vermiculture.wordpress.com Hierop is prente, metodes, vrae en antwoorde, verskaffer adresse, en sketse.

- Dit is 'n blogwerf waarop mense kommentaar en vrae kan plaas, en kundiges sal dit mettertyd antwoord. Leke en Meesters het die geleentheid om mekaar in te lig oor 'n baie belangrike aspek van ons aarde – hoe meer organies ons begin om ons eie agterplase te bedryf, hoe beter vir onsself, en die omgewing. Niemand behalwe ons self sal verantwoordelikheid aanvaar nie – ons hoef net rondom ons te kyk na die agteruitgang en verval om te besef dat die omgewing en die natuur op die agtergrond geskuif is en nie sommer weer prioriteit status onder die leierskap sal bereik nie.

- Oom Peter wou by my weet hoekom mens sou geld uitgee vir iets wat jou nie geld in die sak sal bring op klein skaal nie. Eenvoudig vir 'n natuurmens om die antwoord daarin te sien, maar ek brei uit: hierdie is jou kans om in jou eie agterplaas, 'n organiese manupilerende houding in te neem, en volgens die kenners (ook die Mount Nelson Hotel wat al hulle verwerkbare produkte aan derduisende erdwurms voer) produseer jy sterker, gesonder plante, wat groter, gesonder en meer geurige vrugte of groente sal lewer. Ek is te kort in die stokperdjie om dit te onderskryf, maar op die lange duur gaan dit jou absoluut NIKS kos om te onderhou nie, en as jy al jou skille en ou groentes vir die wurms kan gee, gaan dit nie vuilgoedblik toe nie, maar hersirkuleer jy soos 'n pro! Die blote satisfaksie daaraan verbonde, behoort genoeg rede te wees om jou eerste wurms aan te skaf.

- Vrae oor wurmboerdery kan op die blog geplaas word, of direk aan my by wormforum@gmail.com

-Adri M van Zyl