Geniet Jouself Nou!
deur Fien

Jy swoeg en sweet jou lewe lank
Jy's altyd op die draf.
Jy hoop jy's eendag ryk,
Maar wat help al die geldjies dan
Jy's oud en wil beswyk!

Die nuwe kar wil jy nou koop
Jy het dit lank beoog.
Die reëntjie is jou laaste hoop -
Die wêreld bly maar droog.
Maar eind'lik is die redding daar
Van nou af gaan jy WOEL,
Maar wat help nou die kar vir jou?
Jou huis het weggespoel!

Jy dink nou aan die tafsy rok
Dis net die nuutste styl.
Jy tel die hoenders in die hok
Daar's werk nou vir die byl
Die laaste kop word afgekap
Genade is daar geen.
Spog jy nog met die nuwe rok?
Jou buurvrou het ook een!

Jou mielies het jy klaar verkoop
Jy's mos 'n flukse boer.
Jou troupak moet weer dien vir doop
Jy spaar om te gaan toer.
Jy plan al jare vir DIE dag
Geen haas - jy's nog gesond.
Maar wat help al die uitstel nou?
Jy's ses voet onder grond!