Die Kappiekommando Kompeteer
deur Fien
Die dames van Koster besluit toe mos om 'n rewolwerklub te begin

Die volgende artikel deur Fien verskyn op 14 Mei, 1958 in die Koster en Swartruggens Herout

Gewapen met veldkykers, selfvertroue en tien patroontjies elk het die dames van die Kosterrewolwerklub verlede Vrydagmiddag op die skietterrein van die Noordelike Skietkommando bymekaargekom vir hulle eerste skietoefening, maar dit was nie lank daarna of die verbygangers het lont geruik en gou-gou was daar 'n groot skare mense wat gekom het vir, soos hulle vermoed, 'n braaivleis, (want die skietterrein is 'n deel van ons dorpskamp). Hier moes ons egter die belangstellendes teleurstel want die nodige voorsorgmaatreëls ter beveiliging van die lewende hawe in die kamp was alreeds getref - dus het daar geen moontlikheid van 'n braaivleis bestaan nie.

Op die skietbane aangekom, moes ons in twee rye en op dubbelpas na die skyf marsjeer, maar hier het dinge egter byna in 'n oorlogstoestand verkeer, want sonder waarskuwing is daar 'n paar skote met buskruit geskiet, nie om ons in verwarring te bring nie, maar om die noodsaaklikheid van bewegingloosheid duidelik te maak. Die gevolg was dat wanorde onder ons losgebreek het en binne 'n paar sekondes was al die skutters op die loop gejaag, en hulle het hulself agter die eerste en beste beskikbare dekking verberg.

Hierdie voorval het ons baie senuagtig en prikkelbaar gemaak, en baie geduld, sagte behandeling en takt moes aan die dag gelę word voordat ons weer selfvertroue gehad het.

Die skyf, met 'n kol van omtrrent 1 1/2 duim in deursnit, was op 'n afstand van 600 jaarts geplant, en ons was daardeur genoodsaak om ons veldkykers (streng verbied) te gebruik voordat ons kon korrel neem, sodoende moes ons dan die vereistes van skietbaandisipline verbreek want ons moes in seksies van drie in plaas van EEN op die front tree, nl die skut, 'n tweede wat die veldkyker gebruik om die punt waarna die skut moet mik te beskrywe en die derde wat moes dien as skietrus. Ongelukkig het een van die "rekrute" vergeet om die rigmiddele suiwer regop te hou, sy het albei haar oë styf toegeknyp en - gevuur, voordat sy uit die 'laai'-houding in die 'aanlę'-houding was.

Dit was toe besluit dat dit veiliger sou wees om ons verder af te rig in die 'sittende'-houding!

Daarna het ons geskiet sonder skyf en verskillende voorwerpe in die veld was gebruik as mikpunte.  Die "rekruut" met die veldkyker het vier mikpunte beskrywe, en na die bevel van 'vuur' het een van die mikpunte skielik in die lug gespring en die veld ingestorm. Dit was jammer dat hierdie 'mikpunt' oom Org se kampioenbul was, maar ons kon toe niks aan hierdie ou sakie doen nie. Gelukkig was daar een van die mediese tipes onder die belangstellendes, en nadat hy tevergeefs al sy kennis in eerstehulp aan die dag gelę het, was dit algemeen aangeneem dat daar tog braaivleis gehou sou word.

Verder was ons geleer dat die rewolwer op twee maniere gebruik kan word (a) as wapen vir een hand en (b) as wapen vir twee hande. Ek verkies natuurlik die tweehandegreep - sodoende  hoef ek nie korrel te neem nie en ek kan die 'lęende' skiethouding inneem, met die kolf as stut vir my ken!

Na die eerste rewolweroefening is ek oortuig daarvan dat daar nie EEN agterlike skutter onder ons dames is nie, en ek kan waarborg dat ons binnekort op bevel van 'snelvuur' sal kan staande laai, knielende korrel en sittende vuur - (standaardtyd een minuut!). En as die bevel 'vul magasyne' gegee word sal ons nie die rewolwers wegsmyt en na ons kosmandjies storm nie, maar sal ons direk weet dat die opdrag is om aan te lę en te skiet!!

Verder dat die terme 'oorgehaalde haan' en ontspan vere' niks met die henne in die hok te doen het nie!

(bogenoemde teks is onveranderd gelaat)

Meganiek van Rewolwers
(Leidraad vir 'Rekrute")

Korrelbeskermer - voëlverskrikker
Laai - bęreplek vir rommel
Veiligheidsknip - haakspeld
Ruste in Haan - tydperk tussen sononder en dagbreek
Koppelring - troupand
Snellerbeuel - 'spiedkop'
Rigmiddele - padverkenners
Uitgooier - baas van kroeg
Arm van veiligheidsknip - greep in stoei
Mikkorrektor - snoeiskęr
Romp - uitsluitend vir dames
Haan - oorsaak van kannibalisme onder hoenders