Beplan 'n suksesvolle kermis

Ons soek altyd vir nuwe idees om van ons kermisse 'n sukses te maak. Daar is toe besluit om soveel verskillende idees bymekaar te kry en dit op een bladsy saam te sit. Wie weet, miskien help dit om van julle kermis 'n sukses te maak.

Ek het hierdie bladsy begin na aanleiding van 'n versoek van Larné Janse van Rensburg vir idees om 'n kermis "op te kikker" en meer interessant te maak. Sy het heelwat terugvoering gekry en toe het ek ook voelers uitgesteek en bydraes gevra. Hier is die resultate. Ek hoop dit help met die beplanning van julle kermis. Stuur asseblief vir my epos as jy kommentaar het of idees kan bylas.

Bemarking

- Ons het egter gevind dat 'n mens BAIE moet adverteer sodat mense van buite ook kennis neem van die basaar. Jou verkope is tog wat tel om geld in te samel. Dus het ons 'n plaaslike koerant genader wat vir ons groot plakkate gaan druk om orals op lamppale aan te bring en ons gaan ook in die omgewing se koerant 'n berig plaas. Ons het ook met 'n plaaslike afslaer gereël om na die basaar die items wat oorgebly het op te veil en dan kry 'n mens nogal "bargains". Dit geld gewoonlik die groot items soos skilderye ens.

- Ons het met die "2 dae" konsep begin verlede keer en dit was 'n reuse sukses so dis 'n beslis vir die keer ook. Ek doen die bemarking en is verantwoordelik vir die stalletjies. Bemarking is nie regtig efektief behalwe 2 weke voor die tyd by ons nie. Daar is te veel plakate in ons omgewing weekliks en mense ignoreer dit. Basies sien hulle dit eintlik nie eers meer raak nie. Ons gebruik altyd Beeld se plakkate en druk ons kermis advertensie daarop. Baie simplisties maar so groot as moontlik. Dit moet baie sigbaar wees as die mense verbyjaag. Verder adverteer ek op die radio, en het ek "banners" laat maak wat 6 meter lank is en 1.2 breed. Dit sit ek vir so 4 weke voor die tyd op verskillende plekke, net vir bewusmaking. Ek druk ook pamflette om by al die skole, ouetehuise, koshuise, en sommer op die donkie se begrafnis ook uit te gee. Ons maak plakate vir ons karre en sit dit in die vensters. Ons hou worsbroodjie verkope vanaf 'n bakkie die week voor die tyd deur by die huise langs te ry en maak vreeslik lawaai met 'n megafoon. Dit irriteer die grense uit almal uit, maar hulle vergeet nie. En as jy so bohaai maak voor die tyd, is almal in elk geval so nuuskierig dat hulle die dag opdaag. Ek het vir Remax (eiendomsagente) gevra en hulle het 'n warmlugbalon gratis geskenk. Die winste was ons s'n. Wind is net 'n risiko en die ding kan nie altyd opstyg nie. Kyk bietjie of daar nie een in julle omgewing ook is nie.

- Ons het uit vorige jare geleer en NIE meer flooimark stalletjies nie. Die winste gaan dan na die mense toe en die kerk kry net 'n klein persentasie.

- Mens kan items van sportmanne kry om op te veil (Getekende balle, hempde ens.) Verlede jaar het ons van daai groot ruimtetuie ens gehuur om die kinders te trek. Dit was great idee, maar geen wins nie so die jaar is dit uit.

- Dit werk altyd lekker as jy 'n potjiekos kompetisie het, dit bring gewoonlik die gesinne saam.

-Reël vervoer vir ouetehuisinwoners, of neem bestellings en gaan lewer daar af. Daar kan ook voor die tyd bestellings by besighede geneem word (eetgoed) en dan gedurende die oggend afgelewer word.

- Om mense buite die gemeente te trek het ons 'n pannekoek en boerierol tafel voor 'n besige winkelsentrum, met natuurlik die nodige advertenise vir die Fees. saam met elke aankopie kan ons 'n afslagkaartjie gee vir iets op die Fees om die mense soontoe te trek. Glo my, daardie tafels bly heel oggend besig!

- Betrek die omgeegroepe, hulle is die kern van die gemeente. Kompetisie tussen die omgeegroepe om te sien wie se projek bring die meeste geld in.
- Daar was 'n baardgroei kompetisie, die manne moes van Februarie af groei vir die fees in September. Pryse vir netjieste, ylste, grysste, langste ens. Manne wat reeds baarde gehad het moes "voorsprong" boete betaal, en die wat nie wou deelneem nie ook 'n boete. Dis 'n langtermyn kompetisie wat die kermis heeltyd vars in die geheue hou.

- Reel 'n gholfdag wat met die Fees saamval, kan die vorige of volgende Saterdag wees,

- Baie van die meer beroemde kunstenaars doen "charity events". Kontak hulle lank voor die tyd sodat hulle die datum van die kermis oophou.
- Kry die kermisgangers om "dubbel" te spandeer. Verkoop kaartjies lank voor die tyd vir ontbyt, spitbraai, konsert ens. Teen die tyd wat dit kermis is het hulle alweer geld!

- Reel kompetisies teen spanne van ander gemeentes. Die wenspan in elke kompetisie kry 'n wisseltrofee wat hulle dan by die volgende kermis mot verdedig. Sodoende kom daar meer mense kermis toe, hoe meer spanne hoe meer mense hoe meer wins.

- Spaar geld waar julle kan, kry soveel moontlik borge vir pryse, ens. As elke gesin in die gemeente een borg kan kry vir 'n prys of iets kan jullebaie pryse kry. Die groot probleem is net dat almal moet saamwerk en entoesiasties wees omtrent die projek. Dit is van uiterste belang dat daar nie net 'n paar moet wees wat werk nie, maar almal moet saamwerk.

- Bemarking is 'n groot MOET - gebruik die "snowball" e-pos idee. Deesdae het alle werkende persone toegang tot e-pos selfs tuis op hulle persoonlike rekenaars. Begin by jouself en e-pos 5-10 persone en adverteer julle kermis - nooi hulle uit en vertel so 'n bietjie van wat alles daar gaan gebeur. Laat hulle dan die e-pos verder stuur.

- Plakkate, strooibiljette is 'n moet [net nie te lank voor die tyd nie]. In elke gemeente waar ek nog was, is daar altyd 'n persoon wat òf 'n drukkersbesigheid besit òf by een werk. Reël met hulle vir die drukwerk teen kosprys of as julle gelukkig is sal dit gratis aangebied word.

- Wat ook gedoen kan word is kry borge [sponsorships] vir pryse vir kinders asook borge vir die nodige skryfbehoeftes en reël 'n wedstryd waar die kinders groot plakkate maak - die beste 3 kry pryse - en elke kind [kry vooraf goedkeuring by die skoolhoofde] kan dan sy plakkate by die skool opsit - wat 'n goeie advertensie is - want kinders kan hulle ouers tog te lekker "nag" om te gaan. Druk stelle van allerhande relevante prentjies vanaf rekenaarprogrammme "Greetings, Die Internet en "Master Clips" en gee elke kind dieselfde stel [sodat elkeen 'n regverdige begin het] en laat hulle dan verder mal gaan hiermee.

Eerste item op die kermis, laat almal 'n SMS afstuur na vriende en familie en nooi hulle uit na die kermis, dit kan ook 'n kompetisie wees met inskrywingsfooi, die een wat die selfde boodskap die vinnigste kan tik op hulle selfoon wen die prys.


Vermaak

- Ons beplan 'n springkasteel, en allerhande speletjies vir die kinders. Sou ook 'n water glybaan gehad het, maar weens waterskaarste is dit weggelaat. Ons het 'n paar gaskunstenaars wat kom musiek maak die Vrydagaand terwyl almal hulle stalletjies opslaan en uitpak en gaan sommer dan pannekoek en worsbroodjies verkoop en ook iets te drinke.

- Saterdagoggend van die basaar het ons iemand wat kom sing in die teetuin. Ons het ook iemand wat 'n versoekprogram gaan aanbied en dit gaan werk soos 'n radiostasie. Jy gaan gee jou musiekversoek op en dan speel hulle die plaat of CD vir jou. Luidsprekers is oor die hele terrein aangebring.

- Iemand wat die kinders se gesigte in diere gesiggies kan omskep of iets anders, iemand wat diere ens uit dun lang ballonne maak is ook 'n idee.

- Ek het ook een keer 'n kersmaak stalletjie gehad. Ek het verskillende kleure was in blikke gehad en almal genooi om hulle eie kers te kom maak. Dit was baie pret maar toesig is die hele tyd nodig. Ek het ook klaar gemaakte kerse verkoop maar baie mense het verkies om hul eie kers te maak.

- Ons het 'n "foefie-slide" en klimmuur gereël wat die Vry middag so 5 uur al begin funksioneer. Die jonklomp hou daarvan. Sovêr vir hierdie jaar beplan ons 'n "opelug konsert" met een beroemde gaskunstenaar en "locals" wat saam optree. Die spitbraai idee is ook onder bespreking en ons gaan dalk "potjiekos restaurantjies" hë wat so 20-30 mense kan bedien. Ons kry gasvrouens/manne vir elke restaurantjie en hulle is verantwoordelik vir alles. Ons voorsien net die vleis en groente. Hulle moet self ook hulle 30 kaartjies verkoop.

- Die Saterdag skop ons af met 'n "fun-run" van 4 km en ons het gelyktydig 'n 8 km "fun-cycle" in 'n ander rigting. Dit is so 7 uur. 8 Uur is dit verby en begin die kermis voluit vorentoe.

- Ook: baie mense hou hul trourokke: Dan kan mense hul trourokke kom uitstal teen 'n klein fooitjie, maar mense moet dan raai wie het daarin gepas: MAAK DIE TEMA; WIE SE ROK IS DIT DIE? Sommer net 'n paar lawwe idees.

-Wat van 'n kareoki vir die tieners. Hulle hou mos daarvan om te perform en sal betaal om te kan sing oor 'n mikrofoon.

- Ook skreeusnaaks is as mans aantrek soos ballerinas. Hulle skryf in vir die Beste Ballerina 2004. R10 per inskrywing. En dan het julle 'n beoordelaar.

- Hou 'n informele honde skou: Hond wat die meeste lyk soos sy baas, Hond wat so vet is soos sy baas,Hond met 'n temperament soos sy baas.

- Jong, ons kerk is die jaar sestig en ons het besluit om die kermis 'n
sixties tema te gee. Nou gaan ons groot. Vrydagaand is daar talentaand,
Saterdag 09:00 begin die kermis met waterwurm vir kinders, ponies, musiek, outydse karre, kompetisies vir oud en jong ens. Die aand het ons 'n sixties dans. Glo my did gaan groot fun wees en almal is opgewonde. Ons het 'n foto kompetisie - jy weet van ou foto's.

- Verder is dit altyd lekker om die kinders met avontuur speletjies besig te hou - bv gladiator baan of hindernis baan. Dan is die "nuwwer" speletjies soos boogskiet, en blaaspyltjies nogal lekker vir oud en jonk.

- Aand voor die kermis (ons noem dit Gemeentefees) het ons 'n verskeidenheidskonsert, die gemeente neem deel, soort van elke omgeegroep het sy eie item. Baie snaaks en suksesvol; en skep gees vir die volgende dag.

- Ons het valskermspringers gehad wat op 'n papierbord op 'n rugbyveld moes land, die borde is vir R5 elk verkoop, hierdie een was 'n wenner.

- Ons het kameelritte een jaar gehad en laasjaar 'n polisiehond vertoning.

- Wat van karwas die dag? Die jongklomp kan karwas vir so R20 per kar.
- Voorsien 'n teetuin met genoeg koelte waar die mense kan rus en gesels. Verversings word dan daar bedien.

- As die kermis op of naby 'n rugbyveld gehou word, hou 'n stelskop kompetisie. Dink jou eie speletjie uit, drie skoppe van verskillende afstande, die 5 beste skoppers skop dan uit vir 'n prys.

- 'n Tafel wat by ons basaar baie goed gewerk het was die sogenaamde wit-olifant tafel..Mense wil help met jou goeie doel of kerk maar het nie baie geld nie maar hulle gee dan hul oortollige dinge..Skilderye en prente is sulke items,skoene ,elektriese goed moet getoets word maar ek sê jou mense hou daarvan om in sulke goed rond te krap,

- Een sogenaamde grabbelton is ook gewild by die kinders. Koop klein goedjes en pak dit in en gooi alles in 'n groot vat of drom.aak die prys so dat jy jou geld met profyt terug maak.

- Prysskiet met windbukse is ook gewild. Ook kettieskiet.

- Stel 'n "pitching green" op vir die gholfspelers. Die ou wat naaste aan die pen "pitch" is die wenner.

- Laat iemand met 'n digitale kamera rondloop en heeldag fotos neem. Sy assistent neem dan ter selfde tyd bestellings vir 'n CD met al die fotos op.. Goeie wins want 'n CD kos minder as R10..

- Ons het stalletjies uitverhuur aan groepe in ons kerk soos byvoorbeeld die oggend en aand vroueverenigings, die vadersgroep, die moedersgroep, nasorggroep, die kleuterskool by ons kerk, die Jong Mensegroep, ensovoorts. Die stalletjies ['n plan moet vooraf opgestel word van die area/s wat vir die rede gebruik kan word] word uitverhuur vir 'n bedrag vanaf R80.00 to ?? afhangende van die grootte wat benodig word deur die groep. Hier moet 'n mens net versigtig wees dat jy baie betroubare mense aan uitverhuur, aangesien hulle ook 'n deel van hulle wins [tussen 20% en 50% soos bespreek tussen die twee partye] aan die kerk moet skenk. Hierdie persone moet dan ook vir julle eie benodigdhede sorg soos tafels, tafeldoeke, Gazebo's, die items of kos wat hulle wil verkoop, ens. Ons het gewerk op die basis van "first come, first choose" - sodra die groep sy huurgeld betaal - kry hy die keuse [op die kaart] waar hy sy stalletjie, teetuin, koffiekroeg, ens wil staanmaak. Groot areas wat gebruik word vir buitemuurse vermaak, wedstryde, ensovoorts moet duidelik op die kaart aangedui word - baie mense maak hulle keuses as gevolg van dit.

- 'n Kompetisie tussen die groepe of individuele huurders kan gehou word om te sien wie die grootste wins maak. Hiervoor sal 'n prys benodig word - Net 'n eerste prys!

- Ons het met die verkeersafdeling gereël vir die dag dat alle voertuie buite die kerkgronde parkeer sodat die hele kerkgrond beskikbaar was vir stalletjies, ens - hulle was wonderlik en ons het gereël met die teetuin om vir hulle 11 uur die oggend en 4 uur die middag 'n stukkie koek en koppie koffie te skenk. So het ons ook met 'n kosstalletjie gerëel om 1uur & 5uur die aand vir hulle etes te skenk.

- Ons het byvoorbeeld 'n persoon van buite gehad wat 'n "mini merry-go-round" [net vir kinders onder 10jaar] opgerig het - Ons het hom dubbeld die huurgeld gevra en geen wins nie aangesien ons nie beskik het oor 'n manier om hier wakende oog te hou nie. Ons het selfs die ouetehuis in die omgewing gehad wat 'n stalletjie gehuur het, asook ander instansies. Vir die instansies wat [Offisiële "Fund Raising" Nommers gehad het, het ons die stalletjies nog teen dieselfde prys verhuur maar hulle kon die wins hou. Hierdie mense het ook rondgegaan en gekoop en geeet en die algemene kermis "support".

- In die saal het ons ook 'n kwartuur uit elke uur 'n talentvolle musikant, sanger/es, kulkunstenaar, ens. [almal uit die gemeente en geen fooie betaal] laat optree sodat mense kon bietjie uitrus en ontspan. Toegang was maar so iets soos R1.00 per keer.

- Indien moontlik kry 'n stêr [wat vir "charity" dit sal doen] om op te tree of net 'n bietjie "glamour" te gee. Sy/hy moet of optree of net vir 'n vooraf bespreekte tyd 'n bietjie rondloop en met die mense meng. Hier word nie 'n direkte wins gemaak nie, maar stêrre trek mense soos blomme bye trek. Moet tog net iemand gebruik wat van vêr gebruik nie, want dan moet julle verblyf reël en betaal. Sulke persone moet darem taamlik beroemd, berug of wat nog ookal wees. Sepiestêrre, Sangers & Sangeresse, Sportstêrre, Musikante [veral orkeste], Kinderprogramaanbieders, ens. Die jeug is nie meer gepla oor oumens orkeste nie, vir hulle moet jonger orkeste en stêrre gebruik word.

- Ons het ook 'n "petting zoo" gehad met die normale bokkies, lammetjies, ens. Maar vir 'n verandering reël dat jy 'n Sjimpansee of Klein Leeutjie daar kry - dit trek tot die grootmense ook. Natuurlik word 'n ingangsfooi gevra. Neem ook fotos met 'n kind by 'n wildediertjie en die hulle gaan mal - "Polaroid" werk soos 'n bom - hulle koop hom dadelik want Maandag gaan hulle by hulle maats spog hieroor.

- Polisiehondeskou of gewone Hondeskou trek mense. Mense is gefassineerd wat diere kan aanvang - maak net seker hoe groot die area hulle nodig het vir hulle vertoning. Kry van doe plaaslike hondeskole om te kom spog met hulle "leerlinge"

- Bangmaak goed is 'n trekpleister - Slange, spinnekoppe, ens. Reël vir so 'n vertoning met iemand wat dan sommer met die vertoning ook 'n les gee in hierdie verband.

- Onthou om altyd met die Rooikruis te reël vir hulle teenwoordigheid - dit is gewoonlik gratis en alhoewel hulle dit nie verwag nie, gee ons maar altyd vir hulle 'n teetjie en etes. Dit word regtig opreg waardeer. Hulle is regtig 'n groot hulp. Mense word moeg, flou, voetseer, sonbrand, ens. en hierdie mense is daar met hulp.

- Visvang - Groot bad water met vissies in wat aan magneet kan klou, (skuifspeld?) Visstok het magnet aan end van lyn. Visse het elk 'n nommer en pryse is ook genommer. Klein pryse het baie nommers, groot prys net een nommer. Vra inskrywingsfooi vir elke probeerslag.

- Ring gooi - Bord met "dowelsticks" in van verskillende lengtes, "dowelsticks" genommer en pryse ook, vra inskrywingsfooi vir elke probeerslag.

- Reël 'n motor gymkhana. Stel 'n hindernis baan op die sportveld op, tussen pale om bale ens. Vorentoe en in trurat, bestuurders moet uitspring en om motor hardloop, ens. Hulle ry teen die tyd, maak 'n fout en tel tyd by. Bestuurder wat in die kortste tyd klaarmaak wen. Om grasperk te bewaar mag wiele nie tol nie, anders word tyd bygetel. Hierdie is groot pret en toeskouer waarde. Deelnemers betaal inskrywingsfooi om deel te neem.

- Reel ‘n properse "Ready steady Cook" kompetisie tussen 3 spanne( as kan betrek ander gemeentes om so buite fondse in te bring.)
Kry ‘n borg van plaaslike supermark. Verkoop kaartjies.
Prys: Ete vir wenner en ‘n wisseltrofee(natuurlik self gemaak deur ‘n kreatiewe persoon, bv: ‘n primus stofie wat mooi geverf is en onder is plek vir naamplaatjies)

- Hou ‘n kinder teetuin: Kinders bak vooraf koekies, beplan en doen hele teetuin op ‘n middag vooraf en bedien self : Teikenmark: Ouer persone in gemeente wat graag wil uitkom en iets doen op ‘n middag.

- Koekversiering vir pa’s; Elke wyk moet ‘n pa inskryf: aantal koeke word vooraf gebak en pa moet beplan, voorraad self bring en dan versier. Tema’s werk goed. Kaartjies word verkoop deur kykers( daar kan eers uitdunne gehou word. Koeke word geskenk aan een of ander organisasie. Wenner ontvang klein prys en wisseltrofee.


Kos

- Ons het eerstens 'n basaarontbyt gereël vir 150 mense 'n week voor die basaar en al die kaartjies is so te sê verkoop.

- Ek het die lekkergoedstalletjie die jaar en beplan om dit baie kleurvol te maak. Ek het 'n groot (3 meter) sambreel gekoop wat ek ook in my tuin kan gebruik en gaan die rant versier met verskillende kleure ballonne aan 'n lintjie wat ek agterna vir die kinders gaan gee. Bo-op die dak gaan ek groot lekkergoed vasmaak wat ek van plat kartondose (die waarin die blikkies koeldrank en drank kom) gevou het. Alles baie kleurvol. Gekleurde kreukelpapier kom oor die tafels.

- Die Vrydag-aand is 'n gemeente bymekaarkoms en ons het basies net 2 groot ete strome. Een vir die groot eters ('n spitbraai met slaaie en pap en so aan) en een vir die kinders (hamburgers). Ons bemark die kaartjie vreeslik en verkoop dit voor die tyd. (Speel natuurlik op almal se gevoel en sê daar is net 200 ete kaartjies beskikbaar....natuurlik verkoop ons 300)

- Hierdie jaar gaan ons 'n groot ontbyt doen vroeg die oggend wat saam die funrun gaan.

- Mens bak mos altyd pannekoek by 'n basaar en die wat flop kan julle ook 'n kompetisie mee hou. Wie die meeste pannekoeke kan eet. Maar ook weereens is daar 'n inskrywingsfooi (hou dit laag) want 'n pannekoek kos tog min. Jy sal verbaas wees, pannekoeke is baie ryk, dus dink 'n ou jy kan baie eet, maar jy kan nie werklik nie. Veral as hulle klaar gekuier het by die koektafel en kostafels op daardie dag.

- Die gemeenteontbyt word ook baie goed ondersteun. Dit was een van die omgeegroepe se projek.
- Instede van 'n potjiekompetisie - reël eerder 'n ketelbraaikompetisie [Weber] - gee vooraf die protokol en reëls soos bv:
[a] 'n Vroue-afdeling - [Kry borg vir 'n prys;
[b] 'n Mans-afdeling - [Kry borg vir 'n prys; en
[c] 'n Algehele wenner [òf man òf vrou - [Kry borg vir 'n prys!
Nog reëls: Laat elkeen 'n regverdige begin kry deur 'n reël te maak dat net hoender [of wat ook al] gebruik mag word.
[Dit is maklik om kotelette, wors, ens te braai - bogenoemde maak dit meer interessant]!
Elke deelnemer moet sy eie Weber voorsien asook die vleis en wat ookal hy/sy benodig.
Hoender is blykbaar die goedkoopste maar miskien kan julle 'n slaghuis kry wat dalk ander vleis kan borg.
Na die wedstryd kan hierdie vleis dan verkoop word - wat meen dat die kerk 'n wins daaruit kan maak.

- Spitbraai, kaartjies kan voor die tyd verkoop word om werkskapitaal te kry vir kermis voorbereidings.

- Kosstalletjies wat voorheen 'n sukses was:
*1 Stalletjie gaan net Boereworsrolletjies, "Hotdogs" & "Hamburgers" verkoop. Die kinders is meer geneig tot hierdie kos.
**1 Stalletjie - Teetuin - koffie & tee & milo met 'n stukkie koek of tert of 'n skon, "flapjack" of "muffin"
***1 Stalletjie gaan net Kerrie en Rys verkoop - Mild & Hot.
****Die weberkompetisie se vleis gaan by 1 stalletjie verkoop word waar daar pap en/of slaaie as bygeregte is. Daar is braaivleis wat hier gaan verkoop word.
*****Daar is 'n stalletjie wat lekkers, "crisps" en spookasem verkoop.
Ons het nie 'n poedingstalletjie nie aangesien ons voorheen gevind het dat dit nie so goed verkoop nie.
******Hulle kan altyd 'n stukkie koek gaan koop of roomys wat ook beskikbaar is by 'n ander stalletjie. Die koeldranke en vrugtesap word ook by die roomysstalletjie verkoop.
*******Natuurlik die immergewilde pannekoek stalletjie.

-Hier is 'n reseppie vir kinders se fondsinsameling en entrepeneurs dae. Almal is mal oor die soet springmielies en die kleure kan gekies word om by 'n tema te pas - dit kos nie 'n fortein nie en kinders kan selfs help om te maak

benodighede
45ml olie
250ml springmielie pitte
500ml(260g) versiersuiker
50-75ml warm water
voedsel kleursel

1. verhit olie en spring 'popcorn'
2. laat afkoel in groot bak
3. meng versiersuiker en warm water tot 'n dun 'glace icing'
4. gooi voedsel kleursel in na smaak
5. gooi die 'icing' oor die koue popcorn en meng baie goed tot alles bedek is.
6. sprei op bakplaat\skinkbord in enkel laag en lug droog vir 5-6 ure.
7. dit vorm 'n heerlike 'crisp' lagie verpak soos verkies
Dankie Amanda


Terwyl ek by 'n Laerskool se OOV betrokke was, het ek 'n Kompetisie gehou wat gedurende die Skool Kermis plaasvind. (Hierdie ikdee kan ook by 'n kerkbasaar gebruik word met die verskillende Omgeegroepe wat teen mekaa meeding)

Betrokkenheid van ouers, kinders en familie om nie eens te praat van onderwysers nie, is altyd 'n hengse probleem. Ons het toe 'n plan beraam om "gees" te skep deur al die klasse te laat deelneem.Ons het die klasse se onderwysers/verteenwoordiger laat trek uit 'n verskeidenheid van lande en hulle moet dan kos voorberei wat vanuit hulle stalletjie vertoon/uitgestal/vervaardig/verkoop word. 'n Paneel be-oordeelaars ken dan punte toe vir oorspronklikheid, kleredrag, prys van kos/eetgoed, aanbieding en algemene gevoel van "kliente". Die persoon in beheer moet net seker maak dat daar nie botsings plaasvind as twee stalletjies 'n produk wil verkoop nie!

Voorbeelde van idees:

Frankryk 'n Hoender kwart, skyfies, slaai en rolletjie.
VSA Hamburger (alle soorte) en skyfies
China Springrolls, Bowties en Egg-Fu yong ….soos boere dit maak!
Kanada Roooooomyse te kus en keur
Nederland Alles wat soet en lekker is….fudge, koek, terte ens.
RSA Vetkoek met vulsels, nie net kerrie nie, enige ding ender die son EN boeretroos!
Engeland Tea, my dear and pancakes, flapjacks etc.
Indië Kerrie en rys ens

Dit is maar die basiese dinge, maar is dit pret vir almal! Dit was 'n reuse sukses, want almal het gehelp stalletjies bou, klere soek wat pas en om "ons" land se dinge na te slaan het sommer ook bietjie leer by die pret gebring!

As voorloop vir die Saterdag Pretdag is daar Vrydag aand 'n Mnr en Mej Kompetisie gehou asook ope item vir die Pa/Ma/Oom/Tannie wat oorspronklik kan wees! Saterdag tydens die Kermis is daar so 2 Rugby en Netbal wedstryde om mense te trek en rondom 12h00 trek twee-twee spanne Pa's tou om die Top klas Pa's te kroon. Reuse opblaas glybaan sorg heeldag vir pret, want dit kos maar net 50 sent (x 100 keer deur die dag!)

Saterdag na die Kermis, gou skoonmaak voor die Groot Skerm Rugby en 'n Sokkie.
Sondag oggend sê ons dankie aan die Vader met 'n kort diens.