| |
“DRINK jy daggatee?”
Ek stik aan my koffie en kyk die seunskind van my stip aan.
“EKSKUUS??!! Waar kom jy daaraan?” wil ek verstom weet.
Meneertjie kyk nie eens op van die graad twee huiswerkboek nie. “By die
skool,” sê hy nonchalant. En kleur verder in, sonder enige benul van die
emosies wat sy ma se binnegoed soos ʼn tuimeldroër laat rondtol.
Die gedagtes spin, want hoe benader ek nou dié te vroeg kwessie. Ek het
darem gedink ons sal eers skuins voor tienerstadium die dwelmpraatjie
hoef te hê.
Maar voor ek die hele bedryf kan aanpak, kyk hy met ʼn diep frons op.
“Wat is dagga, Ma?” En ek sug ongemerk, verlig tot in my tone.
Ek verduidelik toe dis plante wat mense rook.
“Hahahahaaaa,” skree Broer en Suster gelyk. “Hoekom, is hulle stupid?
Mense wat plante rook..hahaha.”
Dis nie die plek of tyd om toe te sê dat daai plante mense vreeslik
anderste laat voel nie, want dit sou hulle net verder verwar. Hamer maar
toe op die POLISIE en DIE TRONK waarnatoe jy gepos word as jy so stupid
wil wees om plante te rook. En daar daal weer ʼn kalmte oor die
huiswerktafel neer.
“Ugh,” kreun die jongste terwyl die potlood omtrent buig soos daai plomp
vingertjies hom vasklem.
“Hoe spel mens Christopher,” wil sy weet.
Ek dog sy’s besig om te oefen aan alle woorde wat met ‘g’ begin. Vanwaar
dié naam? Is die onnie waansinnig? Graad Eens wat met sulke…
“Di-ii-is haar boyfriend,” koggel die Broer.
Ek dog my hart gaan staan. Werklik. Ek het nie krag om nou al met sulke
nonsens te probeer byhou nie. ʼn Boyfriend, in graad een. Ek gaan dit
verloor. Ons gaan trek. Geen kontak meer met enige van die suf
samelewing nie.
“Is nie waar nie, hy’s my vriend. Ek skryf net vir hom ʼn brief,”
verdedig sy.
En toe vertel sy van die Christopher en hoekom hy haar vriend is.
Die meisiekind van my maak nie maklik vriende nie. Inteendeel, glad nie.
Ek verstaan nie regtig hoekom nie, want sy is die happy een, die een wat
soos ʼn hondjie by oop motorvensters met toegeknypte oë sing saam met die
wiele rol. “Visvang vir Jesusss, visvang vir Jesusss’ of ‘Jesus lafs mie
dis aai nou” al die pad, sonder ophou.
Haar eerste maande by die preprimer was nie lekker nie. Alleen onder ʼn
boom gesit en net gekyk wat al die ander jillende malende kindermassas
doen.
Maande lank. En toe kom sit Christopher eendag langs haar. Net sommer
gesit en niks gesê nie. Saam vir die ander gekyk. Niks gesê nie.
Dit was verlede jaar. ʼn Liefde wat so lank hou verdien op die stadium ʼn
brief, dink sy.
En met trane wat baie vlak in my keel sit, wys ek vir haar om sy naam te
skryf. ʼn Uur se werk en die eerste liefdesbrief in my dogtertjie se lewe
is klaar.
“Liewe Christopher, ek is baie lief vir jou.”
Dis so mooi, het ek geprys en gevoel hoe my hele wese swel van trots.
“Sal jy sy ma bel, vra sy na ʼn rukkie.
Want sien, Christopher is nog in die preprimer en kan nog nie lees nie,
dan moet ek sommer vir sy ma dit lees. En dan hou sy dit tot hy volgende
jaar ook graad een toe gaan.
Wie’t nou daggatee nodig? |
|