| |
‘n Staande ovasie vir mnr en mev Vernaam
Graag wil ek die volgende weet.
Wat gebeur agter die Eersteklas Gordyn?
Waarom word dit toegetrek sodra ‘n mens in die lug is? Is die Vername
Passasiers bang vir Ekonomiese Klas se armgat kieme wat dalk voorentoe mag
spoel?
Is die VIP’s bang ons steel hul sappies uit die kristalglasies wat hulle in
teenstelling met ons plebs se sommer -‘n -blik –in- die- hand kry?
Ek kan nie verstaan hoekom ‘n mens N$15 000 vir ‘n ietwat breër sitplek wil
betaal sodat jy silwer eetgerei in plaas van goeie ou plastiekvurkies kan
kry nie.
Toegegee, dit is nogal beknop in Meerkatklas waar jy beurte moet maak om te
eet, anders mash jy die ou langs jou se taai pasta met jou elmboog. En jy
strompel wel met dooie bene van die vliegtuig af, veral as die aap voor jou
sy sitplek so ver agtertoe stel dat hy met sy kop op jou skoot lê.
Ten spyte van al hierdie wonderlike voordele wat dié in die voorste
gestoeltes het, lyk dit selde of die oorgrote meerderheid verhewenes dit
geniet.
Uit pure moedswilligheid steek ek my kop deur die gordyn en loer vir die
vername mense. En elke liewe een sit daar met die mees onvergenoegde
uitdrukkings op hul gesigte.
Miskien was die kaviaar suur, of dalk was die Moët et Chandon nie na wense
verkil nie.
Ek wonder of die lugwaardinne lootjies trek om te bepaal wie die stywes van
lip gaan bedien. Dit kan nie ‘n plesier wees nie.
Maar voordat ek verdere waarnemings kan maak, sien die wenner van die
waardinne my raak en sy verbleek.
Ek word na my stukkie sitplek teruggeboender en die gordyn word met mening
toegepluk.
Geld kan glo nie geluk koop nie.
Not true.
Dis dan juis die gebrek aan geld wat dikwels so diep ongelukkig kan maak.
Ek sal die vrolikste mens wees as ek kan ontspan oor my finansies.
Ek wil nie ‘n mansion of die nuutste Merc hê nie. Ek wil ook nie elke ses
maande oorsee gaan vakansie hou en in vyfster hotelle bly nie.
Daar is ook geen jaloesie van my kant af teen diegene wat dit wel kan
bekostig en dit met oorgawe geniet nie. (Bless your wealthy hearts!)
Maar as jy so hoog vlieg dat jy snags nagmerries het oor jou overdraft, dan
is daar foute.
En dis gewoonlik ook hierdie hogere voëls wat aandring op spesiale diens en
voorkeur behandeling. Asof die res van die mensdom innig dankbaar moet wees
vir die bestaan van meneer en mevrou Vernaam.
In my waitressing-dae was ek meer as een keer lus om ‘n bord kokende paella
op sulke mense se groot koppe om te keer.
Hulle vind met alles fout. Of die mes het ‘n mikroskopiese stoffie op, of
die tafeldoek hang skeef. Die steak is te taai, te medium, te rare, te min,
te veel. Die musiek is te hard, te sag, te vinnig, te stadig, te etnies, te
jonk.
En jy hardloop soos ‘n besetene rond om almal gelukkig te hou terwyl jou
glimlag al stywer trek.
Dan kom die betaalslag en op ‘n rekening van tweeduisend rand kry jy ‘n hele
twee rand en ‘n paar sente.
Jy kners op jou tande en maak ‘n mental note om die volgende dag jou kettie
saam te bring sodat jy soortgelyke mense met hul belaglike tips kan skiet.
Hard en aanhoudend. Met kleingeld. Totdat daai snob bubble bars.
Moenie gaan uit eet as jy in ‘n erge mood is nie. Dit is mos nou vir
moeilikheid soek.
Niemand stel ook belang in die luide verkondiging van jou Laaste Oorsese
Reis toe die Weer Net Absoluut Aaklig was en Niemand Hulle Ingevoerde
Skipakkies kon afshow nie, want daar in Aspen is daar soms die Vreeslikste
Sneeustorms. Maar gelukkig het Ons ‘n Cabin. Weerbestand, met ‘n Heeerlike
Kaggel vol Vars Dennebolle.
Die volgende keer wanneer iemand so praat, gaan ek wag tot hy asem skep en
dan gaan ek kliphard begin handeklap.
En BRAVO! skree.
|
|