| |
Wat ‘n simpel woord. Dit klink soos ‘n handleiding vir Lamaze-klasse.
Ek sien dit al. Petrossie? Petrossie,word wakker, hartlam. Die kontraksies
is ‘n minuut uitmekaar. Kry tog die hospitaalkoffertjie, Skat. En MOENIE die
hygroman vergeet nie. Waar en wanneer dink die groot geleerdes sulke
belaglikhede uit? Beste Kollega. U word, by wyse van spreke, genooi na
die jaarlikse Konvensie vir Afrikaanse Knutselary. Bring tog u heel
belaglike voorstelle vir die vernuwing van Afrikaans. En moet asseblief nie
u stywenek-gade tuis laat nie.
Ek het vrede met elke liewe skrywer se keuse van genre, maar ek sal darem
nie as die topverkoper van hygromans bekend wil staan nie. Noem dit dan
liewer ‘n liefdesverhaal en klaar. Plaas die ouderdomsbeperking op die
buiteblad en basta. Die woord 'hyg' is die katalisator. Waarom die
koorsagtige benaming? Sal die leser ‘n ernstige suurstoftekort ervaar? Ek
kan met alle eerlikheid sê dat ek nog nooit ‘n hygroman gelees het nie. Wel
uittreksels in resensies deurgelag en toe besluit het -- nooit in my lewe
nie. Ek het niks teen ‘n goeie storie nie maar om jou boek te verkoop op
grond van die 'gehygery' is net te erg.
Dalk was ons volk te lank onder die Swaard van Sensuur. Toe vlieg ons goeie
oordeel al hygend by die venster uit. Nou is ek seker op dun ys, maar om die
een of ander rede klink so ‘n gevryery op papier net nie reg in Afrikaans
nie. Dan lees ek ‘n duisend maal eerder ‘n liefdesgedig: yolande yolande
gee my jou hande. Dit is kuns. Dit is kos vir die siel. Dit is my
nederige opinie.
Afrikaans is so lekker soos ‘n ordentlike bobotie op ‘n honger aand.
Lekkerder as treinry en kondensmelk. Moet dit nie verplat en verpletter nie.
Met watter ander taal kan jy speel soos met ‘n legkaart en jou eie woorde en
sinsnedes bou wat almal verstaan? Die ete was nie net lekker nie, dit was ‘n
palatum-simfonie. Moenie jou vriend se rug krap nie. Tokkel
eerder jou vingers oor sy rugklawers. (Ja, dit is ‘n bietjie corny.)
My motortjie het gebreek en toe klap ons maar ‘n toontjie in
die teerpad af. Ek was gisteraand by ‘n 'do' en daar was die heerlikste
knabbelagtighede. O, die moontlikhede. Dink aan frases soos:
heeltyd-speeltyd; gat-oor-kop en een van my gunstelinge, sy lyk soos ‘n
likkewaan in ‘n t-shirt. Probeer dit in Engels?
Nou mag u dalk van mening wees dat ek dan juis die h-woord behoort te
ondersteun. Dat ek bevooroordeeld is. Tog nie, want die woord doen vir my
afbreuk aan die taal. Dit laat ‘n ongemaklike smakie in die mond. Ek moet,
tot my verleentheid, erken dat ek om die dood nie aan ‘n ander en gepaste
woord kan dink nie. Sweet-roman, dalk? Gits, nee. Wat van Koors-roman?
Liewer nie. En sê nou net die hyg-gebruik begin regtig posvat? Waar is
Mamma-hulle, Petros Junior? Sjjt, Tannie, hulle doen hulle hygwerk. Of: "Vanweë
die onvoorspelbare hyggewoontes van die Oos-Amalakietiese Bergmot, was die
ekspedisie na twee maande afgelas." Behoede ons.
Die gevolgtrekking: ‘n roman is ‘n roman. ‘n Liefdesverhaal. Of daar nou ‘n
gehyg is of nie.
Weg met die woord.
|
|