| |
DIE woord ‘tattoo’ is afgelei van die
Tahitiese woord ‘tattau’ wat ‘om te merk’ beteken en was die eerste keer
aangehaal in die joernale van die ontdekker, James Cook, tydens ‘n
ekspedisie wat hy in 1769 na die Suidsee gelei het.
Aangesien tatoeërings in Europese en Amerikaanse samelewings as eksoties
beskou is, het getatoeëerde Indiane en Polenesiërs in die 18e en 19e eeue
skares na sirkusse en kermisse gelok.
Tog is daar wetenskaplikes wat glo dat die merke op die vel van die “Ysman”,
‘n gemummifiseerde lyk wat uit 3300 v.C. dateer, tatoeëerings is, wat dit
die oudste bewys van dié kunsvorm maak.
Tatoeërings wat op Egiptiese en Nubiese mummies gekry is, dateer van voor
2000 v.C. en klassieke skrywers maak melding van die praktyk met verwysing
na die Grieke, die antieke Germane, die Galliërs en die antieke Britte.
Tatoeëring het verskillende betekenisse in verskillende kulture.
In die vroegste tye was versiering die algemeenste rede vir dié gebruik en
is dit vandag nog die hoofrede waarom mense hulself laat tatoeëer, maar in
sekere kulture het die merke gedien as indentifikasie van die draer se rang
of status binne ‘n groep, soos die antieke Romeine wat slawe en kriminele op
die wyse gemerk het.
Tahitiese tatoeërings dui op deurgangsrituele wat die geskiedenis van die
draer vertel, byvoorbeeld wanneer ‘n seun volwassenheid bereik of wanneer ‘n
man getrou het, is spesifieke tekens vir elke geleentheid aangebring.
Matrose het tatoeërings tydens hulle reise na eksotiese verafgeleë lande
versamel om as aandenkings te dien, byvoorbeeld ‘n draak wat wys dat die
matroos in China diens gedoen het, en gevolglik het tatoeëerwinkels in
hawestede wêreldwyd begin verskyn.
Die vroegste tatoeëermetodes het gewissel van skrape in die vel waarin
kleurstof soos roet gesmeer is tot prikmerke wat met skerp voorwerpe van
been of hout gemaak is.
In hedendaagse tye word tatoeëermerke geskep deur ink onder die vel in te
spuit met ‘n naald wat aan ‘n handbewerkte implement gekoppel is. Dié
implement laat die naald teen honderde vibrasies per minuut op en af beweeg
wat die vel ongeveer 1 mm diep penetreer.
Die ink wat agterbly, vermeng met die stabiele selle van die dermis en is,
met minimale verdowing, vir die res van die draer se lewe sigbaar.
Die pynfaktor wat saam met tatoeëering gaan, moet in ag geneem word wanneer
‘n persoon dié kunswerk wil laat aanbring.
Sommige mense beskryf die gevoel as kielierig, of om geknyp te word, terwyl
ander sê dit voel soos honderde bysteke of soos ‘n boor wat deur jou vel
gaan.
Indien die voornemende getatoeëerde probleme met inspuitings tydens
doktersbesoeke ondervind of ten aanskoue van bloed ongemaklik begin voel, is
dit beter om eerder tydelike of henna tatoeërings te probeer. Dié tendens is
veral in Hollywood gewild waar sterre, soos Madonna, hoog in die mode bly
sonder om deur die pyn en uitgawes van permanente tattoeëring te gaan.
Die area waar jy jou tatoo laat aanbring, sowel as die grootte daarvan,
speel ook ‘n groot rol ten opsigte van die pynfaktor.
Die laerug en die enkels is gewilde areas, maar dit is minder pynlik om ‘n
tatoeëring op jou bors of bo-arm aan te bring, omdat daar meer weefsel
tussen die vel en die been is.
Maak seker dat jy in alle opsigte gemaklik voel by die tatoeëerkunstenaar
waar jy die groot (en permanente!) stap neem. Kyk of die studio skoon is en
na ‘n professionele bedryf lyk en sorg dat alle naalde voor jou oopgemaak
word.
Moenie bang wees om vrae te vra nie en maak seker dat jy die versorging van
jou nuwe tatoeëring noukeurig nakom. Die tatoeëerkunstenaar is veronderstel
om jou hieroor in te lig, maar indien jy enige twyfel het, bel gerus jou
huisdokter.
En laastens, onthou dis ‘n permanente kunswerk en wat op 18 hiper-cool is,
gaan op 50 dalk so ‘n effe verkeerd lyk! |
|