| |
EN vandag ‘n baie spesiale woordjie van dank aan die spietkop wat nou
die dag geskitter het in sy afwesigheid en daardeur kwaaivriendskappe in
die Erosverkeer tot stand gebring het.
Ja, dit was koud en dit kan nie die mees verbysterende aangename werk
wees om van 7 uur soggens vir ‘n volle 15 minute die gapende ouers en
kinders jy-mag-ry-hey-jy-moet-bly-tekens te gee nie.
Maar ons het jou nodig, meneer, want ons kan nie vir onsself dink op die
pad nie.
Dis ‘n wêreldbekende feit dat Namibiërs nie die mees geduldige
padgebruikers is nie. Min indien enige van hulle weet van ‘vleg.’ Dis
nou wanneer jy die grootsheid van gees en welwillendheid het om sowaar
toe te laat dat die ander ou eerste ry of sê maar na ‘n rugbywedstryd,
met die strome karre uit alle windrigtings, BEURTE MAAK om te ry.
Maar hoekom sal ons dit nou wil doen? Dit sal beslis blywende skade aan
die opgeblase egos rig indien plaaslike motoriste nie op die ou voor
hulle se agterente kan ry nie, verskeie vingertekens en handgebare as
maatreël vir uitstekende bestuursvernuf mag beskou nie en nie meer
‘eerste’ kan wees nie. Hoe uiters belaglik.
Maar terug by oom Spietkop voor die Eros Laerskool. Laasweek moes
tweehonderd werkers beslis afdanking in die gesig staar omdat hulle ‘n
halfdag laat was vir werk. En dit oor die oom se afwesigheid en die
onvermoë om…ja, reg geraai, te vleg.
En dit bring my by die volgende teikens van my argwaan. Hoe dink jy,
tannie met die reuse kar, moet die res van ons verby jou hengse agterent
(jou motor s’n…voor ek weer gedagvaar word) wanneer jy halfpad in die
middel van die DUBBELBAAN-inrit by die skool stilhou om jou spruitjie af
te laai? Sodat die verkeer van die skoolhek af so begin ophoop dat mense
tot in Okahandja en Rehoboth tot stilstand gedwing word. Maak dit
werklik vir jou sin?
En oom met die intimiderende bakkie, jy spin so mooi op die klippertjies
op die parkeerarea, maar kyk tog volgende keer in die truspieëltjie na
die getjipte ruite en die gewonde kinders wat in jou stofwolk agterbly.
Gelukkig is hier ‘n Reikiman oppad Windhoek toe en soos ek van dié
bedryf gelees en gehoor het, is hy as’t ware ‘n spietkop vir die psige.
Miskien is dit wat ek kort, om net weer die aanwysers hier binnekant
raak te sien. Want dit wil my voorkom of ek besig is om oud te word,
geestelik meer as fisies. Vergeet van die ses (ek het hulle self getel)
grys hare wat my verlede week in die spieël verblind het, vergeet van
die plooie om die oge en die mond. Dis die nie-meer-lus-nie van die gees
wat my bang maak. Waar is die dae wat ons in die kar gespring het om
voor die son by Swakop te wees. Om net tot daar te ry, te sug oor die
mooi en dan terug te ry. Deesdae moet ons in diepte beplanning doen net
om Avisdam toe te gaan. Oor en weer kuiers is uit as die pêl verder as 5
kilometer van my huis af bly. Slegtigheid, niks anders nie.
En toe, asof iemand ons treurmare vir ‘n slag as ‘n saak van diepe erns
besef het, kom sing Rodrigues vir ons op Otjiwarongo. Maar dis ‘n storie
vir ‘n ander dag. Sal die spietkop môre op sy pos wees? Maak dit regtig
nog saak?
Ek wonder...
|
|