| |
EN
so val die
heldinne.
Die Engelsman sê ʼn woestyntroue is hoe dit gaan wees.
Ek weet nie of ek moet lag of huil nie, maar terwyl ek besluit, moet ek
solank begin met die beplanning, sê die Ridder.
Die oumense sê nie verniet die liefde kom soos ʼn groot maagkramp nie.
Dis eintlik erger, op my gevorderde ouderdom. Amper soos masels gemeng
met hogere koors en ʼn bietjie dronkverdriet.
Ek bel vir Saartjie. Bierhuis toe. Nou. “Bring papier. En pen. En brein,”
sug ek.
“Wat iddit,” brom sy. “Ek id verkoue.” En sy gee ʼn allamintige snuif.
“Ek trou. In die woestyn, glo. Kom help.”
Teen die tyd wat sy haar by die tafeltjie neerplak, is die verkoue
skoonveld, maar die oë is wyer as bierbeker-bodems.
“Is jy mal,” vra sy uitasem.”Hoe kan jy weer so ʼn fout maak?”
Ek maak haar vinnig stil en ruk die vars tydskrif uit.
Dit lyk of sy ʼn toeval gaan kry. Haar mond gaan oop en toe, maar nie ʼn
enkele geluid kom daar uit nie.
“Ja, ja, ʼn bruidsboek, ek weet. Dis nié hoe ek is nie.”
En ek begin vertel hoe my suster van kleins af die een was wat gedroom
het van die gevolg en die wasige wit rok en die duiwe en die koets en
die wat ookal.
Nie ek nie. My troue was kaalvoet in ʼn laprok met ʼn pap strooihoed op
die kop. In Sabie voor die magistraat en twee Zoeloes as getuies. Ons
het sommer die ringe teen R10 stuk by die soewenierswinkel langsaan
gekoop. En die orgidee voor die gebou gepluk vir die ruiker. Na die tyd
hanniemoen in ʼn tent langs die rivier met die watervalle gehou.
Want dis hoe ek is. Te veel frille en anderste valle maak my benoud.
“Maar kyk nou? Ek is soos een op verkeerde pille en my kop staan wasig
en wit toe.” Ek kyk vir Saartjie met smekende Basset Hound-oge aan.
En dis nie lank nie toe gons dit oor dié groot affêre tussen die duine.
Ons ‘bou’ net daar ʼn rok uit al die gesteelde boek-idees. Ons teken en
beplan en gesels en nooi sommer vreemdelinge na die jolige bedryf.
Spitbraaie met slaaie en brode en ellelange tafels, kelims vir piekniek,
lanterns teen die duine, wierook en vreugdesvure oral oor. Bottels
vonkelwyn en aarbeie met room, (ons gaan immers nou die huweliksdomein
met ‘n Engelse persoon betree).
Musiek, o watter musiek? Die Engelsman hou van rock en ek glo aan my New
Age-nommers. Hy sal gesokkie en ge-taai in ʼn swart pikkewynpak staan en
ek sal weer die kaalvoetding in ʼn flappende bont kleurlapperigheid doen.
Uitnodigings? Niks verhewe nie en geen trougeskenke nie asseblief.
Eerder kontantbydraes vir die Red-die-licheenfonds, of so iets. En kyk
nou net, dit gaan ons omtrent niks kos nie, tweehonderd gaste ofte not.
Ek en Saartjie is gedaan, maar hoog in die wolke. Bestel ʼn glasie om te
klink op die breinkrag van die vrou.
“Wat maak julle,” maak Neelsman keelskoon hier langs ons.
Met selfvoldane glimlagte vertel ons van die Groot Dag. Hy luister (vir
ʼn slag) sonder om in te tjip. Knik net hier en daar kop en lyk self baie
lus om dié bedryf langs die kus te gaan bywoon.
“Tweehonderd gaste, sê jy. Party tot ounag toe. Honderd kilo’s woestyn
in vir ekstra privaatheid. Musiek en kosse en drinkgoete. Klink lekker,”
sê hy met ʼn frons.
“Moenie worry nie, jy’s ook genooi,” lag ons te lekker.
“Is nie dit nie,” sê hy.”Ek dink net nie daar’s genoeg 4-by-4’s in die
land om al jou gaste tot daar te ry nie. En die ouer mense sal seker
slaapplek wil hê teen laatnag. En jy sal moet dink aan generators. Mens
kry nie eintlik sulke lang kragkabels nie,” en met ʼn wha-haa-haa loop hy
weg.
ʼn Bitter lang swaar stilte hang oor die huweliksbeplanners.
“Is daar orgidee voor die magistraat in Swakop,” vra ek in ʼn yl
stemmetjie. |
|