| |
Twee woorde wat haar lewe sou verander.
Yalla, Habibi, het hy sy laaste brief afgesluit. En toe sy die betekenis
gaan opsoek, het die woorde iets in haar yskoue hart laat beweeg.
Hoekom sou hy dit sê, het sy gewonder. Na jare se skryf oor die weer en die
werk en nikseggende oppervlakkigheid, hoekom nou dit sê?
Dit maak haar deurmekaar, dié anders as die gewone. Hy weet van haar vrese.
Hy verstaan tog dat vriendskap beter as liefde is.
Ek moet gaan, het sy iewers in die middel van die nag geweet. Na ure en ure
van wakkerlê, van wonder, van twyfel, het sy opgestaan, die leersak afgestof
en begin pak.
Een sak is genoeg vir een mens. Genoeg vir ‘n ewigheid se reise, onbekende
plekke, het sy vir die vrou in die spieël verduidelik.
Die spieëlvrou het gefrons.
Jy weet nie wat jy doen nie, het sy gemaan. Jy maak die grootste fout van
jou lewe, het sy gewaarsku. Jy ken hom nie.
Miskien, het sy geantwoord, maar na al dié tyd dink ek ek weet wie hy is. En
ek wag al ‘n leeftyd vir hierdie oomblik.
Die spieëlvrou het begin lag. Werklik, het sy gesnou, dink jy regtig hierdie
een is anders? Dink jy regtig jy gaan dié keer heel anderkant uitkom?
Sy’t op die mat gaan sit en in die dowwe skynsel van die maan haar voorkop
teen die spieëlvrou s’n gedruk.
Ek weet nie baie nie, het sy gesug, maar hierdie een ís anders. Hierdie een
is wys, maar alleen. Hierdie een ken die skaduwees beter as ek.
Toe die spieëlvrou niks sê nie, kry sy nuwe moed.
Onthou jy nie meer nie, het sy gefluister, bang dat die ander vrou haar soos
altyd sal onderkry.
Onthou jy nie toe jy nog jonk was en nog gedroom het nie? Van vreemde plekke
met towername, van skadumense wat om vure dans, van musiek met oer-oue
ritmes en speseryreuke wat jou bedwelm en deelmaak van die droom nie?
Die spieëlvrou het haar kop laat sak. Ja, het sy na ‘n rukkie gesê,
natuurlik onthou ek.
Drome van ‘n prins wat my sou ontvoer en vir ewig soos goud sou oppas.
Kelims en tente in ‘n spierwit woestyn, dansende vrouens met fyn
enkelklokkies en geheimsinnige oë gitswart omlyn.
Sy’t begin lag.
En wat van die duisende ander fantasieë, die goue draadjies van hoop, wat
ten spyte van die hartseer en die pyn en die eie alleen, jou laat bly glo
het dat alles eendag sal wees soos dit moet?
Die stilte het swaar asemgehaal.
Toe sy uiteindelik opkyk, het die vrou in die spieël se oë onnatuurlik in
die maanlig geblink. Huil jy, het sy gevra en verbaas oor haar eie wange
gevoel.
Nee, het die een in die spieël gesê, ek het skielik my hart gevoel, vir die
eerste keer vandat ek kan onthou.
Sy het opgestaan en die leersak oor haar skouer gehang, vir oulaas haar oë
oor die skielik onbekende kamer laat gly.
En voor sy die deur finaal agter haar toetrek, wou sy tog vir die spieëlvrou
tot siens sê, vir jare se regophou dankie sê, maar dié was lankal weg.
|
|