| |
ALMAL wag.
Vir die skip om te kom. Vir die een wat die hart gaan heelmaak. Vir payday.
Vir beter dae.
Daar hang 'n sadness oor die afwagtendes. Soos siekes in 'n spreekkamer wat
weet dat die dokter op onbepaalde verlof is. Ons is so vasgevang in die
alledaagse roetine van oorlewing dat ons nie meer weet wat om te verwag nie.
Tien jaar terug se drome het vervaag in die niet. In 'n 'ek-dink-nie-ek-kan-dit-meer-doen-nie'.
Sê wie?
Elke dag brul met uitdagings en moontlikhede.
Ons moet net nie toelaat dat ongelukkige mense ons spontaneïteit onderdruk
nie.
Soos die naweek op Swakop. Ek sit op die sypaadjie en eet slaptjips in
bruinpapier. Ghries op die wange. Seebries in die hare. Winterson op die
rug. Advertensie-materiaal. Suur tannie stap verby en klik verontwaardig.
Ongehoord, skril sy vir haar oordonderde man wat met dooie oë agterna sleep.
Ek kyk haar al kouend agterna en ek sidder. Wat is ongehoord, sou ek graag
vir haar wou vra. Wat het vir tannie so ongelukkig gemaak dat tannie so
swaar aan die mondhoeke dra?
Miskien moet ek haar inhardloop en vertel van gisteraand. Toe ek geblikte
shrimps en mayonnaise uit 'n frisbee geëet het. Bo-op 'n duin met 'n
blikbeker vol OBS in die hand. Heel dekadent.
Wat 'n voorreg. Wat 'n sonsondergang.Wat 'n heerlike sooibrand. Maar ek los
dit liewer, want sy sal my seker laat sertifiseer.
Ek weet almal se smake en voorkeure verskil en dis reg so. Party mense hou
van formaliteit en leef dit uit sonder om jou soos 'n pleb te laat voel.
Maar ek het 'n probleem met die alewige vooruitbeplanning, die reëlings, die
VIP-lyste en die gevolglike rampspoedige partytjie. Dis die gewag op die
groot dag wat die lekker wegvat. Jy stress jou op oor die rok, die skoene,
die partner, die baby-sitter. Dan kom die groot aand. Jy blaas soentjies
verby onbekende beroemdes se wange. Hiperventileer in jou stywe nommertjie.
Heelwat jolig met 'n tikkie jolyt. Maar die heeltyd knaag die gewonder in
die agterkop -- gaan die antwoord homself op hierdie geleentheid ontbloot?
Gaan ek vanaand insig verkry? Gaan die wyse man van sy berg af kom en al die
raaisels oplos? Met my luck sal die wyse man iets sê soos: Die Noordelig
skyn op die bont chrysalis, vasgevang in koue kristal. Huh? The plot
thickens.
Dis presies wat met ons lewens gebeur het. Ons worry te veel oor die
uiterlike. Ons wag vir die groot dag wanneer alles anders gaan wees. Te veel
kennis en inligting van buite maak ons koppe nog meer deurmekaar. En wat
gebeur?
Ons vergeet die basics. Ons vergeet om net te lewe. Al is die geldjies
skraps en die rekeninge 'n berg.
My ma kla oor ek so baie kaalvoet loop. Dis so gesond, Ma. Al is my hakke so
gebars ek kan Daisies daarin plant. (Ok, nie regtig nie.) Daar loop Ma toe
die hele Swakopnaweek ook kaalvoet. En sy gloei, want dis lekker.
Skud los die stywe bollas. Dans met 'n kind. Hardloop in die reën. Gee
lekker stywe hugs as jy so voel. Runnik soos 'n perd as die lag oorloop.
Wees sommer net simpel as dit moet. Kyk vir 'n slag ordentlik in die spieël
en sê 'howzit!' vir die wyse man wat vir jou terugkyk.
En skielik is die wagkamer leeg.
|
|