| |
HOEKOM het banke sulke belaglike ‘besigheidsure’? Hulle maak oop teen die
tyd wanneer ander normale werkers reeds ‘n halfuur by die werk is en dan
sluit hulle weer ‘n hele negentig minute voordat jy uitklok.
Tussen een en twee wanneer die meeste arbeiders hulle rekeninge betaal,
finansies uitsorteer en in rye gaan staan, sal daar NOOIT meer as drie
tellers in die glaskaste wees nie. En jy moet mooi kyk want dié drie het ook
die nare gewoonte om stil-stil te verdwyn. Dit alles geskied terwyl jy vir
die sewende keer kyk na ou Leon Schuster-flieks, dierevideos of Boesmans wat
briewe oor die Namib aandraf. En moenie vergeet van die Asem agter jou wat
geen aanvoeling vir persoonlike ruimtes het nie en later met sy lippe teen
jou agterkop staan nie.
Sodra ‘n manlike teller genadiglik weer sy verskyning maak, moet jy bid dat
daar nie ‘n aanvallige jong meisie voor jou in die ry is nie, want die
transaksie sal aansienlik langer duur omdat daar geflirt sal word en
gegiggel sal word totdat Meisie haar telefoonnommer met ‘n skaam giggeltjie
oor die toonbank gestoot het. Ten spyte van die feit dat al haar gegewens op
die rekenaarskerm voor meneer Teller staan en sy van agter in die ry al vir
hom kon skree ‘Ek gee jou toestemming om my persoonlike inligting te
misbruik!’
Ek bekla my lot teenoor die enigste teller in Windhoek wat ook ‘n
sielkundige is. Toe wys sy vir my haar payslip en ek verloor tydelik die
gebruik van spraak. Dis vermetel om die minste te sę. Geen wonder die
tellers verdwyn sporadies nie -- om stilletjies te gaan huil oor hul soldy
of eerder die gebrek daaraan.
Ook dié dat die meeste van hulle nooit oorloop van borrelende entoesiasme
nie.
Die bank is ook baie vinnig op jou spoor as jy twee en dertig dollars in die
rooi is en sal jou onmiddellik ontbied om die bestuurder te kom sien. Wat
gaan hulle doen as ek die dag bel en sę ek sien ek is nou vyftig dollars in
krediet en sal die bankbestuurder my asseblief dadelik kom sien?
Verduidelik dan sommer die buitensporige ‘bankkoste’ waarvoor ek
aanspreeklik gehou word.
Ek vat klaar die kans om my geldjies in jou instelling se onbekende hande te
plaas, nou moet ek nog betaal vir die voorreg. En dis duurder om geld oor
die toonbank te trek as by die masjien buite wat in elk geval permanent
buite werking is. Hoekom?
Hoe groter die bedrag wat jy trek, hoe groter die adminfooi daarop. Is dit
omdat die bondels note swaarder raak en die tellers fisies uitgeput word of
straf die bank jou omdat jy dit waag om jou geld uit hul
beleggingsplannetjies te onttrek?
En dan die tjekdebakel. Ek weet dis om veiligheidsredes dat tjeks moet ‘lę’,
maar vir sewe dae? (Ekskuus, werksdae.) Vele studente het al omgekom van
honger as gevolg van hierdie simpel vereistes. En wat gebeur terwyl die tjek
nou so rustig lę? Daar is of geld in die rekening of nie. Watter verskil
maak die sewe dae? As die bank om die een of ander rede onraad vermoed, bel
net die betrokke partye en sę dat die tjek vir ‘n dag of twee onder
kruisverhoor geplaas gaan word en tot verdere kennisgewing in aanhouding is.
Waarlik, so kan dit nie aangaan nie.
En die bliktrommeltjie-onder-die-bed is ook nie ‘n uitweg nie, want deesdae
is jy nie seker wanneer Bed en Bliktrommel onder jou uitgedra word nie.
Waar’s daai Grandpa’s…
|
|