| |
Ma het vanoggend gebel. Die res van die dag was vaal.
Ek sweef langs skoolpaadjies terug na lui somersdae in Ousiegoed se kombuis.
Waar Ma soos 'n indringer gevoel het in haar eie huis.
Ek sien myself op die babakamer se mat. Kop teen die bed se rand terwyl Ous
met ongelooflike deernis vir Boeta bad. Met dieselfde hande wat 'n skoppie
met dodelike akuraatheid tussen my skouerblaaie kon plant. Oorlat ek so mors.
Oorlat ek haar weer skrikgemaak het. En kon sy skrik. Vir skielik om die
draai kom. Vir 'n onverwagte "Hallo, Fransien!" terwyl sy staan en stryk.
Veral vir rubberslange.
Tussen Ma en Ous het die huis geloop soos 'n masjien. Waar een los, het die
ander oorgevat. In 'n stil-stil verstaan van vrouwees. Die enigste twispunt
was haar obsessie met wasgoed. Jy kon dit nie waag om enige vorm van 'n
kledingstuk net vir 'n rukkie neer te sit nie. Dan het sy dit. "Hierie ding
lyk vuil." Jy moes dan mooi verduidelik dat jy eintlik besig is om nog aan
te trek en dat die "vuil" item pas uit die kas kom. Sy sou jou dan met
skrefies-oë aangluur asof sy jou higiëne in twyfel trek.
Ek was op universiteit toe Ma eendag bel. "Praat asseblief met Francina.
Haar kleinkind moet gedoop word en sy wil 'n naam by jou kry." My oog val op
'n plakkaat van die platinum sangeres wat later die aand op kampus optree.
Ek moet bieg dat die verbinding tussen Windhoek en Pretoria die dag nie baie
hot was nie.
"Patricia," sê ek. "Heh?" vra sy.
"Patricia!" skree ek. "Au!" gil sy. "Ek like hom!"
En daar hoor Francina verkeerd. Met die volgende vakansie word ek toe met
groot entoesiasme voorgestel aan Metricia. Maar almal was happy en ek wou
nie verder bodder nie.
'n Mens mag nie spot oor 'n ander se hartseer nie, maar ons Ous het nie net
gehuil nie. Die trane het letterlik gespuit soos daai marmerbeeldjies in
fonteine. Sy kon ook die traankrane na hartelus oop- en toedraai.
Oor Meneer wat te kwaai gegroet het, oor Mevrou se pyjamas oor die muur
gewaai het, oor sommer net vir die lekker. Dan sou sy die res van die dag
buite aksie wees en met vreeslike snuif- en suggeluide deur die huis steun.
En moenie waag om te vra wat fout is nie, want dan kry jy 'n relaas wat
strek van die voorvaders se sondes tot jou eie tekortkominge.
Sou jy die dag siek wees, was daar volgens haar net een kuur. Goeie ou
Zambuc-salf. Van verkoues tot skurwe hande het sy met die groen smeersel
gedokter. Ek glo tot vandag dat dit haar vasberade houding was wat gesond
gemaak het.
Niemand kon 'n tas pak soos Francina nie. As Meneer laat weet het dis weer
toertyd moes almal terugstaan. Dan het sy vir twee ure in afsondering
inbeweeg en met militêre presiesheid elke sokkie, sakdoek, hemp en broek
spesiaal laat voel.
En nou is Ousie dood. Weggevreet deur die kanker. Die familie wou die beste
dokters laat kom, tot haar groot verontwaardiging. "Nou waar is julle se
geloof?" het sy gesnou. Inderdaad.
Ek hoop jy's happy waar jy is, Fransien. Soos ek jou ken sal jy nie stilsit
nie. Die Hemelwesens slaan seker hande saam oor daai Poort se stoepe nog
nooit so geblink het nie. Sing hard saam met die koor, al was jy altyd so
skaam oor jou "valsegeit oppie noot." Ek hoor jou en ek verlang. En ek is
bly ek kon jou ken. Sorry oor die slange, Ousie. Jy kan my maar met die
hemel se besem jaag as ons weer ontmoet.
Francina Skrywer is dood. Lank lewe al die Francinas van die wêreld! |
|