| |
EK loop laasnaweek my swaer in ‘n winkel raak.
‘Habba, habba,’ is al wat hy uitkry toe ek vra hoe dit gaan. Ek sien die man
is nie lekker nie en laat kom suikerwater. Eers toe die geelheid sy stram
wange verlaat, kan ek uitvind wat pla.
‘Insekte,’ sê hy.
‘Malaria,’ vra ek geskok.
‘Nee man,’ brom hy vies. ‘Ek het die nie-assisterende winkelassistent gevra
vir insect repellant en toe bring hy my hierheen.’
Ek kyk rond en sien ons is reg voor die skryfbehoefterak.
‘Interessant,’ knik ek en kopskuddend gaan ons uitmekaar.
Soms verwonder ek my aan die mens se vermoë om relatief geestesgesond te bly
in ‘n uiters frustrerende wêreld.
Is ons gedoem om voortdurend ons vlakke van geduld tot die uiterste beproef
te hê of is ons masochiste wat verslaaf geraak het aan sukkel?
By te veel plekke is daar deesdae patetiese of geen diens, swak produkte ten
duurste en suur, suur gesigte van ek-wou-eintlik-nie-hier-gewerk-het-nie.
Of so het ek geglo totdat ek Vrydag, van alle plekke op ‘n oondwarm dag in
die RY by die BANK in die MIDDESTAD moes gaan staan.
My beursie wat verlede week gesteel is, is deur ‘n wonderlike gesin aan my
terugbesorg met al my kaarte, paspoort en dryfliksens ongedeerd. Dit is
opsigself die eerste wonderwerk, want die karwag by die restaurant waar
beurs weggeraak het, het dit oornag gehou en die volgende dag aan ‘n lid van
die genoemde gesin gegee.
Ek staan in die gewraakte ry vir aktivering van gekanselleerde kaarte.
Ek is nog witwarm oor die aap met die korporatiewe das wat sy maroen BMW (en
jy kan bly wees ek noem nie jou registrasienommer nie) tot teen my tjor se
agterent gedruk het om tog net eerste oor die bult te jaag en heel, heel
eerste by die verkeerslig te stop! Ek kon myself net nie keer nie want toe
ek sekondes later langs hom by dieselfde lig stop, moes ek net deur my oop
venster skree: BAIE GELUK, HOOR! Maar hy kon my seker nie hoor in sy
lugverkoelde weelde nie, want met skreeuende bande en gesperde neusvleuels
soos iemand wat iets onaangenaam ruik, is hy eerste uit die blokke.
Eendag gaan ek een van daai wrede bakkies met die verskriklike bosbrekers
vooraan en ‘n massiewe trekstang aanskaf. Ek sal wag vir meneer Koddige Das
om weer so op my dinges te sit en dan, dan sal ek skielik briek, wag vir die
slag, en dan vinnig reverse, bult-af in die aankomende verkeer in.
Iemand sal net moet saamry om die man se gesig te verfilm.
Maar my fantasie is van korte duur, want ek besef dat ek seker in die tronk
sal beland daaroor. Onmiddellik is ek weer kwaad.
En toe, hiep-hiep hoera vir mnr. Freeman van die bank!
Binne ‘n halfuur het hy die Pretoriatak, waar een rekening gehou word, op
hul neuse laat kyk toe dié met hom begin stry oor vorm die en vorm daai wat
eers in triplikaat ingevul, getjap, geëndosseer, beëdig, onderteken en
gefaks moet word.
Ha-ah, skud mnr. Freeman vriendelik dog ferm sy koel kop en verduidelik vir
die stem aan die ander kant hoe dit nou eintlik werk. En jou werklik, die
magtige Suid-Afrika staan terug, sien die lig en gee in.
Met ‘n lied in die hart, ‘n huppel in my trippel, galop ek by die deur uit
en val in die sloot wat intussen in die sypaadjie gegrawe is.
Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag. My prokureur sê ek praat te veel.
|
|