| |
IN Strandloperstraat op Onrusrivier staan ‘n verlate huisie geduldig en wag.
Nie ‘n opvallende huisie nie, inteendeel, ‘n huisie so toegegroei en
toegemaak dat ‘n mens hom maklik in die verbyloop sal verbykyk in ruil vir
die indrukwekkende woning oorkant die straat.
Maar vir die gelukkiges was dié ‘n huisie vol weet, van woorde, van
herinneringe, van tye wat vir ewig verby is.
Jan Rabie se huis.
Ek leun ongenooid oor die skewe tuinhekkie en probeer met oë toe en ander
sintuie oop om ‘n stukkie van die wonders wat daarbinne was, te voel.
Te luister na die gesprekke wat oor bottels rooiwyn, bakke seekosse en
ryprooi tamaties, uit hierdie tuin, tussen die legendes van ons menswees
gevoer was.
Om te probeer sien wat Marjorie Wallace kaalvoetig onder die gedruis van Uys
Krige en Chris Barnard se stemme geskilder het. Om André P. Brink se bydraes
te probeer verwerk en te wonder, waar is die betowering van woordsamesyn nou
heen?
Om te leer hoe om net een keer met die intensiteit van ‘n Ingrid Jonker lief
te hê en die moed te kan kry om Breytenbach se woorde te steel en vir ‘n man
in ‘n ver, ver land te sê, ek mis jou so, ek stik vir jou ‘n brief.
Maar die vensters bly stom en al wat beweeg is die swart waghond wat huil.
En ek wil huil omdat ek niks ooit kan vashou nie, omdat ek nie die agteruit
vooruitgang van die mensdom kan terughou nie. Want die towenaars van toé is
almal hier weg.
En ek is seer omdat ek nie deel kon wees en met kindsbene die kans gehad het
om onder tafelpote daarbinne te lê en kennis van die aand vir die donker
vorentoe op te doen nie. Omdat dit nooit weer só mens sal wees nie.
Sewe dae by die Silbersteins was nie lank genoeg nie, mnr. Leroux, en
waarheen moet ek heen met al Breytenbach se boenks om die druppende
waterkraan in my tuin?
Het ek die geld gehad sou ek die huisie wou betaal en hom net so laat staan
vir vorentoe se onthou. Uit dankbaarheid vir hulle wat my lewe met woorde
vol boeke en boeke vol drome kon vul.
Want weldra sal die stootskrapers van ontwikkeling ingestoot kom en plek
maak vir knophuise vol nikswetende vakansiegangers en niemand sal ooit glo
dat dit heiligskennis is nie.
En aan die straatkant van die tuinhekkie is daar net die skerp lig van
realiteit en die waghond se blaf en al wat ek kan doen is om te vra, seën
my, Jan Rabie, seën my met insig om jou huisie se spoke myne te maak, sodat
ek in ‘n laaste poging wél eendag die kans kry om my eie woordhuis te bou.
En wanneer die tyd aanbreek om my vleeshuis te verlaat, mag ek die eer van
my eerste glas rooiwyn saam met jou aan die anderkant kry?
Tot dan sal ek elke kans benut om jou en jou vriende lewend te hou en al
julle woorde in my hart bewaar, want ek kan die stootskrapers van alle kante
hoor kom.
In Strandloperstraat op Onrusrivier staan ‘n verlate huisie geduldig en wag
en toe ek die skewe tuinhekkie onder my arms loslaat, kon ek sweer ek het
iemand hoor fluister: my hand van stof kan die rotse nie trotseer nie, maar
die meeue kan…
|
|