| |
TUSSEN al die gemorspos wat ‘n mens elke dag kry, is daar party kere een wat
die moeite werd is.
Ek kry die ander dag een van vriend A.W. en met apologie aan die
oorspronklike skrywer wil ek hopelik meer as een persoon laat glimlag.
“Twintig maniere om ‘n hoë vlak van geestesongesondheid te handhaaf:
Sit oor jou etensuur met ‘n donkerbril op in jou motor en mik met ‘n
haardroër na die aankomende verkeer. Kyk of hulle stadiger ry.
Roep jouself oor die interkom sonder om jou stem te vermom.
Elke keer as jou baas jou vra om iets te doen, vra of hy skyfies daarmee
saam wil hê.
Vervang die filterkoffie in die koffiepot vir drie weke met ‘decaf.’ Sodra
jou kollegas oor hulle kaffeienverslawing is, hervul die pot met espresso.
Begin al jou sinne met ‘in ooreenstemming met die profesie.’
Moenie loop nie. Huppel.
Vra vir mense wat hulle geslag is. Lag histeries sodra hulle antwoord.
Sing kliphard saam by opera-uitvoerings.
Span ‘n muskietnet om jou werksarea en speel die hele dag CD’s met tropiese
woudgeluide.
Wanneer jy geld by die OTM trek en dit word uitgereik, skree, “Ek het gewen!
Ek het gewen!”
Woon ‘n poësie-aand by en vra na elke voordrag waarom die gedigte nie rym
nie.
Laat weet jou gasheer vyf dae voor die partytjie dat jy nie meer kom nie,
want jy is nie in die regte bui nie.
Sê tydens aandete vir jou kinders dat jy weens ekonomiese redes een van
hulle moet laat gaan.”
Die lewe is te kort om permanent met strak gesigte rond te steier. Al is die
grappies vir party flou, moet ‘n mens nooit ophou om die humor in situasies
raak te sien nie. Daar is genoeg swaarkry, hartseer en ellende in die wêreld
en al hoe ons semi-normaal kan bly, is om te lag.
Dit sal nie help om maagsere te ontwikkel oor honger kinders, swak finansies
en verlore liefdes nie.
Kinders is ook altyd ‘n goeie bron van vermaak en ‘n mens kan gerus meer
aandag gee aan die goed wat hulle party kere kwytraak.
Ek kuier een aan by ‘n vriendin wat nou en dan ‘n dun sigaar na ete waardeer.
Ons sit buite op die stoep en gesels terwyl die kinders die huis afbreek.
Vriendin se vierjarige dogtertjie kom staan in die deur en bekyk ons met
sulke alwetende ogies.
“Julle gaan sterf,” kondig sy smalend aan. Die gesprek word kortgeknip.
“Ja my ding,’ sug haar ma. “Ons gaan almal eendag sterf.”
Dingetjie lig haar wenkbroue. “Nie eendag nie. Nou.”
“Hoe so,” vra ons.
“Daai gisaartjies van julle…” En sy loop kopskuddend en bitter beswaard weg.
Ons het toe maar die gisaartjies doodgedruk, al was ons dik van die lag.
My jongste is altyd aan die sing en die ander dag hoor ek die uit volle bors
weergawe van ‘n liedjie waarvan die wysie vaagweg bekend klink, maar die
woorde is nie so lekker nie.
“Watter liedjie is dit,’ vra ek.
“Bê-nuh-sistelien, duh-simpe-bê-nuh-sistelien,” sê sy met ‘n ma-is-nie-te-bright-nie-né
oge.
Ek het nie ‘n idee waarvan sy praat nie, maar na ‘n verduideliking van ‘daai
vet beer en die arm kind met die lap om sy lyf wat so deur die woud met die
skelm slang met die draai-ogies dans,’ gaan die lig op.
“Aaa! The Bare Necessities van Jungle Book,” juig ek.
Sy is ‘n rukkie stil.
“Moenie grappies maak nie. Dis wat ek gesê het. Bê-NUH-SISTELIEN!” Sy loop
vies weg.
Daar het jy dit.
Nou gebruik ek nie meer kragwoorde nie. Ek “bê-nuh-sistelien!” vir almal wat
my kwaad maak en dan gaan die woede sommer vanself weg.
|
|