| |
Ek glo nie in vorige lewens nie, maar party kere wonder ek tog. Soos nou die
aand.
Ek kyk vir die soveelste keer na Braveheart. Ja, dis vreeslik idillies en ek
weet die arme mense het bitter swaar gekry in daai tye. Maar daar is iets
aan die hele Highlander-gevoel wat my hart vinniger laat klop. En dis nie
net oor gedagtes aan Mel Gibson in ‘n “kilt” nie.
Elke keer as die doedelsakman lostrek op Wallace senior se graf, spat die
trane. Die wysie klink dan so primitief bekend.
Nou het ek maar die gevolgtrekking gemaak dat my voorsate se bloed die
herinneringe van toentertyd oorgedra het. Dat ek ‘n onbewustelike, dog
brandende begeerte het om ook deel te wees van kulturele rituele.
Ek was lank ‘n Voortrekker en ek het dit vreeslik geniet. Al het almal vir
my gelag as ek daai snaakse hoed opgehad het. Maar selfs die mees wulpse
draai met die Volkspele het nie naastenby die impak van ‘n Skotse of ‘n
Ierse volksdans nie. Hulle sing ook nie goed soos: “Die tannie in die
kombuis is ‘n nare vette luis” terwyl hulle danspassies uitvoer nie.
Nou gaan bly dan in Ierland as dit so erg is hier, is die algemene reaksie.
Nee, ek sal nie. Dis te koud. Eendag sal ek wel daar gaan aftree en in ‘n
oorblyfsel van ‘n kasteel sop kook vir die bure.
Maar dis nie net die land van die Leprechauns wat my so bewerig maak nie.
Die Hugenotebloed pomp net so sterk. Ek is gek oor Camembert, rooi wyn en
lang brode. En ‘n trekklavier wat in ‘n stegie teem. Franse melodieë. Nie
die Appelkoos-settees nie.
Ek doen toe navorsing by die Argief in Kaapstad. Net om te kyk waar kom ek
nou eintlik vandaan. Wat ‘n deurmekaarspul!
Oergrootjie Guillaume het in 1663 uit Rouen gevlug. Nie vir die gereg nie.
Wel uit vrees vir die ‘wrath of a woman scorned.’ Ah, l’amour!
In 1730 kom die Duitse Sebastian sluip-sluip die land binne.(Ek mag
ongelukkig nie hierdie familiegeheim uitlap nie.)
Voorvader Andries het in 1738 uit Waarden gevlug.Wel vir die gereg. Diefstal
by ‘n bekende kaasfabriek.
Dan besluit die Skotse Francis om in 1876 ook sy bydrae tot my bloedlyn in
die Kaap te kom voeg.
Uit vrees vir weerwraak noem ek doelbewus nie die vanne nie.
Die kennis bring egter nie verligting vir die verwardheid nie. Inteendeel.
O, vanwaar gehasie?
Maar voordat ek te intens begin wroeg, gryp ek toe maar ‘n Bongo-drom en
slaan ‘n ritme vir die maan. Nie dat ek ooit as backup drummer vir enige
band sal kwalifiseer nie. Maar ek slat daai styfgespande beesvelletjie dat
die sweet op die voorkop staan. Die bure gooi skoene en bakstene deur my
vensters. Maar ek slat. En net daar besef ek: my bloed se naam is Afrika.
Hier sal ek bly en hier sal ek doodgaan.
Ek sal voortaan aande hou ter ere van elke voorsaat en sy land van herkoms.
Ek sal my manspêlle in Skotse rokkies indwing en oor gekruisde swaarde laat
trippel. Begelei deur Duitse trekklavierspelers. Die meisies sal agteroor
sit en kaas fondue afsluk met liters rooi wyn.En aan die einde van die aand
sal ons die verrigtinge uit volle bors afsluit met Afrikaners is plesierig.
Dít kan almal maar glo!
|
|