| |
Na ‘n warm stomende
skuimbad trek ek my kamerdeur agter my toe. Ek neem plaas op die punt van my
bed en neem my Dagstuk-Boek getiteld “By Fonteine Langs”. Ek sukkel om te
konsentreer want soos elke dag van my lewe was daar weer onenigheid en my
hartjie bloei weer vanaand, soos soveel ander aande van my lewe.
Ek gaan lê sommer bo-op my bed en luister na die koue windjie wat om die
hoeke van die huis fluit. Trane vloei nou oor my wange en ek begin met my
God ‘n gesprek:
“Here Jesus, U het reeds die swaarkry-pad vir my vooruitgeloop sodat ek mag
weet dat wanneer dit moeilik gaan U te alle tye digby my is. Dankie vir die
versekering dat my aardse swaarkry maar van korte duur is, en dat dit vir my
sal uitloop op ‘n heerlikheid wat ewig bly.
Ek loof U dat U vir my ‘n Trooster in hartseer-tye is, en dat U uiteindelik
vir my alles ten goede laat saamwerk. Dankie dat U vir my by God intree, dat
U my seerkry gebruik as toerusting, sodat ek ander mense wat swaarkry kan
bystaan, dat my swaarkry nooit verniet is nie, omdat dit my leer om my
seëninge te tel. Ek weet dat U my nie van swaarkry vrywaar nie, maar ek weet
ook dat U myself daardeur sal dra, dat swaarkry my net nader aan U laat lewe
en my leer om aan U gehoorsaam te wees, dat U dit as snoeiproses gebruik
sodat ek meer vrug vir U kan dra. Help my om uit my teleurstellings en
mislukkings te leer en aan te hou glo dat u beloftes vir my sal waar word.
Gee dat ek steeds op U sal bly vertrou, skenk vir my die krag om in swaarkry
situasies te volhard. Vat nou my hand en rus my toe met U krag en genade en
vorm my deur lyding, totdat ek volmaak en volwasse soos U sal wees”.
Ja dink ek: “Elke persoon stap sy eie stuk lydensweg hier op aarde soos
Jesus daardie laaste twee weke van Sy lewe gedoen het. Almal van ons ervaar
seerkry en swaarkry deur die loop van ons lewe, omdat niemand die lydensweg
van swaarkry kan vryspring nie. Tog is dit ‘n groot troos in swaarkry-tye om
te weet dat Jesus hierdie swaarkry-pad reeds vir jou vooruitgeloop het, dat
Hy presies weet wat lyding en swaarkry behels, omdat Hy dit self deurgemaak
het. En omdat Hy, terwyl Hy op aarde was, self gely het, het Hy ook simpatie
met my persoonlike stuk swaarkry – beloof Hy, dat Hy ten tye van my eie
swaarkry-tye ekstra naby my sal wees en vir my die krag sal gee om dit te
kan deurstaan.”
Na my gesprek met my God en nadenke, glo ek Hy weet en sal my vergewe as ek
uit hierdie Liefdelose, bitter seer en swaar Huwelik uitstap. Ek wag tot na
middernag waar ek seker is almal het stil geraak in hulle beddens.
Saggies haal ek my rooi gestreepte tas bo-uit die kas. Soos my hande op
klere moedeloos val, word dit sagkens in my tas gepak. Traandruppels val een
vir een op elke gekose kledingstuk.
Heel laaste word daar ‘n baie spesiale plekkie bo in die tas gelos vir die
drie belangrikste mensies wat plek in my hartjie gevind het die afgelope
jaar. Hulle is Fluffy, Angel en Cuddles. Die tas word dan baie saggies
toegemaak sodat die kosbare vriende wat my trane elke nag aanskou het, tog
net nie beseer word nie!!!
Vinnig verklee ek sommer in ‘n ou pienk en grys sweetpak. My pienk en grys
tekkies met my geliefkoosde pienk sokkies word vinnig aangetrek. ‘n Vinnige
laaste kyk na my kamer waar ek nag-na-nag so alleen en eensaam was en my
kopkussing saans oortrek was met trane, word die deur baie saggies opknip
getrek.
Vinnig draai ek terug en maak die kamer deur weer oop en gryp my sagte
wollerige bruin kombersie wat altyd by my voete lê vir ou Bully – die
“Trooster” van my trane! Vir ou laas vryf ek oor ou Bully se kop wat met
vraend ronde bruin ogies na my kyk – “Ounooi waarheen gaan jy?” – is die
uitdrukking in daardie ogies. “My Trootster, my Vriend en my Oppasser –
Vergewe Ounooi as ek jou nou alleen gaan los, maar in my hartjie sal jou
plekkie altyd gevul wees!”
Die groot hout-voordeur word saggies oopgemaak en weer baie saggies
toegetrek. Die swart tralie-hek word met groot versigtigheid oopgestoot. Vir
ou laas kyk ek na die huis en kan my hartjie slegs die bitter seer onthou –
dit voel of daardie swaar en seer kry nou finaal agter gelaat word. “My God,
My God – waarheen nou? Wees U vanaand my Kompas en neem my na ‘n plekkie
waar ek rus en vrede kan vind. Daar waar geen traandruppel meer oor my
wangetjies sal rol nie!”
Ek het my rooi gestreepte tas opgetel en met ‘n geboeë hoof het ek al langs
die gronderige sypaadjie begin stap. “Waarheen my God, Waarheen gaan U my
lei?” Op sommige plekke was die straatligte dood en het daar koue rillings
langs my ruggraat afgeloop, maar geweet my God stap saam met my. ‘n Swart
Kat het oor die teer-straat gehardloop gekom met ‘n vaal muisie in sy bek –
dit moet ‘n moeder kat wees wat vir haar kleintjies seker kos kom soek het
in die vaal en eensame oop stuk veld.
Met voete wat seer is en ‘n hartjie wat stukkend is, het ek op ‘n verlate
skool busstoppie afgekom. ‘n Half toegeboude busstoppie wat se rooi verf
plek-plek al afgedop het. Wel ek is seker met hierdie verlate gronderige en
klipperige plaas-pad word skoolkinders seker nie meer hier op- en afgetel
nie. In die een hoek van die busstop is ‘n hout-bankie wat hier en daar nog
bruikbaar is. Moeg het ek in die hoekie gaan sit met my rug teen die
afgedopte muur. In die dak het ‘n vinkie haar nessie gebou met optel
wolletjies – laat my amper dink aan ‘n reënboog soveel kleure wolletjies het
sy gebruik – ek is seker ek het kleingoed hoor piep in die nessie. Sjoe, hoe
skrik ek darem nou vir hierdie vlermuis met sy grillerige groot swart oë en
twee wit tande wat hier baie naby my kop verbyvlieg deur die oop stukkende
venstertjie!
Saggies staan ek op en klim op die hout-bankie wat onder my voete plek-plek
kraak. Ag die mooiste en fynste vier ronde ogies loer uit die nessie vir my.
Ek skat hulle seker so twee weke oud. “Nou waar is julle mamma dan? Julle
lyfies is yskoud! Sy beter haar opwagting vinnig maak anders gaan julle
verkluim!” Saggies, baie saggies het ek die tweetjies oor hulle donserige
lyfies gevryf. “Wag hier kom mamma met ‘n lekker vet groen sprinkaan
aangevlieg – sjoe julle ontbyt is vroeg – die maan loer dan nog vir ons deur
die stukkende venstertjie!” “My God net U kan hierdie volmaakte wesens so
perfek skape!”
Ek het my kombersie oor my koue bewende liggaam gedraai en my gemaklik
gemaak op die krakende skool hout-bankie. Die klein ou vinkies het ook tot
ruste gekom in hulle liefdevolle moeder se arms en het alles stil geword in
die verlate busstoppie.
Ek het weer in gesprek geraak met my God, my Vader – al persoon nou
teenwoordig saam met my op hierdie verlate plasie! Ja, my God en Vader weet
hoeveel nagte daar trane gestort was in my lewe! Hoe diep die woorde gesny
het en die wonde nie meer genees kon word nie! Die wonde het permanente rowe
gemaak wat telkemale aan die bloei gegaan het!
“My God: Waar kom wonde vandaan? Kom dit van myself of kom dit dalk van die
Duiwel? Of kan dit wees dat dit self van God Onse Vader afkom? Kan dit wees
Here, dat my wonde van U af kom? Ek vra U vandag Here – wat is fout in my
lewe – hoekom gaan dit so swaar met my – hoekom ly ek so pyn en lyding –
hoekom loop dinge so skeef in my lewe as ek U dien. Ek is in n put van
ellende en ek kan dit nie regkry om daar uit te kom nie. Waar lê die fout
Here, dit kan nie by U lê nie dus moet dit by my lê. Ek is vandag voor U op
my knieë voor die gebed Altaar en ek weet as ek eerlik is dan is ek skuldig
– ek weet die fout lê nie by U of iemand anders nie Vader maar by myself en
daarom is U Woord my riglyn en die Heilige Gees vir selfondersoek...geen
wonder Jakobus sê in Jakobus 1 : 12-18 dat die vinger van sonde wys direk na
my en ek alleen is verantwoordelik vir my optrede en dade. U is die
pottebakker en ek die klei. Dankie dat ek weet U het my so pas weer gebry en
plaas my deur genade weereens op die draaitafel om my van vooraf weer te
hervorm soos U dit wil hê! Leer en help my om net soveel geduld aan ander te
openbaar.......
Ons gee soms vir mense goeie raad, maar raad wat glad nie op hulle
betrekking het nie en daarom nie vir hulle van nut is nie. 'n Mens wat ander
uit die Woord van God wil raadgee, moet die moeite doen om so iemand se
situasie te verstaan, uit sy oë te sien en sy hartklop te voel voordat hy
hom raadgee en ons moet ook weet....Dit is Hy, die Alwetende, Soewereine en
Heilige God wat, al het Hy ons so lief, wonde toedien, maar Here, U is so
genadig dat U Self weer ons wonde verbind en genees. Ja, dit is U wat seer
slaan, maar U maak weer met U eie hand gesond.
Die Woord ...dit is Hy wat wonde toedien....maar Hy verbind hulle weer....wat
seer slaan....maar Hy maak weer met sy eie hand gesond. Al tref 'n ramp jou
ses of sewe keer, Hy sal jou red, selfs 'n hoeveelste keer sal dit jou geen
kwaad aandoen nie. Jy sal beskerm word teen venynige tonge; en as daar rampe
kom, hoef jy nie bang te wees nie.
Nou vra ek jou, My God vandag – is dit nie wonderlike nuus nie – is dit nie
vertroostend nie ? Kom sê vandag saam met my vir God.......HERE...Ek wil my
daaraan wy om opreg te lewe. As die Here tevrede is met 'n mens se lewe,
laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe. 'n Mens beplan sy
pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.
Vandag wil ek jou iets vertel – nie vra nie – ek wil jou God se versekering
deur die Woord gee....... God self vertroos jou, het nog altyd en sal ook
altyd – in die verlede het Hy jou vertroos, in die toekoms sal Hy jou
vertroos want Hy sê..... Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle, vir jou!
Weet jy wat liewe kind van God........? Vertroosting is vir God só belangrik
dat Hy self dit aan ons, aan jou wil skenk. Hy delegeer nie hierdie taak aan
iemand anders nie, nee, Hy self vertroos ons. Hoe heerlik en standhoudend is
hierdie vertroosting van God nie telkens in ons lewe nie! Ek vra jou – sê
gou vir Jesus jy is lief vir Hom, dis al wat ek jou vandag vra.
Heilige God, vervul my vandag met blydskap in die wete dat ek weet U verbind
my wonde, my hartseer en my pyn - Ek wil my in U liefde verbly. Dankie vir
die belofte dat U self al die trane van my oë sal afvee. U alleen weet wat
die beste is vir my tydelike en ewige vreugde en heil...................”
“My God dankie dat jy elke nag my trane opgevang en versamel het in U
Hemelse Kruik. Swaarkry is presies wat hierdie Woord self sê: Dis om swáár
te kry. En al glo 'n mens ook, en al gebruik jy jou swaarkry om jou geloof
en lewe te louter, en om volharding daaruit te leer, bly dit nog altyd
moeilik, en moet 'n mens dit alles doen terwyl jy swaarkry. Swaarkry kan so
erg wees dat dit 'n mens, enige mens, laat huil. My God soos die Psalmboek
sê: Dat sy trane dag en nag sy voedsel was – so weet U, my God ook hoeveel
nagte trane ook slegs net my voedsel was!
Wat word van die trane wat ons tydens ons swaarkry-dae stort, my God? Het jy
wat hier lees, al dikwels vanweë swaarkry moes huil? Waar is jou trane heen
– het jy ook al gewonder? Is hulle maar net vermors? Was hulle maar net leë
soutwater wat uit jou oë gevloei het? Nee, die Bybel sê in Psalm dat God
daarop let, daarvan kennis neem. Daar word op die ganse aarde nie 'n traan
gestort waarvan die liefhebbende God en Vader nie weet nie!
God doen egter nog veel meer. Die Nuwe Vertaling sê dat God ons trane in Sy
Boek opteken. God het 'n Spesiale Boek daarvoor. As ons op aarde huil,
kleintjies of grotes, vrouens of mans, piktraantjies of stortbui-trane,
trane van geluk of trane van hartseer en pyn - word God se Traan-Boek
uitgehaal en word dit aangeteken en opgeteken. As jy dus lankal vergeet het
dat jy op daardie bepaalde dag gehuil het, kan God dit vir jou naslaan en
vir jou daarvan vertel: "My kind, op daardie en daardie dag het Ek saam met
jou gehuil – jy was nooit alleen nie!"
En nog steeds is dit nie al wat God doen nie. Psalm 56 sê nóg iets -
Ongelukkig het daar met die afskryf van die Bybelteks 'n onduidelikheid
ingesluip, sodat ons nie presies weet wat daar oorspronklik gestaan het nie.
Miskien het 'n afskrywer se traan, terwyl hy dié teks oorgeskryf het,
presies dáár op die manuskrip geval! Jy kan egter met sekerheid aanneem dat
ons ook kan vertaal: "Versamel my trane in U Hemelse Kruik" of "U versamel
my Trane in U Hemelse Kruik." God het 'n Spesiale Kruik waarin Hy Sy Kinders
se trane opvang. Dit moet 'n groot Traan Kruik wees, as ek aan al die trane
van myself moet dink. Maar so groot soos God se Genade en Sy Liefde is, so
groot is Sy Traan Kruik vir my!
My God wat maak U dan met my opgevangde trane? Dalk maak Hy pêrels daarvan,
pêrels in ons Kroon, die Kroon wat ons eendag as Oorwinnaars sal dra - of
dalk word my trane Pêrels in Gód se Kroon. Hoekom kan dit nie?
En dan weet ek ook nog dat as die jongste dag aanbreek, God al die trane van
my oë sal afdroog. Dit staan tog twee keer in die Openbaringboek - sodat ek
nie dalk deur my trane heen hierdie woorde nie sal raaksien nie. En in die
oorpronklike staan daar eintlik dat my trane uit my oë uitgevee sal word,
sodat ek nooit weer sal kan of hoef te huil nie.
Dit maak dat ek toe sommer van blydskap begin huil - Dierbare Heer, baie
dankie dat my trane nooit vermors was nie, maar dat U dit in U Kruik
versamel vir my of U Kroon eendag!”
Ek moes aan die slaap geraak het. Wat se wonderlike gevoel was dit nie – ek
is seker God het my vir ’n wyle na een van sy sagste en witste wolkies in
die Hemel geneem sodat ek rustig aan sy Voete kon gaan sit en ’n gesprek met
Hom voer! “Dankie my God, My Vader en Vertrooster vir die tydelike wegneem
na u Hemelse Huis sodat my trane ook U Voete kon skoon was!”
Die geel sonnetjie het nou skerp ingeloer deur die stukkende venstertjie. Ek
het my paar besittings opgetel en die stowwerige plaas pad weer aangedurf.
Met ’n lied in my hartjie het ek langs die treinspoor gestap. Sjoe amper
trap ek op hierdie mier-nessie. Duisende klein swart miertjies hard aan die
werk met elkeen ’n grassie of stokkie in die mondjie om die spensie te gaan
volmaak vir die koue winters wat voorlê. In die verte kon ek ’n rokie sien
trek. Hoe nader ek gekom het, kon ek sien daar woon iemand. Daar het paar
verslete wasgoedjies aan die krom en skewe wasgoed draad gewapper. Die klein
ou dubbel verdieping plaas huisie was verwaarloos, maar daar was lewe binne
in – seker die belangrikste. Ek is seker ek het nou net ’n beweging gesien
waar iemand die hout-hortjies voor een klein venstertjie oopgestoot het.
Ek het tree vir tree nader gestap en met ’n kloppende hartjie moed bymekaar
geskraap om aan die verslete eens groen hout voordeurtjie te klop. Na die
tweede kloppie aan die deurtjie het ek voetstappe in die gangetjie op die
houtvloere hoor afslof. Die deurknop het gedraai. ’n Geplooide ou gesiggie
het om die deur vir my geloer.
Skielik het haar hele gesiggie opgehelder waar sy met die sagste ou mens
stemmetjie my binne genooi het: “My kind jy het gekom – weet jy hoe lank bid
ek dat jy huis toe sal kom?” Nog nooit was iemand so bly om my te sien nie,
dink ek. Sy het my binne getrek met haar krom getrekte hande. “Kom my kind –
die beskuit het ek nou net uit die swart stoof se oond gehaal en die
moer-koffie prut van vroeg oggend in die erde blou ketel op die stoof,
wagtend vir jou tuiskoms!”
“Kom my kind jou slaapkamer en badkamer is net gister afgestof en uitgevee
en jou spesiale beddegoed, gordyntjies, matjie en handdoek vir jou gebruik,
reggesit!” Jinne, dink ek maar die plek lyk so troosteloos en eensaam. Ek
stap met die hout trap op en voel my keel toetrek en my bene effens bewe. Ek
loer eerste by die pienk badkamer in met sy ou wêreldse atmosfeer en
Victoriaanse bad met vier pote en sien my gesig vlugtig in die ovaalvormige
spieël in die houtraam teen die muur. Stowwerige traandruppels nog sigbaar
op my skurwe rooi wangetjies. Ek stoot die kamerdeur saggies oop – dit is
sprokies-mooi daarbinne. Die pienk gordyntjies het die allermooiste en
fynste ballerinas daarop. “My kind sien jy hoe dans daardie ballerinas – net
so gaan jou hartjie ook van geluk en vreugde dans!” Die pienk beddegoed is
van die sagste satyn denkbaar gemaak. “My kind net so sag soos hierdie
beddegoed vir jou voel, so sag gaan God jou hartjie weer maak, sonder enige
“seer” en “trane” – Al jou letsels gaan God gesond maak!” Ek sien nou alles
deur ’n waas van trane en draai my kop weg en kyk deur die klein
ovaalvormige venstertjie in “my” kamer.
Ek sit my rooi gestreepte tas en kombers op die matjie in die kamer neer.
Die pienk mat het ook die mooiste en helderste ballerinas daarop. Dit voel
of my tas hulle gaan seer maak en tel ek dan ook dadelik my tas op en sit
dit eerder op die blink houtvloer langs die wit hangkassie neer.
Ek merk in die een hoekie van die slaapkamer die klein wit ovaalvormige
spieëltafel met die allermooiste en fynste dansende porselein ballerina
daarop. Sy het die mooiste paar bruin ogies wat ek nog ooit gesien het. Wat
is op haar een rooi wangetjie – dit lyk kompleet soos ’n traandruppel. Ek
het haar saggies opgetel en styf teen my bors vasgedruk. Saggies het ek
gefluister: “So dra elkeen van ons maar ons “seer” saam met ons – van vandag
af sal ons twee ons “seer” en “trane” met mekaar deel!” Ek het haar weer
baie saggies neergesit op die gehekelde pienk lappie.
“My kind ek het vir jou ’n lekker lavender skuimbad getap – kom laat jou
liggaam nou tot ruste kom en kom ontspan in die warm water en was al die
seer van jou moeë liggaam af!” Toe ek my klere op ’n hopie laat val in die
badkamer en my liggaam tot ruste kom in die bad, het ek meteens besef hoe
moeg en afgemat is my liggaam en siel werklik.
“Oumie” soos ek haar gedoop het, het by my kom sit in die badkamer op die
klein riempies stoel in die hoek. Sy het haar grys ou kop laat sak en gevra
of sy vir my ’n gebed kan doen. Ek was verslae en het net my kop liggies
geskud en my oë toegemaak.
Met ’n moeë en bewende stem het “Oumie” vir my begin bid: “My kind, die Here
weet ........ Wanneer jy moeg en moedeloos voel weens verpletterende
omstandighede en situasies en die Here weet ook hoe hard jy probeer het.
Wanneer jy so lank trane gestort het en jou hart was so beklemd, seer en
stukkend – het die Here jou trane getel. As dit soms vir jou gevoel het jou
lewe is doelloss en die tyd het jou agtergelaat was die Here altyd saam met
jou in jou binnekamer.
Wanneer jy so eensaam gevoel het en dit vir jou gevoel het jou vriende is te
besig om te bel of te verstaan, het die Here vir jou in jou binnekamer gewag.
Wanneer dit soms gevoel het jy het alles probeer en het nie meer raad nie,
het Jesus ’n oplossing vir jou gestuur. My kind wanneer niks vir jou sin
gemaak het nie en jy so seer, verward of gefrustreerd gevoel het, het die
Here vir jou ’n antwoord gestuur. Onthou my kind waar jy ook al is en wat jy
ook al in die gesig mag staar, ons Here weet! Amen!”
“Oumie” het die badkamer deur agter haar toegetrek en slof-slof die hout
trappe afgestap. Trane het nou vrylik in die badwater gedrup. Sou dit trane
van hartseer wees of is dit trane van geluk? Ek het my moeë liggaam gewas en
met die sagste pienk handdoek afgedroog en skoon klere aangetrek. Ek het
daarna afgestap na die klein kombuisie waar die geur en reuk van moerkoffie
en boerebeskuit gekom het. Ek het toe eers besef hoe honger is ek regtig.
Sonder dat daar een woord tussen my en “Oumie” gewissel is en elkeen met sy
eie gedagtes besig was, het ek die boerebeskuit verslind en my moerkoffie
gulsig gedrink uit die erde beker.
Ek het na die sitkamer gestap waar twee groot ou verslete stoele gestaan het.
Ek het myself opgekrul op een van die groot stoele. Die kaggelvuur het
gebrand en “Oumie” se wit kat – Snowy – het lui lekker opgekrul voor die
kaggelvuur gelê. “Oumie” het haar tuisgemaak in die ander stoel – sy was so
krom getrek dat sy eintlik klein voorgekom het in hierdie ou groot stoel. Ek
het haar dopgehou en gewonder of daardie ou krom getrekte lyf van swaarkry
sou wees en of geluk darem ook deel van haar jong meisie lewe uitgemaak het?
Sy het met haar twee oë toe, begin praat: “Waarom, Here?” Dikwels kom 'n
mens in 'n situasie waar jy die bitter vraag vra: "Waarom gebeur dit met my,
Here?" “Dertig jaar gelede het ek 'n belowende werk gehad, jonk getroud en
ons eersteling dogtertjie byna 'n jaar oud. Toe kom die verpletterende nuus:
Ons maatskappy is bankrot en ek verloor my werk. Hoekom moes dit met my
gebeur Here?" “Na vele dae op straat opsoek na ’n werk kom ek een middag by
die amper leë woonstel aan – met ’n skok besef ek, my man het gevlug met ons
eersteling dogtertjie. Ek was verbitterd! Ek het op daardie stadium gevoel
hoe kan ek nog ’n Almagtige God aanbid en Hom Glo en Vertrou? Vir weke
toegesluit in hierdie verlate woonstel het ek tot die besef gekom ek moet
myself regruk en iewers weer ’n bestaan begin maak.”
My beste blou en wit pakkie word uit die kas gehaal – ’n traandruppel word
afgevee – dit was met die Doopdiens gekoop vir my eie klein eersteling
dogtertjie – waar is jy vandag my kind – het jy kos – ontvang jy liefde soos
net ’n moeder kan gee? Vinnig word die trane afgevee met die agterkant van
my hand en trek ek die verkose pakkie aan. Ek probeer poeier aan die wit
vervalle gesiggie sit om net bietjie kleur te kry. Na ’n uur word die
woonstel deur hardhandig agter my toegetrek. Waar begin jy? Sonder ’n sent
geld moes ek maar stap van winkel tot winkel, want geld vir ’n buskaartjie
is daar nie!
Moeg teen vier-uur die middag besluit ek om terug te draai woonstel toe. My
oog vang die advertensie oorkant die straat in die klein winkeltjie:
“Winkelassistent benodig. Moet dadelik kan begin.” Met hande in die lig en
oë gevestig na Bo het ’n Gebed opgegaan: “My God, My God – U het my nie
verlaat nie!”
Bang stap ek die klein deurmekaar winkeltjie binne. Ek kry die reuk van
boeke, baie, baie boeke. ’n Kromgetrekte Oompie kom regop uit ’n vervalle ou
hout stoel en vra: “Ja juffrou kan ek van diens wees?” Ek het liggies begin
bewe en met ’n stemmetjie wat wil-wil kraak het ek aan die ou Oompie gesê:
“Die pos wat adverteer word, is dit nog beskikbaar?” Die Oompie het net sy
kop geskud en gesê: “Juffrou wanneer kan jy begin en ken jy die Here Jesus?
Die salaris is maar min. Stel jy belang?” Nou was daar geen keer meer aan my
trane nie! “Ek kan sommer môre-oggend begin!” Na ’n handskud is ek moeg
terug na my verlate en eensame woonstel.
Moeg en honger het ek uiteindelik aan die slaap geraak. Vroeg die oggend
opgestaan en vinnig klaar gemaak – net gou water drink om die honger darem
te stil. Met vinnig klein treetjies met swart skoentjies wat se hakkies
klik-klik op die sypaadjie van ouderdom, het ek gestap na Oompie se
Boekwinkel.
Met die vriendlikste groet word ek binne genooi in my nuwe werk! “Juffrou
kom sit jou sakkie hier onder die toonbank. Kom nuttig eers ’n koppie
boeretroos saam met my in die kombuisie!” Kombuisie dink ek, dit lyk eerder
soos ’n stoorkamer wat jare laas skoongemaak was. Dit was die lekkerste
koppie koffie in maande.
Ek word 'n pos aangebied as Bestuurder van hierdie Christelike Boekwinkel.
Die salaris 'n skamele R300 per maand. Maar ek weet dat die Here dit vir my
bedoel het en aanvaar my nuwe pos met ’n groot uitdaging. En hier sit die
Here my in 'n klein Christelike Boekwinkeltjie wat die middelpunt is van
almal wat oor enigiets geestelik, seer en bitter wil gesels
Ek het nie baie boeke verkoop nie onthou ek nog, maar mense met alle
probleme, seer en bitter in die lewe het daagliks daar kom inloer. Hulle het
kom inloer om hulle diepste seer, trane en bitter met “my” te kom bespreek.
Daar het die Here my geleer om nie onderskeid te tref tussen “seer” en “trane”.
Ons mag wel verskil oor die diepte van ons “seer” en “trane”, maar “seer bly
seer!”
Na ’n paar jaar het die ou Oompie tot sterwe gekom. Sy Boekwinkeltjie en
Woonplekkie was aan my bemaak. Tot vandag nog weet ek nie of dit “trane” van
verlange of “trane” van geluk was nie. Die Woonplekkie my kind, is hierdie
huisie waarin ek en jy vandag sit. Ek het toe my ou kromgetrekte lyfie en
hande nie meer kon werk nie, die Boekwinkeltjie gesluit en al die
Christelike Boeke aan Kerke en Christelike Organisasies geskenk. Alles in
hierdie Woonplekkie is wat Oompie vir my gelos het. Dit is slegs jou
slaapkamer en badkamer wat nuut herskep is, want van vandag af my kind gaan
jy ook weer “nuut gebore” word!”
Met trane wat nou vrylik oor beide van ons twee se wangetjies gerol het, het
“Oumie” vir my gesê die les wat sy uit hierdie storie vir my wil leer is:
“Moenie dat jou omstandighede jou onder kry nie, maar sien juis in jou
omstandighede, hoe moeilik ookal, 'n oop deur om God te dien met blydskap –
by God is daar altyd ’n uitkoms op SY TYD!’
Ons het beide baie, baie stil geword – elkeen met sy eie gedagtes en het ons
vir ’n uur of wat na die kaggelvuur gestaar! Saggies het ek in gebed gegaan
en tot my God gebid: “Vader my omstandighede was bitter, U ken elke “seer”
en elke “traan”, vandag skenk ek my Liggaam en Siel aan U, sodat U op U TYD
vir my uitkoms sal skenk! Dankie God my Vader. Ek Vertrou U met my hele Wese!”
Ek het “Oumie” gaan soek. Sy moes intussen terwyl ek met my God gepraat het,
uitgestap het. Ek het haar krakende slaapkamer deur oopgestoot en haar
rustig op haar knieë voor die groot ou hout katel gebuig gesien sit. Sy het
ook tot haar God gebid of sal dit “Ons” God wees. Ek het haar deur weer
saggies toegetrek.
Ek het die ou eens rooi geverfde kombuis deurtjie oopgestoot en na buite
gestap. Daar was die allermooiste tuintjie – bietjie vaal en uitgedor want
dit is mos winter – maar die liefde het weerspieël in die tuintjie. Ver in
die een hoekie, amper verlate, het ’n bankie gestaan met ’n waterstroompie.
Ek het nader gestap en allerfraaiste twee sement gesiggies het vir my
geglimlag. Die tweetjies laat my dink aan “Jack and Jill – went up the
Hill”. Ek het rustig gaan sit op die bankie en oral rondom my gekyk met
alles wat nou tot ruste gekom het, want dit is nou winter. Ja, dink ek oral
in die mensdom is daar mense, diere en plante wat maar in ’n gebroke wêreld
lewe!
Wanneer ek om my rondkyk en al die dinge sien, van mense, diere en plante
verlore, mishandel en ook verniel. Vra ek myself wat die mensdom dan tog
besiel. Is hulle te blind om God te dien? Satan en sy magte het algehele
beheer, oor die dinge waarvan God ons in sy Woord leer. Ek sien verwoesting,
pyn en smart, maar elke een bekommerd oor sy eie hart. Wat kan ek as mens
daaraan doen, om al die mense met hulle Redder te kan versoen. Dit breek my
hart as ek net daaraan dink, wat gaan gebeur met almal wat sink.
Here gee my as U kind die reg op wysheid, om hulle te leer van U liefde en
getrouheid. Ek weet U koms kom vinnig nader, te bespeur aan die tye en
seisoene wat reeds verander. God wees ons as Bemiddelaars genadig, skenk ons
U leiding en krag mildadig. Trane vloei wanneer U afkyk op die aarde, maar
nog wy mense hulle toe aan die wêreld se waardes.
Stort nou U Gees op ons uit, gee ons ‘n voorsmaak van U Majesteit. Maak ons
meer en meer toegewyd, want ons is slegs op geleende tyd. Neem U nou vandag
almal – mens, dier en plant deur U geskape, en red hulle uit hierdie gebroke
wêreld!
God het weer deel van my diep binneste geword terwyl ek daar gesit en
luister het na die waterstroompie en God se geskape voëltjies wat rondvlieg
opsoek na ietsie lekkers vir middagete. Dalkies ’n kleinding of twee om te
versorg of miskien ’n oumatjie wat beseer is in haar een vlerkie toe sy
kossies gaan soek het. “Here vergewe my as ek soms teen die prikkels skop.
As ek soms soos ’n verwoede bul teen die tralies beur. Dat ek soms in
magtelose woede en rebelsheid wil uitroep .......
WAAROM EK? Gee dat ek betyds sal onthou dat ek my God nie mag bevraagteken
nie. Heer, as ek hulle wat my seermaak en verneder, graag met dieselfde munt
wil terugbetaal ........ Laat my tog dadelik onthou dat die wraak U toekom
....... En Heer, wanneer haat in my opkom teenoor diegene wat my verontreg
........ Laat my onthou dat u gesê het: “Julle moet jul vyande liefhê, seën
die wat julle vervloek, doen goed aan die wat julle haat!” Heer, wanneer ek
dan deur bitterheid verswelg word, laat ek tog onthou, Ek is nooit alleen
nie. U is net sover van my af as wat my knieë van die grond af is. Laat ek
dan ’n stil hoekie kry en by my Heer gaan skuiling soek.”
Nadat die trane my oë gewas het, sal ek kan sien hoeveel ek nog het om voor
dankbaar te wees. Laat ek dan na U Stem luister: “My Kind – Moenie soos ‘n
stukkende leë vat wees nie, Laat ek jou heelmaak as jy stukkend is, As jy
heel is dat ek jou volmaak met Krag sodat Ek jou kan gebruik vir ander om
hulle van My Koninkryk te kan vertel – Ek wil hê jy moet sê: “Jesus my vat
is heel en vol, hier is ek, stuur my waar U wil Jesus!”
Later die middag het ek weer huiswaarts gestap – my nuwe skuiling teen
“seer” en “trane”. “Oumie” was besig om vir ons ’n pot sop te kook met vars
gebakte brood wat die krom getrekte hande gesukkel het om uit die oond te
haal. “Kom my kind dat ons God se liggaam voed met die voedsel wat Hy aan
ons voorsit.” ’n Lang stilte het aan die ou hobbel hout kombuis tafel met sy
gevlekte wit tafeldoek gehang. Elkeen met sy eie gedagtes besig.
“Oumie” het dat ons sommer daar by die kombuis tafel voor die lekker warm
swart koolstoof sit en gesels. “My kind waarheen gaan jy nou met jou lewe
stap?”, het sy in ’n bewerige stemmetjie en ogies vol trane gevra. “Jy weet
my plekkie by God is lankal voorberei en het God my nou nodig in Sy
Koninkryk, maar ek moes wag totdat my “gekweste bokkie” en “verlore kind”
huis toe kom!” “Jy is nou hier en as ’n Christen “Oumie” moet ek die laaste
gesprek met jou voer sodat ek in vrede na my Hemelse Vader kan vertrek!”
Warm trane het nou vrylik oor my wangetjies gerol. “My God hoe kan U hierdie
“Oumie” nou van my neem. Ek het haar dan nou net ontvang uit U Wonderlike
Hande. My God het U dalk ander planne met my lewe? Gaan U dalk iemand anders
vir my “seer” en “trane” stuur? Sal ek weet as ek daardie houtdeurtjie
eendag oopmaak en “hy” staan daar, dat hy U “Gekose Man” vir my sal wees?”
“Oumie” het begin praat. Baie, baie diep gepraat – ek kon dit sien in haar
hele menswees en houding dat sy nou baie, baie ernstig met my praat. “Jy
weet my kind, God het twee mense geskape – Adam en Eva – Hoekom? Omdat elke
mens iemand nodig het in sylewe. God wil nie hê ons moet alleen wees nie.
Elke mens het iemand nodig en ons moet almal vriende hê. Dit is nodig om
woorde van liefde en vriendskap vir mekaar te sê. Dis nie op rykdom of roem
dat ons geluk berus - dis die wete dat iemand omgee, wat vir 'n mens
belangrik is. Die wete dat iemand vir jou bid en jou daagliks aan God opdra,
Hom elke dag vir bystand en leiding in jou lewe vra. Om te weet daar is
iemand wat jou regtig verstaan, maak dit soveel makliker om jou lewensgang
te gaan. Moenie jou naaste se hand van vriendskap ignoreer, moenie jou hart
toesluit en liefde uit jou lewe weer. Onthou, êrens is daar iemand wat net
soos jy oor die lewe voel. Iemand wat ook behoefte het aan 'n vriend wat dit
opreg bedoel. Daar's iemand wat graag wil help om jou sorge en jou pyn te
dra. 'n Vriend wat net sit en wag dat jy hom of haar moet vra. Vreugde wat
gedeel word, beteken soveel meer - maar hartseer wat jy deel, is net die
helfte so seer!”
“Oumie” het nou my een hand in haar twee krom getrekte hande vasgehou en
diep in my betraande ogies gekyk. “My kind ek wil nie hê jy moet huil nie.
Ek het lank vir jou gewag. God het jou gestuur om nou my leisels oor te vat
sodat ek Jesus se Voete kan gaan versorg. Hierdie blyplekkie het Oompie vir
“Oumie” nagelaat. Ek was baie, baie alleen, maar God het Sy Belofte gehou –
jy is gestuur om die leemte te vul voor God my kom haal. Vandag gee ek
hierdie blyplekkie vir jou en jou “lewensmaat/sielsmaat” wat God vir jou
gaan stuur. Pas hierdie Godgestuurde maat van jou op, want hy is ’n Pêrel
van God se Kroon en verwag God dat jy hom sal oppas en bewaar omdat hy baie
kosbaar vir jou gaan wees, net soos wat jy kosbaar is vir “Oumie” en God!”
“My kind het jy al gewonder: “Wat is ’n Vriend se Liefde?” “Nee my liefste
“Oumie” – is daar werklik iets soos “Liefde”?” “Ja, my kind God het man en
vrou geskape om liefde aan mekaar te openbaar – dit is God se opdrag aan man
en vrou. ’n Man moet sy vrou “respekteer” en in ruil daarvoor sal sy
“liefde” aan hom betoon. ’n Vriend se Liefde my kind is 'n houtkruis teen
alleenheid. 'n Steunpilaar in pyn. 'n Vuurhoutjie en 'n olielamp, wanneer
jou lewenslig begin kwyn. Dis 'n skouer om op te huil, wanneer die wêreld
jou soms druk. 'n Hand wat weet wanneer om jou vas te hou en wanneer om vir
jou 'n roos te pluk. Dis 'n oor wat na jou luister, al praat jy soms nie
sense. 'n Stem wat vir jou fluister: "Jy's 'n dierbare en kosbare mens." Dis
'n kombers teen die koue. 'n Sambreel teen die reën. 'n Fort waardeur geen
wind kan waai, selfs wanneer die donderweer buite dreun. Dis 'n
telefoonoproep uit die bloute. ‘n Drukkie wanneer jy dit die nodigste het en
wanneer woorde oorbodig is, word Liefde 'n stille gebed. Bo alles, my kind,
is “Liefde” 'n “Gawe van God” - Geen mens kan daarsonder klaarkom - Dis die
kern van Sy grootste gebod: “Liefde aan jou Vriend, jou Naaste, maar
belangrikste ook aan HOM!”
“Oumie” het opgestaan my baie styf teen daardie ou krom getrekte lyfie van
haar gedruk en saggies, baie saggies gefluister: “Jy, Kind van God, is baie
kosbaar vir my, sowel as vir God! Pas jouself op – jou liggaam is ’n Tempel
van God – bewaar jou liggaam totdat God vir jou, jou lewensmaat en sielsmaat
gaan stuur!” “Glo en Vertrou vanaand op God en jy sal ook “geluk” en “vrede”
ontvang. Geen “seer” en “trane” sal meer deel van jou lewe wees nie, my
kind!” “Oumie” het my nag gesoen en vir nog ’n rukkie styf, styf vasgehou.
In my gedagtes het ek gedink as dit die “Liefde van ’n Vriend” is waarvan
“Oumie” vroeër gepraat het, is dit mos “Hemels!” “Oumie” het opgestap met
die hout trappe en haar moeë liggaam tot ruste gebring.
Ek het stil geraak in my binnekamer. Ek was alleen, maar hierdie alleen-wees
was anders as al die ander nagte in my lewe. “Dankie my God vir hierdie
“Oumie” wat jy op my pad gestuur het. Dankie God dat ek kan vertrou dat U en
U Alleen ook my lewensmaat en sielsmaat te voorskyn sal bring. Bewaar vir
“Oumie” en myself totdat U goudgeel sonnetjie ons weer môre-oggend sal
wakker maak, met die voëltjies al singende in ons ore!”
Vroeg oggend het Jesus se goudgeel sonnetjie vir my deur die pienk ballerina
gordyne geloer. ’n Voëltjie het op my vensterbank gesit en sing – kompleet
geklink of hy sing: “Bring al die Kindertjies na my toe!” Ek het my uitgerek
op hierdie sagte satyn pienk lakens wat “Oumie” met soveel liefde vir my
gemaak het. Ek het met ’n lied in my hart opgestaan en wou vir “Oumie” gaan
verras met ’n koppie boeretroos.
Saggies het ek op my toontjies die hout trappies een-vir-een afgestap so
bang “Oumie” sou wakker word. Snaaks dink ek, “Oumie” slapies darem maar
laat vanoggend. Ek het vir ons uit die blou erde ketel koffie gegooi en van
“Oumie” se boerebeskuit in die koekblik met die mooiste deksel ooit – die
hemelruim vol alle kleure blomme – uitgehaal. Het een van “Oumie” se
spierwit gehekelde lappies op die silwer sinkbord gesit – net soos “Oumie”
my geleer het – en saggies weer opgestap met die hout trappies.
Saggies het ek aan haar kamerdeur geklop en gesê: “Opstaan, opstaan “Oumie”
die sonnetjie skyn al helder en ons liggaampies het lekker warm boeretroos
nodig!” “Oumie” het nie terug geantwoord nie. Beklemming het om my hartjie
kom lê. Ek het die deur saggies oopgestoot. Die skinkbord het uit my
verlamde arms neergeval.
’n Engel in “Oumie” se bed was die eerste gedagte wat by my opgekom het. Ek
het besef God het vir “Oumie” kom haal – baie saggies in die nag. God het ’n
Engel in “Oumie” se plek gestuur om oor my te kom waak. Ek het “Oumie” se
ogies vir haar toegemaak en my trane het oor haar ou verrimpelde gesiggie
geval. Ek het op my knieë langs “Oumie” se bed neergekniel en tot God gebid:
“Dankie my God vir die tydjie wat “Oumie” aan my geleen was. Dankie dat God
haar gespaar het totdat ek opgedaag het en sy vir my die feite van die lewe
kon voordra. My God as dit U Wil is stuur asseblief vir my, my Christen
lewensmaatjie en sielsmaatjie sodat ons twee saam in “Oumie” se blyplekkie
kan voortleef en U kan Dien en Prys! Amen!”
Ek het “Oumie” begin was met haar lavender sepies – sy moet mos lekker ruik
vir Jesus se Koninkryk – sy moet ruik soos een van Jesus se Pers Lelies
langs die waterstroompie in die Hemel. Ek het haar ou lende lam hout
hangkassie oopgemaak en het haar blou en wit pakkie gekies – “die” pakkie
waarmee “Oumie” se eersteling dogtertjie in gedoop was en waarmee Oompie vir
“Oumie” haar werkie in die Boekwinkeltjie gegee het. Met Krag ontvang van Bo
kon ek “Oumie” tot ruste lê in die hoekie van die tuin waar die
waterstroompie gevloei het. Ek het die allermooiste graffie vir haar gemaak
en elke dag het ek eerste daarheen gestap om “Oumie” môre te sê en vir haar
opdrag te gee dat sy nie moet ophou bid nie, my lewensmaatjie en
sielsmaatjie het nog nie opgedaag nie en die alleenheid begin my nou vang!
Elke oggend het ek vir “Oumie” van haar allermooiste blomme uit haar tuin
gepluk en aan haar voete gaan neerlê. Sjoe, “Oumie” hierdie jaar blom jou
blommetjies darem ekstra mooi en helder – sien “Oumie” hoe helder is hulle?
Elke aand het ek in “Oumie” se groot ou stoel gaan sit en met my Jesus
gesels. Ek het tot Jesus gebid dat Hy vir my ’n Christen lewensmaatjie en
sielsmaatjie sal stuur, net soos wat Hy my in “Oumie” se lewe geplaas het.
“Here, ek bid dat U vir my die wysheid sal gee om my lewensmaatjie en
sielsmaatjie werklik te verstaan, om hom lief te hê met passie en
entoesiasme, om absoluut getrou aan hom te wees, en hom daagliks van my
bewondering en vertroue te verseker. Help my asseblief om die leiersrol in
ons huwelik aan hom oor te laat sodat ons saam na eenheid in ons huwelik kan
streef en U eerste in ons huwelik sal stel, en as daar tye van onvrede kom,
vra ek dat U vir ons U vrede sal gee, dat U ons sal help om ons
bekommernisse na U te bring en op U te steun in krisistye. Gee dat ons, ons
gelukkige huwelik nooit as vanselfsprekend sal beskou nie. Dankie dat ons ‘n
sin vir humor deel, dat ons mekaar kan opbou en versterk en bereid is om
mekaar onvoorwaardelik te aanvaar. Help ons om mekaar aan te spoor tot
liefde en goeie dade. Maak ons erkentlik en geduldig teenoor mekaar,
gewillig om na mekaar te luister, diplomaties en taktvol in ons omgang met
mekaar. Leer ons om die tyd tot ons beskikking ten beste te gebruik, om net
die beste van mekaar te verwag, ons foute te erken en mekaar onvoorwaardelik
lief te hê. Dankie my God! In U Naam Alleen, Amen!”
Party aande was ek in so diepte gesprek met my God dat ek sommer in “Oumie”
se stoel aan die slaap geraak het. Een oggend word ek wakker gemaak met ’n
klop aan die hout voordeurtjie. “Snowy het jy dit ook gehoor?”, fluister ek
saggies. Op my toontjies stap ek tot by die satyn blou gordyntjies in
“Oumie” se sitkamer en loer baie versigtig daardeur. Sowaar ’n man – ’n
groot en lang man – hy kyk na die venstertjie se kant toe – weet hy kan my
nie sien nie, maar hy het die mooiste, mooiste paar bruin oë. Jesus se
Liefde straal uit daardie paar bruin oë
“Sjoe, Snowy wat nou?” “Ek weet ek het elke aand gebid vir hierdie man en
“Oumie” bid elke oggend saam met my, maar hoe tree ek nou op?” Skoenlappers
oral in my magie het aan die fladder begin raak. My wangetjies het bloedrooi
en warm begin word. Is dit hoe die Liefde van ’n Vriend jou laat voel, het
ek gewonder. Nog ’n kloppie aan die deur het my tot die werklikheid laat
terugkeer.
Dadelik het ek my vingers deur my hare getrek – vinnig in die gangetjie se
ovaalvormige spieëltjie gekyk of al my hare darem in plek is vir hierdie
groot ontmoeting in my lewe. Ek het sommer geweet – hierdie man – is my
lewensmaatjie en sielsmaatjie. ’n Paar bruin oë soos daardie kan net my
Jesus in woon! Hoekom bewe my bene, voel of ek nie kan beweeg nie,
voetjie-vir-voetjie het ek nader gestap om die deurtjie oop te maak – laat
my terug dink aan ’n paar maande gelede toe “Oumie” vir my ook so om die
deurtjie geloer het met haar ou verimpelde gesiggie en kromgetrekte handjies.
Van nader besef ek dat hierdie man moeg en uitgeput is. Kan dit wees van ver
stap of het hy ook te doen gehad met die “seer” en trane” in sy lewe. Ek het
hom binne genooi en het sy stok met paar besittings wat toegedraai was in ’n
geruite rooi tafeldoek, van sy skouer gehaal en hom gewys waar die kombuisie
is. Moeg het hy neergeval op die hout stoeltjie in die kombuis voor die warm
swart stoof. Vir ’n wyle is daar geen woord tussen ons gewissel nie. Ek het
vir hom koffie ingegooi en nog van “Oumie” se boerebeskuit aangebied. Hy was
moeg, so moeg het net sy moeë kop geskud om dankie te sê. Op daardie stadium
het dit gevoel ek wil hom styf teen my warm liggaampie druk, wat al vrede
gemaak het met al die “seer” en “trane” in my lewe!
Ek het hom na “Oumie” se binnekamer geneem sodat sy moeë liggaam en siel tot
ruste kan kom. Hy het sy stukkende bruin skoene, wat nog weinig sool
oorgehad het, uitgeskop en met sy stukkende kouse sommer dadelik aan die
slaap geraak. My hart het gebloei vir hierdie man wat ook getakel was met al
die “seer” en “trane” in sy lewe. Ek het die begeerte gehad om hom styf teen
my vas te druk en te beskerm teen enige verdere aanslae en verwyte van die
lewe. Ek het saggies omgedraai en die deur agter my toegetrek.
“My God vandag buig ek laag voor U Altaar neer. As dit U Wil is en hierdie
man vir my gestuur is en U ons in die Huwelik gaan bevestig, het ek U Krag
en Liefde nodig. Ek sien nie kans weer vir ’n Liefdelose Huwelik en “seer”
en “trane” nie. Hierdie man is ook toegetakel met “seer” en “trane” in sy
lewe. Laat dit asseblief U Wil is en maak ons Een, Een in God! Amen!”
God het daardie aand in gesprek met my geraak. “My kind, om gelukkig getroud
te wees, vra dat jy alles in jou huwelik sal insit. Dat jy presies sal weet
wat sy behoeftes en drome is, en dat jy kans sal sien om jou eie behoeftes
en drome op die agtergrond te skuif, sodat die van jou maat voorrang kan
geniet. Een van die heel belangrikste vereistes van ‘n gelukkige huwelik is
dat albei huweliksmaats sal besef dat mense verander. Nie een van ons is
honderd persent dieselfde persoon as wat ons selfs net verlede jaar was nie.
Ons lewe en ons idees is vloeibaar. Ons drome en ons verlangens verskuif
gedurig. Daarom vereis die verstiging van ‘n gelukkige huwelik of ‘n hegte
vriendskap of ‘n sinvolle werkverhouding altyd noulettende, wedersydse
begrip vir wat die ander persoon die nodigste het. Dit vra gereelde in-diepte
gesprekke, onderhandelinge, kompromieë …… ensovoorts. Verstaan jy my kind?
Pas hom op net soos jy kosbaar is vir my, is hy ook kosbaar vir my en wil Ek,
julle Vader, julle beskerm teen die “seer” en “trane” in die lewe!”
Met ‘n nat gehuilde gesiggie het ek wakker geword van iemand wat langs my
bed staan. Daardie paar bruin oë het diep, baie diep in my menswees in gekyk.
So diep dat ek skaam geword het. Vir die eerste keer het hy gepraat. Saggies,
baie saggies. “Jy is die mooiste en kwesbaarste bokkie wat nog ooit op my
pad gestuur is. Ek is hier om hierdie gekweste bokkie te kom heel en te
genees. Nooit sal jy weer “seer” en “trane” hê nie. Al “trane” wat jy sal
ken sal “trane” van geluk en liefde wees! Ek was ook gekwes met “seer” en
“trane” maar God gaan ons nou Een maak in Hom!” Trane het nou vrylik oor sy
wange gerol en op my gedrup, waar ek nog in my pienk sagte satyn bedjie lê.
Dit was die mooiste woorde denkbaar. Eers het ek gedink ek droom en moes my
kop skud om te besef maar hier staan werklik hierdie Godgegewe man voor my
met die bruinste paar oë denkbaar.
Ek het opgespring en hierdie man styf teen my warm liggaam vasgedruk en ons
het Een geword, Een in God!
Met ‘n dankbare hart het ek my Vader, my God gedank en vir “Oumie” ‘n
rustige ou dag aan Jesus se Voete toegewens!
My droom is vervul – geen “seer” en “trane” sal weer deel van my lewe wees
nie – “’n Nuwe Lewe na die Seer”! Dankie my Vader, my God vir u Getroue
Belofte aan my!
|
|