| |
Lees: Romeine 9:6-18
Vandag se onderwerp het menige mense al erg laat kleitrap - gelowiges sowel
as ongelowiges. Dus, as hierdie “omstrede” onderwerp - die uitverkiesing -
vir jou al slapelose nagte gegee het, dan kan jy beslis weet dat jy nie
alleen is nie, maar dit met miljoene ander mense deel. Die vraag is of daar
wél so iets sooss die uitverkiesing is, en hierop antwoord Paulus aan die
einde van vanoggend se Skriflesing, as hy die gedeelte soos volg opsom: “Dit
is inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy
wil.”
Voordat jy hierdie dagstukkie summier uitvee, en sê: “Ag ek is tog nie
uitverkies nie - waarvoor lees ek nog verder!”, wil ek vir jou sê dat daar
vanoggend vir jou wonderlike nuus is. Ja, inderdaad kan die hele ding oor
die uitverkiesing ‘n wrede ontnugtering wees, en dít so pas nadat Paulus ‘n
ellelange stuk geskryf het waarin hy jou wil orreed om te glo in Jesus
Christus, want alleen hierdeur kan jy gered word. Wil Paulus jou nou
deurmekaar maak en jou borreltjie bars met hierdie nuus dat jou geloof dalk
absoluut niks daarmee te doen het nie, maar dat jou redding slegs bepaal
word deur God se uitverkiesing? Jy wil daarteen baklei, want jou logika sê
vir jou dat hierdie twee dinge net eenvoudig nie saam by dieselfde punt kan
uitkom nie. “Ek verstaan dit nie!”
Op Waterval Boven, waar ek grootgeword het, was spoorlyne deel van die
alledaagse lewe. Male sonder tal het ek oor die spoorlyne geloop, en dan was
die een vraag wat altyd by my opgekom het: “Waar kom hierdie twee treinspore
bymekaar?” Kyk ‘n mens langs die treinspore af, dan sien jy hierdie twee
parallelle spore wat klaarblyklik tot in die oneindigheid in presies
dieselfde rigting loop, maar hulle ontmoet nêrens - of so lyk dit ten minste.
As jy egter in die verte in staar, dan raak die prentjie so klein dat jy nie
meer die twee spore van mekaar kan onderskei nie - nou lyk dit asof dit een
enkele spoor is.
Daar is twee waarhede wat Paulus ons leer, wat nes twee treinspore parallel
met mekaar loop. Die een spoor se naam is “Uitverkiesing” en die ander spoor
se naam is “Menslike verantwoordelikheid”. Vanoggend moet ons vir onsself
afvra watter een van hierdie twee die ware spoor is - watter waarheid is die
wáre waarheid?
Dalk moet ek dit verduidelik aan die hand van nóg ‘n voorbeeld: Waar ek
vanoggend hierdie dagstukkie skryf, glo ek met my hele hart en siel dat dít
wat ek skryf die woorde is wat die Heilige Gees in my gedagtes lê - ek het
immers gebid dat Hy dit moet doen. Aan die ander kant gebruik ek die
vaardighede wat ek deur die jare aangeleer het, en die kennis wat ek
opgedoen het om hierdie boodskap oor te dra. Albei hierdie eienskappe is
terloops gawes wat God my gegee het. Wie het dus hier geskryf - ek of die
Heilige Gees? Besluit maar sélf!
Die uitverkiesing mag totaal verwarrend wees, want ons probeer daarna kyk
uit ‘n tyd-like (is daar so ‘n woord?) oogpunt. God kyk egter daarna uit ‘n
tyd-lose oogpunt, vanuit die ewigheid. Daardie twee treinspore van
uitverkiesing en self-verantwoordelikheid lyk vir ons vanuit ons tyd-like
oogpunt asof hulle nooit, ooit bymekaar kan kom nie. Maar vir God kom hulle
wél bymekaar, omdat Hy in die verskiet in kyk. Alhoewel dit vir ons “voel”
asof hierdie twee aspekte nie tegelyk waar kan wees nie, is dit bloot ‘n
menslike gevoel, en die volle waarheid daaragter is dat hulle tóg gelyk waar
is, want só sê God in Sy heilige Woord vir ons. (Moet tog asseblief nooit op
jou gevoel staatmaak nie!)
Die vraag wat onmiddellik in ‘n mens se gedagtes opkom oor die uitverkiesing,
is of God dan nie onregverdig is as Hy slegs sekere mense uitverkies, en
ander laat verlore gaan nie? Kom ek probeer verduidelik: Ek ry een aand na
‘n verlate winkelsentrum. As ek uit my motor klim, skarrel ‘n klomp
motgevrete, vuil, honger katjies onder my voete uit. So verwaarloos en
aggressief en mistroostig het ek nog nooit gesien nie. As ek na een uitreik,
blaas hy vir my. Ek druk deur en gryp enetjie - hy byt en krap, maar later
kom hy tóg tot bedaring. Ek neem hom huistoe en versorg hom met groot liefde,
totdat hy uiteindelik ten volle deel van ons gesin word - ‘n gelukkige en
tevrede katjie. Ek was genadig teenoor die katjie, en ek het hom gered van
‘n gewisse dood. Was ek nou wreed om nie al die katjies te vat en te versorg
nie? Sekerlik nie! Ons was almal soos vuil, aggressiewe katjies teenoor God.
Ons kan net dankie sê dat Hy genadig was teenoor ons, en terselfdertyd
bitter jammer voel vir al die ander wat nog nie God se genade gesmaak het
nie. Vanoggend loof en prys en dank ek die Here dat Hy my nie in my
verlorenheid gelos het nie - ‘n verlorenheid waarin ek deur my eie toedoen
was - maar dat Hy genadig was teenoor my terwyl ek Sy vyand was, en ten
spyte daarvan my gered het van ‘n gewisse dood.
Gebed:
Dankie Here, dankie dat ek vanoggend kan getuig dat U my uitverkies en gered
het.
|
|