|
Ek is
betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie
ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle
webwerf.
Goeiemôre vriende,
Dit is FEESTYD!! heerlik, heerlik was die 2 Kersboomfunksies wat ons hierdie
week al gehad het.
Ek deel gou in die vreugdes met julle en weereens baie dankie aan almal wat
dit moontlik gemaak het om 'n kinderhart so baie bly te maak!
PRESIDENT KRUGER KINDERHUIS 21 November 2006
Heel eerste wil ek vir Danie en Annatjie BAIE dankie sê! Hulle was in beheer
van al die reëlings en werk vir hierdie funksie!
Baie dankie julle twee vir al julle bystand en groot liefde vir die kinders.
Julle ondersteuning vanaf die begin van die projek word opreg waardeer!
Was dit nou vir jou 'n fees! Vroegmiddag trek die wolke saam (net soos
verlede jaar) en ek dink benoud dat ons weer lekker nat gaan reën - maar toe
besef ek - "Die reën veral op hierdie dag is 'n blessing! Water gee lewe! en
die kinderhuiskinders gaan 'n heerlike kersboom hê! Toe ons arriveer hang
daar 'n klomp dogters soos vinke uit hulle kamervensters en groet ons met
volle oorgawe! So lekker om kinders te sien lag!
So 'n aptytwekkertjie voor die tyd vir 'n paar seuns is 'n "Blou bul bal
geteken deur al die spelers" (Ek weet van 'n hele kolonie mans wat hulle
voortande daarvoor sou gee! ) Geen groter vreugde - hulle straal en hou die
balle so styf vas dat ek bang is dit sal afblaas! Dankie Bulle - julle bly
tops vir ons!
Ds Jan Venter open met 'n getuienis van sy eie lewe as kind en die kinders
hang aan sy lippe - die storie van sy lewe is hulle storie ook! Die boodskap
is van "vorentoe kyk - wat in die verlede gebeur het is verby - wat in die
toekoms gebeur is in jou hande!" en die kinders stem heelhartig saam!
Toe is dit geskenke tyd. Danie wat sy lyf kersvader hou - sweet lekker onder
die rooipak. En toe hy sy verskynig maak roep een outjie "Hallo Oom Danie!"
en net daar bars hy toe amper die kleintjies se "bubble". Gelukkig is die
geskenke belangriker as die identifikasie en word hy uit volle bors
verwelkom! Soos wat die name uitgelees word vat dit heeltemal te lank vir
party van die kleiner outjies en hulle skuif al hoe meer vorentoe - sit toe
al amper ook op kersfeesvader se skoot! Ons almal wag in spanning om die
meisie wat nou al "4 jaar vir 'n cd walkmen vra" se gesig te sien wanneer sy
haar pakkie oopmaak. Die groot wag is die moeite werd!
Ek glo nie sy het verwag om dit wel te kry nie! - Sy begin die papier so
staaaadig oopmaak (seker ook maar bang vir 'n teleurstelling) en meteens gee
sy 'n gilletjie "Dit is 'n cd walkmen" en jy sien net papiere waai! Ek het
nog nooit 'n kind so gelukkig gesien nie!
Almal se wense het waar geword - tenminste een van die artikels waarvoor
hulle gevra het is in die geskenkpakkie en vir party wat nie te duur
geskenke gevra het nie is daar sommer iets van al drie die wense!
'n 11 jarige dogtertjie kom vra vir my 'n lappie of 'n sakdoek, ek dog dit
is vir 'n ligte verkouetjie. Die volgende oomblik staan sy met 'n tand in
haar hand!. "Hier is hy tannie ek het net gou my maatjie se tand getrek - sy
wissel mos nou!" Nou ja - daar het jy dit . Hoop die tandemuis het sy ding
kom doen. (sien haar foto binnekort op die webwerf www.danvillehulp.co.za)
Oral sien jy net hoe die kinders met hulle nuwe speelgoed speel - en daar
kom so warm en dankbare gevoel in jou hart dat daar soveel wonderlike mense
daarbuite is met soveel naasteliefde om vreugde en geluk in kinders se
lewens te bring - weereens baie dankie.
Ons sluit die funksie af met 'n heerlike braai en lekker verversings! - so
baie dat daar vir hulle oor is vir die volgende dag ook!
(Ek ry omtrent 8 uur daar weg reguit hospitaal toe - en kwart voor elf word
ons kleindogter prematuur op 34 weke gebore 2.03kg!
2 uur die nag klim ons in die bed -dankbaar dat alles goed afgeloop het!)
RAINBOW KINDERBEDIENING
Baie DANKIE aan Alicia Keyser wat hierdie jaar weer kans gesien het om
Kersfees vir ons kinders 'n fees te maak. Sy het eiehandig
370 geskenke ingesamel, in die mooiste papier toegedraai, en heerlike
lekkergoedpakkies gemaak. Dankie Alicia - ons waardeer dit opreg!
Toe Alicia met 'n sleepwaentjie propvol geskenke opdaag en Vader Kersfees sy
verskyning om die hoek maak was daar VREUGDE!!
Sy takbokke was al so moeg - die horings het gehang en daarom moes tannie
Alicia maar inspring en help aanry! Gou-gou is almal in plek en word die
gaste onthaal met 'n toneeltjie en die lieflikste kersliedere.
My gunsteling liedjie "Hoe groot is U" laat my keel weereens toetrek! Ek
hoor "hoe groot is U" en voor my sien ek 'n see van minderbevoorregte
kindertjies met groot afwagting op hulle gesiggies! En ek weet God se genade
is so groot en HY is so getrou!
Deur SY werking kan ons vandag so 'n titseltjie vreugde in hierdie kinders
se lewens bring.
Die spanning loop hoog - hulle is nie meer lus vir sing nie - nou moet die
geskenke uitgedeel word - en Kersvader doen sy ding. Elkeen word op sy skoot
getel - kry 'n lekker drukkie en 'n pragtige geskenk! Een klein seuntjie kry
hom aan sy baard beet - en amper "ontmasker" hy vir Vader Kersfees! Die
ogies blink en die bekkies lag groot oop - sommer so diep uit die keel
wanneer die papiere afgeskeur word! Vir ander heel klein babatjies is hy 'n
verskrikking en skreeu hulle blou-moord op sy skoot! Die geskenk is darem 'n
troos van hierdie "vreemde verskynsel"
Terwyl Alicia die geskenkies vir Kersvader aangee sien ek hoe "sag" haar oë
word - en ek weet haar ure se harde werk - is met die grootste geskenk
beloon! Wat is meer kosbaar as vreugde op 'n kindergesiggie?
Ons sluit die funksie af met Koeldrank, roomys en fris lekkergoedpakkies.
Toe die outjies so by die hek uitstap weet ons "Vanaand is daar so baie
gelukkige hartjies - en kan hulle met 'n glimlaggie en dalk geskenkie in die
arm aan die slaap raak.
BAIE, BAIE dankie aan al ons ondersteuners - wens so julle kon almal by wees
wanneer die geskenke uitgedeel word.
Peter gaan vandag begin om die foto's op die webwerf te laai
www.danvillehulp.co.za hou die webwerf dop en geniet die foto's
Mooi dag
Elsabe
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry
.
Blitsvinnige Vrugtekoek
2 pakkies Marie beskuitjies (grof gebreek)
2 eiers
1 koppie (250ml) sagte bruin suiker
1 koppie (250ml) botter of margarien (verkieslik botter)
3 koppies (750ml) gedroogde vrugtemengsel (fruit mix)
75g glanskersies
2 sopies brandewyn of sjerrie
Smelt botter en suiker, moenie kook nie. Voeg vrugte by en kook vir 3
minute. Voeg geklitste eiers by. Roer vinnig na elke byvoegsel en kook
vir nog 2 minute. Voeg Marie beskuitjies, kersies, brandewayn of sjerrie
by en roer goed. Roer goed tot alles goed gemeng is. Plaas in gesmeerde
broodpannetjie wat uitgevoer is met waspapier wat ook gesmeer is. Druk
mengsel stewig vas en laat afkoel.Keer uit en strooi met versiersuiker
voor bediening.
Spesiale Kerskoek
240 g Brasiliaanse neuter (375 ml)
100 g pekannneute (250 ml)
75 g amandels (125 ml)
225 g dadels (grof gekap, 375 ml)
75 g pitlose rosyntjies (125 ml)
75 g glansvrugte (grof gekap, 125 ml)
120 g rooi en groen glanskersies 9200 ML)
120 g koekmeelblom (250 ml)
2 ml sout
3 ml bakpoeier
105 g strooisuiker (125 ml)
3 eiers
12.5 ml brandewyn
Plaas neute en vrugte in groot mengbak. Sif droë bestanddele daaroor. Voeg
suiker by en meng goed. Voeg eiers en brandewyn by en meng weer goed. Skep
mengsel in ’n gesmeerde eenbroodpan en bak in voorverhitte oond van 150ºC
oneveer 2 uur 30 minute tot goudbruin en gaar.
Ligte Vrugtekoek
250 g botter (270 ml)
250 g strooisuiker (300 ml)
2 ml vanieljegeursel
knypie sout
12.5 ml rum
6 eiers
350 g koekmeelblom (730 ml)
5 ml bakpoeier
400 g sultanas (665 ml)
50 g gemaalde amandels (85 ml)
100 g versuikerde lemoenskil
100 g gepelde amandels (gehalveer, 65 ml)
Voer ‘n 230 mm ronde koekpan met vetpapier uit. Verhit oond tot 150ºC. Klits
strooisuiker, botter, vanieljegeursel, sout en rum tot lig en romerig. Voeg
eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Indien mengsel skif,
voeg 12.5 ml meelblom by. Sif meelblom en bakpoeier en meng. Voeg sultanas,
gemaalde amandels en gekapte skil by. Vou meelblommengsel liggies in
romerige mengsel in. Giet in voorbereide koekpan, rangskik amandels bo op en
bak in voorverhitte oond vir 4 uur 30 minute. Toets met ’n vleispen of koek
gaar is. Laat koek vir 15 minute in pan afkoel en keer dan uit.
Brandewynkerskoek
225 g koekmeelblom (465 ml)
knypie sout
3 ml gemaalde kaneel
3 ml gemaalde neut
450 g sultanas (750 ml)
350 g rosyntjies (580 ml)
225 g glanskersies (375 ml)
100 g gepelde amandels (gesnipper, 165 ml)
60 g versuikerde skil
gerasperde skil van ’n halwe suurlemoen of lemoen
180 g botter (195 ml)
180 g donkerbruin suiker (225 ml)
4 eiers, geklits
25 ml brandewyn of sjerrie
50 ml brandewyn
Sif koekmeelblom, sout en speserye goed saam en plaas eenkant. Plaas
sultanas, rosyntjies, glanskersies, amandels, versuikerde en gerasperde skil
in mengbak en meng liggies. Plaas eenkant.
Klop botter tot romerig, voeg suiker by en klop tot lig en goed gemeng. Voeg
geklitste eiers bietjiesgewys by en klop goed na elke byvoeging. Voeg
gesifte koekmeelblommengsel geleidelik by en meng. Voeg vrugtemengsel en
brandewyn by en meng. Skep mengsel in voorbereide koekpan en bak in
voorverhitte oond van 160ºC vir 2 uur. Verlaag temperatuur tot 150ºC en bak
nog 1¼ uur. Haar uit oond, giet brandewyn oor en laat effens afkoel in pan
voor dit uitgekeer word.
Gestoomde Vrugtepoeding
Vulsel:
37.5 ml gouestroop
500 g appels
250 g korente
40 g gemengde skil, gekap
8 ml gemengde spesery
50 ml sagte bruinsuiker
Deeg:
360 g bruismeel (645 ml)
2 ml sout
150 g gesnipperde niervet
150 ml water
50 ml water (ekstra)
Vulsel:
Smeer ’n stoompoedingvorm goed met botter en skep 12.5 ml gouestroop daarin.
Plaas die res van die gouestroop in ’n mengbak. Skil, ontkern en kap appels
en plaas saam met korente, gemengde skil, gemengde spesery en suiker in
mengbak met stroop. Meng goed.
Deeg:
Sif bruismeel en sout saam in ’n mengbak en roer niervet daarby. Voeg net
genoeg water by om ’n sagte deeg te verkry. Plaas deeg op ’n meelbestrooide
oppervlak en knie liggies. Vorm ’n bol met deeg en verdeel dit in vier van
klein tot groot. Druk kleinste stukkie deeg plat sodat dit die bedem van
die stoompot sal bedek en plaas dit op stroop in die vorm. Bedek deeg met ’n
dik laag bereide vulsel.
Sprinkel hande met meel en druk tweede grootste stuk deeg plat. Plaas dit op
vulsel in poedingvorm en bedek met vulsel. Hou so aan en eindig met deeg.
Bedek poedingvorm met ’n stuk aluminiumfoelie met ’n vou in die middel om
ruimte te laat vir die poeding om te rys. Bind die aluminiumfoelie goed om
die vorm vas en plaas vorm in ’n kastrol met genoeg kookwater daarin om die
poedingvorm halfpad te bedek. Sit deksel op die kastrol en stoom poeding vir
3 uur lank. Vul kookwater nou en dan met nog kookwater aan.
Haar poedingvorm uit kastrol wanneer kooktyd verstryk het en maak poeding
met ’n paletmes van vorm se wande los. Keer poeding op ’n dienbord uit.
Indien verkies, kan sowat 12.5 ml goue stroop oor warm poeding gegooi word.
Dien op saam met vla of room
Ryk, gekookte vrugtekoek
1.2 kg gemengde droëvrugte
25 ml gouestroop
40 ml brandewyn, sjerrie of rum
187 ml water
250 g botter (270 ml)
265 g bruinsuiker (330 ml)
5 eiers
300 g koekmeelblom (625 ml)
70 g bruismeel (125 ml)
2 ml sout
10 ml gemengde speserye
2 ml gemaalde kaneel
2 ml gemaalde neut
Plaas gemengde vrugte, gouestroop, rum, sjerrie of brandewyn en water in ’n
kastrol. Verhit tot kookpunt. Giet in ’n bak en laat oornag staan.
Klits botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg eiers een vir een by en
klits goed na elke byvoeging. Sif droë bestanddele saam en sif dan oor
kokende vrugtemengsel. Meng goed. Roer bottermengsel by. Skep in gevoerde
230-mm ronde koekpan en ban in voorverhitte oond van 150ºC vir 3 uur 45
minute.
Kits vrugtekoek
150 g botter
1 bottel droëvrugtevulsel
150 g sagte bruin suiker (187.5 ml)
250 g bruismeel (450 ml)
2 groot eiers
Smelt botter in kastrol en roer die res van die bestanddele daarby. Meng
goed. Skep in gesmeerde, gevoerde koekpan en bak in oond van 160ºC vir 1
tot 1¼ uur of tot gaar.. Haar uit oond, laat effens afkoel en keer uit. Laat
goed koud word en bewaar in lugdigte houer tot benodig.
Flige gif: 1
ons peper, 1 ons quassia (by 'n Apotheek te kry), 2 ons suiker, maak in fyn
poeier alles tesame en strooi.
Fer kakkerlak en
krikkiis: 1 ons Borax, 1 ons kalk, 2 ons koorn meel, ¼ lb suiker, maak
an en sit neer.
Fer weluise:
Strooi di onderste matras met 'n lepel vol chloride of lime, maak di
bed dadelik op.
Mire weg te maak:
Gooi kalk in hulle nes en dan dadelik kokende water daarin of parafiin
ingooi is oek goed. Gekookte tabakwater is ook goed.
Resepte uit Anna se Kombuis
Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale
geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede,
klik hier |
Die resep hieronder kom uit Anna se
eBoek - 101 Poedingresepte vir Kersfees. Skaf dit gerus aan!
KOUE KERSFEESPOEDING
1½ koppies fyn gerolde Marie beskuitjies
8 malvalekkers
¼ koppie suiker
½ koppie gekapte neute
125ml gemengde skil
¼ teelepel fyn neut
250ml room
¼ koppie lemoensap
mespunt kaneel
125ml dadels
gerasperde skil van 1 suurlemoen
Meng krummels, vrugte, neute, skil en speserye. Verhit die lemoensap en los
die malvalekkers daarin op. Voeg die suiker by en gooi oor die krummels en
vrugte. Klop die room styf en vou dit by die mengsel in. Plaas die nagereg
in die yskas om styf te word.
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Ek wil vandag vir
jou ‘n belangrike vraag vra.
As jy die antwoord weet of self ervaar het, stuur dit asseblief vir my
aan.
Die vraag is hoekom gooi mense tou op wanneer iets nie na hul sin
verloop nie? Of anders gestel, hoekom sien jy ‘n teleurstelling as die
einde van die pad? Ja, in uiterste gevalle self die einde van jou
lewenspad – die teleurstelling so groot, jy sien nie om langer te leef
nie.
On almal ervaar een of ander tyd teleurstelling. Soms ‘n teleurstelling
in jouself en ander kere in mense van wie jy dit nie verwag nie.
Hoe gemaak met teleurstellings in jou lewe? Jou hart is flenters en jou
siel is in stukkies geskeur. Sterk emosies spoel deur jou – emosies soos
woede, verwerping en jaloesie.
Dit is juis hierdie diep emosionele toestand van teleurstelling van jou
oordeel aantas, maak dat wraakgedagtes jou oorheers en verhinder dat jy
voluit lewe.
Hier is drie dinge wat jy doen om jou te help om teleurstelling te
oorkom:
§ Kies ‘n stil plek waar jy weg van alles kan sit of lê. Maak jou oë toe
en raak heeltemal ontspanne. Konsentrasie op jou asemhaling, word rustig.
Moenie op jou teleurstelling fokus nie, konsentreer op jou asemhaling.
Kies ‘n positiewe stelling en herhaal dit oor en oor.
§ Visualiseer - terwyl jy so ontspanne lê - jy is op ‘n “rollercoaster”
(wipwaentjie) – soms is dit rustig en ander kere spoed jy teen
angswekkende spoed ondertoe; soms is jy gillende onderstebo. Sien hoe jy
die wilde jaagtog beleef, al die draaie en kinkels tot die wipwaentjie
veilig stop. Speel in jou gedagtes die wipwaentjie vorentoe en agtertoe.
Stop die waentjie wanneer nodig, jy is in beheer. Herinner jou daaraan
elke teleurstelling en terugslag gebeur soos op ‘n “rollercoaster” rit,
soms is jy onderstebo, ander kere gillend. Maar visualiseer jy is in
beheer en raak dan rustig. Ontspan. In jou wipwaentjie is daar ook
rustiger tydjie en hoogtepunte, en eventueel bereik jy die eindpunt
suksesvol. Visualiseer hoe jy ook jou doelwitte en jou eindpunt bereik,
al is daar ondertebo tye in jou lewe.
§ Moenie by die teleurstelling vashaak nie, fokus op jou doelwitte.
Wees kreatief en vind nuwe maniere op by die eindpunt te kom. Onthou
wanneer een deur in die lewe toegaan, gaan ‘n beter deur en nuwe
geleenthede oop.
§ Behou perspektief. Vandag se grootste ramp is dalk oor ‘n paar maande
‘n kleinigheid.
§ Moenie moed opgee nie – vertrou, bid en bly hoop.
Soos ek die goeie aanneem, sal ek nie dan ook teleurstellings aanvaar as
deel van die lewe nie? Ek kan wel nie die verlede verander nie, maar
vandag het ek weer geleentheid om nuut te begin.
Ek het ondervind dat ‘n groot teleurstelling soms ‘n baie positiewe
draaipunt in my lewe voorafgaan.
Sprankie Wysheid vir die Dag
“Die siel sou nie ‘n reënboog kon hê as die oë nie trane gehad het nie”
– John Vance Cheyney
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
Soek jy plek om te gaan kampeer?
Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd
'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry,
klik net hier.
|
Teken in /Teken uit / Kontak |
Teken hier
in op die poslys en lees ook die argiewe.
Om uit te teken, stuur vir my 'n
epos
en dui jou naam aan asook die eposdres waaronder jy ingeteken is
Kontak my
hier.
Druk jou speld op my besoekerskaart!
|