|
|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Ek sal van nou af
die brief aan die einde van elke maand uitstuur en my Engelse een in die
middel van die maand. Dit sal my die geleentheid gee om meer aandag
daaraan te skenk en meer interessante inhoud te probeer kry. Ons
gaan egter in Augustus vir twee weke Kaap toe, so daar kan verdere
vertragings wees.
Net om te laat
weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier
geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet
my, dalk haal ek dit af.
Ek het nou al 'n
hele paar ou resepte wat vernoem is na mense, gebeurtenisse en plekke,
binnekort sal ek almal in 'n eBoek saamvat en dit dan in daardie formaat
deurgee vir intekenare. Nog meer resepte hieronder.
Ek wonder wat
gaan aan met ons Lotto? Ek sien dis nog steeds nie beskikbaar nie, probeer gerus die UK Lotto! Om 'n
kaartjie te kry is maklik en veilig, ek is al meer as 'n jaar doenig met
hulle en het nog nooit probleme opgetel nie. Hulle boerpot is nooit
minder as 3 miljoen pond nie en die klein bedraggies wat ek al gewen het,
het hulle in Rand in harde kontant (of tjek in pond) aan my uitbetaal.
Klik hier om jou kaartjie te kry en droom GROOT.
Weereens het ek lekkerlees
Afrikaanse artikels deur onder andere
Estelle de Bruyn en Annelie Botes. Ek is seker julle sal dit geniet! Ook is daar
'n insiggewende artikel deur Dr. S T Potgieter.
En onthou tog om
my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is
nou weer terug.
Ek het 'n
ondersteuningsgroep by Yahoogroups begin vir mense wat hartomleidings
gehad het of hulle gades. Sommer net om te praat oor die operasie,
nasorg, dieet ens. en mekaar te ondersteun.
Stuur my epos as jy sou belangstel om aan te sluit.
Regs klik hier
om die program af te laai
Ek kan onthou
dat ek as jong seun speletjies soos giffie, kennetjie en bok-bok gespeel
het. Die reëls kan ek nie so mooi onthou nie. Ek weet dat daar ander
speletjies ook is wat ek op die oomblik nie aan kan dink nie. Ek wil al
die ou speletjies weer laat herleef in eBoek formaat maar ek het hulp
nodig met name van speletjies asook die spelreëls. Stuur
my epos as jy kan help
Die volgende
bydrae is van Charles Sinclair:
Kennetjie
is 'n kinderspel wat gewoonlik deur seuns gespeel word. Aangesien die
spel redelik gevaarlik is is dit gereeld deur skoolhoofde van die
speelgrond verban. Dit is 'n ingewikkelde spel met baie reëls .
Reëls en speelwyse
Die spel word
gespeel met 'n dun stok wat omtrent 'n meter lank is wat as
kolf dien. 'n Kort dikker stok, omtrent 15
cm lank word die kennetjie genoem en dien as die
bal. 'n Slootjie, gewoonlik
die gaatjie genoem, so 6
duim lank en nie dieper as een duim nie word in die grond gemaak en die
kennetjie daaroor geplaas. Die gaatjie se punte moet skuins uitloop. Die
eerste speler wip die kennetjie in die lug in en slaan dit dan sover as
moontlik met die langer stok. Een van die veldwerkers gooi die kennetjie
terug en probeer om so na as moontlik aan die gaatjie te land. Die
eerste speler kan die kennetjie wegslaan voor dit te ruste kom, maar
sodra dit stop meet hy met sy slaanstok hoe ver hoeveel lengtes van die
gaatjie die kennetjie is. Hoe nader die kennetjie aan die gaatjie is hoe
moeiliker hou moet die kolwer
dan uitvoer wanneer hy die volgende hou moet uitvoer.[1]
|
Aantal stoklengtes |
Hounaam |
Aksie |
|
< 1 |
Kennetjie |
Die kennetjie word
op die ken geplaas of onder die ken vasgeknyp, laat val en dan
weggeslaan. |
|
> = 1 , < 2 |
Toontjie |
Die kennetjie word
op die tone of skoenpunt geplaas, opgeskop en weggeslaan. |
|
> = 2 < 3 |
Tip-Top |
Die kennetjie word
tussen die duim en wysvinger van die vryhand in die lug gehou, met
die slaanstok die lug ingetik en dan met 'n tweede hou weggeslaan. |
|
> = 3 < 4 |
Vuisie |
Die kennetjie word
op die vuis van die vryhand gebalanseer, die lug ingegooi en
weggeslaan. |
|
> = 4 < 5 |
Bokkie |
Die kennetjie word
tussen die duim en wysvinger van die vryhand in die lug gehou, met
die slaanstok die lug ingetik en dan met 'n tweede hou weggeslaan. |
|
> = 5 < 6 |
Ogie |
Die kennetjie word
op die slaner se oog (of op sy bril) gebalanseer, laat val en
weggeslaan. |
|
> = 6 < 7 |
Oortjie |
Die kennetjie word
op die oor gebalanseer, laat val en weggeslaan. |
|
> = 7 < 8 |
Ellie |
Die vry arm word
horisontaal gelig en die hand na die bors gebring, die kennetjie
word dan op die gebuigde elmboog geplaas, die lug ingeskiet of laat
val en weggeslaan. |
|
> = 8 |
Elter |
'n Punt word deur
vir die slaner se span behaal. Daar word dan verder van een af getel
om die slaanhou te bepaal - minder as een stoklengte = kennetjie,
een maar nie twee nie = toontjie, ens. Daar kan daar weer tot agt
stoklengtes getel word, dit wil sê 'n totaal van sestien, kry die
slaner se span nog 'n elter (punt) by en so word die proses herhaal
tot by die kennetjie. |
|
* |
Optik-en-slaanhou |
Die kennetjie word
enige plek op die grond in die slaanhok neergeplaas, met die
slaanstok getik sodat dit opwip die lug in en dan met 'n tweede hou
die veld ingeslaan. |
Gaan kyk
gerus hier na al die interessante boeke wat beskikbaar is. Onder aan
daardie bladsy is skakels na nog ander bladsye met boeke.
Ek klik
vanmiddag deur my hardeskyf en kom op 'n lêer af wat ek 'n jaar of so
gelede net "Minette" genoem het. Daarin is 'n paar fotos wat sy vir my
gestuur het asook hierdie artikel:
AiAiba: wegwyser vir gemoed én
siel
Minette Brink
“WAT sing jy, Benson?”
Die winterson bak lomerig oor die Erongoberge.
Hier langs die swembad waar die man ʼn paar verdwaalde blare uit die
turkooiswater skep, is die enigste geluid dié van die voëls en die sagte
geneurie van ʼn oeroue deuntjie.
Benson kom stadig orent en staar lank in die rigting van die Brandberg
wat dynserig op die horison rus.
“Dis diep Damara,” sê hy ná ʼn ruk. “Ek kan nie verduidelik nie.”
Ek vra of dit oor die lewe is, oor die liefde, oor hierdie plek genaamd
AiAiba waar ʼn mens stil raak, rus vir ʼn soekende gemoed vind.
“Dis oor alles,” sê Benson, “dis uit die Bybel.” En sing-sing stap hy
weg.
Sowat 45 kilometer wes van Omaruru op die plaas Anibib, lê die
AiAiba-rotskunslodge.
AiAiba, die Damara-woord vir voorloper, padaanwyser, nie net grondlangs
nie, maar ook sielsgewys.
Hier in die bewaringsgebied van die Erongoberge, het Hubert Herzog en
Fritz Flachberger met die hulp van tagtig werkers uit die
Tubusis-gemeenskap ʼn droom laat bewaarheid.
Binne ses maande is dié lodge met sy twintig luukse-eenhede en ‘n
restaurant met vyftig sitplekke opgerig en in September 2004 is die
eerste besoekers verwelkom.
Begeleide velduitstappies, voëlkykery en die bestudering van rotskuns is
maar van die dinge wat hier vir natuurliefhebbers aangebied word.
Teen skemer neem die gasvrou en toergids, Alexandra Sacharow, gaste in
die oop viertrekvoertuig tot bo op Skemerkelkberg om ʼn uitsig sonder
vergelyke oor dié vallei te bied.
Daar is nie woorde om die sakkende son agter die Brandberg te beskryf
nie. Asemrowend, ongelooflik, manjifiek, fantasties, alles in een. Teen
donker is dit met ʼn diep ongewilligheid wat jy teen die steilte af klim.
Jy wou daar bo bly, gestroop van alle menswees, net een met die skepping
en die wonder daarvan.
Met die terugkeer staan sjef Martin Steppe gereed met die
allersmaaklikste springbok-consomme, gemsbok in sampioen- en knoffelsous
met pasta en soetmielies, afgerond met tuisgemaakte sjokolademousse en
wildebessies.
Wanneer die laataand-geselsies onder die lapa begin yl raak, gaan lê ek
op een van die dekstoele langs die swembad.
Die sterre skiet klein vonkies silwer deur die Namibiese nag en iewers
in die donker vlakte weeklaag ʼn onbekende dier.
En my gedagtes loop deur die rotstekeninge wat ek die dag gesien het.
Ek sien die mensies wat duisende jare terug tussen die rotse gewoon,
gejag en gelag het. Sien die skaduwees wat die vuurtjie teen die
rotswande in die laatnag gooi. Hoor die stories wat in ʼn onbekende taal
vertel word, terwyl die kunstenaars hul kalbassies nader trek om die dag
se gebeure op rots te verewig.
Ek word die oggend wakker en verwonder my oor die uitsig deur die oop
venster.
In ʼn raam lê die veld, die lug, die rotse.
Agter die lodge is ʼn wandelpaadjie wat deur die rotsformasies kronkel.
Daar kan jy op jou eie tyd skeure en spelonke verken en jou verwonder
aan nog kunswerke van tóé.
Jolande en Maria staan met wit glimlagte gereed met ʼn stewige ontbyt en
ná ʼn oulaaskoffie is dit tyd om te gaan.
Ek neem ʼn foto met my oë.
Dis wat liefde is, besef ek.
Die balans in die natuur. Dis die reusekoedoebul wat jou lank staan en
aankyk en dan omdraai en lui-lui wegstap. Dis die rotse met hul vreemde
formasies en geheime. Miljoene jare terug deur die magma-skeuring en ‘n
vulkaan na die oppervlak gestoot om vandag die mens te oorweldig met die
onverstaanbare grootsheid van die lewe.
Ek ken nie die woorde van jou liedjie nie, Benson.
Maar ek weet wat elkeen beteken.
Klik hier om die
Brandberg sonsondergang foto te sien wat Minette gestuur het.
Sê gerus vir Minette "Hallo".
Stuur vir haar epos, sy
hoor graag van julle.
|
Blanke
Ekonomiese Forum -
Waar Blankes mekaar ondersteun |
Die BEF het kennis gekry van
verskeie studiebeurse en werksgeleenthede wat beskikbaar is, vir meer besonderhede,
kontaknommers is hieronder.
Regs klik ook hier om
die nuutste nuusbrief af te laai.
Sluit nou aan. Maak 'n verskil.
Klik hier
vir meer inligting
Kontakbesonderhede:
Mnr. Andre Groenewaldt – 082 633 2920 & landlyn: 012 548 6118
Mnr. George Pienaar – 082 338 3295
Faks: 012 548 7242
Hierdie gaan
nou 'n gereelde item word. Ek is bly om te sien dat die Boeremusiek
tradisie nog so sterk staan....
Willie Fourie
|
Willie Fourie
is een van die weinige Boeremusikante wat reeds vir meer as 60 jaar
Boeremusiek maak. Afgesien van hierdie besondere prestasie het hy
ook sedert die begin van die Gilde sy gewig ingegooi om Boeremusiek
en die Gildebelange te bevorder. Hy is reeds sedert die stigting van
die Gilde in een of ander kapasiteit betrokke by die administrasie
van Boeremusiek en is tans die dienende Ere-President van die Gilde.
Sy veelbewoë professionele Boeremusiekloopbaan het amptelik begin
toe hy op sesjarige ouderdom spontaan begin kitaar speel het tydens
'n troue en sy eerste sikspens vir hierdie openbare optrede verdien
het. Nou — meer as sestig jaar later, word daar steeds by
byeenkomste aangedring daarop dat oom Willie sy krismiswurm uithaal
en demonstreer hoe die meesters speel.
Willie het deur die jare vele kere erkenning ontvang vir sy bydrae
tot Boeremusiek. Op 1 Mei 2004 was nog so 'n geleentheid toe hy die
jongste sertifikaat van eerbetoon van die Gilde ontvang het en die
Ere-Presidentsketting vir hom omgehang is deur Nico van Rensburg.
Ons is bevoorreg om Willie, ten spyte van huidige
gesondheidsprobleme, nog so dikwels met groot dankbaarheid vir sy
nimmer kwynende entoesiasme by Gildebyeenkomste te verwelkom.
Sy vrou Lenie, verdien ook 'n spesiale woord van dank vir die
liefdevolle wyse waarop sy oom Willie bystaan en dit vir hom
moontlik maak om Gildebyeenkomste by te woon. |

|
Bron: 15 Goue
Jare: 1989-2004 Boeremusiekgilde
Almal van ons hou van 'n lekkertjie!
Regs klik hier om 'n
resepteboek af te laai wat ek per epos ontvang het. Blykbaar is die boek
saamgestel deur
Eposvriende, gaan loer gerus daar rond.
Peterjasie se Groot Afrikaanse CD
Ek het my mees populêre eBoeke op
een CD saamgevat. Die Tradisionele SA Resepte, die Kampkosresepte,
die Wille samies en die Boererate is almal daar. Die CD maak 'n ideale
geskenk maar ook 'n besonderse aandenking.
Die CD verkoop vir R100, posgeld
ingesluit,
stuur vir my 'n epos vir betalingsbesonderhede
Kom ons skop oudergewoonte af met
Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië.
Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.
Praters, nie doeners
'n MISMOEDIGHEID lê vandag op my skouers so dig soos die mis oor
Swakopmund soms kan lê. Die rede, so voel dit altans vir my, is dat ons
'n land van praters geword het en nie van doeners nie.
Ek luister vanoggend na die radio-aktualiteitsprogram voor die nuus. Die
een na die ander bydrae gaan oor "die President het gesê…", "die Eerste
Minister het gesê….", "die Minister van So en So het gemaan…", “die
ander Minister het gewaarsku" en so gaan dit aan. Bla, bla, bla, die een
na die ander. Dan is daar berigte oor slypskole, oor konferensies, oor
vergaderings, oor byeenkomste. Nog meer bla, bla, bla.
En as ek nog een keer moet hoor dat MIV/vigs 'n groot gevaar vir die
land inhou en dat Afrika suid van die Sahara die hoogste besmettingsyfer
ter wêreld het, trek ek my hare uit my kop uit, een vir een. Hoeveel wil
mense dit nog "sê"? Wat gaan "sê" aan die saak verander? Doen liewer
iets. Bel my om 'n storie te skryf oor iemand wat vir 'n verandering
iets doen behalwe om te praat en te sê en te maan en te waarsku en
nogmaals te sê.
As ek 'n lysie moet maak van die konferensies en byeenkomste en
vergaderings en slypskole wat ek al vanjaar moes bywoon om nuusdekking
te gee, slaan ek sekerlik van uitputting agteroor. Vergelyk daarenteen
die geleenthede wat ek bygewoon het waar iets gebeur het, is die skaal
redelik skeef getrek.
Wat doen ons byvoorbeeld om Wêreldtoerismedag te herdenk? Ons luister na
toesprake. Is dit die slotsom van die inisiatief wat oorgebly het? Wat
doen ons om MIV/vigs te bekamp? Ons hou nog 'n slypskool en nog 'n
konferensie waar ons na nog toesprake luister en die enigste bewys dat
ons dit wel bygewoon het, die handige klein aktesakkie is met die
slagspreuk van die konferensie op waarin ons die afskrifte van die
toesprake kan pak.
Ek bewonder mense wat beroepe het wat goed doen. Tandartse maak
stukkende tande reg; chirurge sny mense oop en maak stukkende binnestes
reg; bouers plaas bakstene bo-op mekaar wat uiteindelik mooi geboue
word; argitekte teken planne; kunstenaars skep beelde en prente;
musikante maak heuglike klanke wat sag (of hard) op die oor is; drukkers
kry hul hande vuil met ink en produseer koerante; skrywers publiseer
boeke wat ons soveel plesier gee; onderwysers onderrig kinders, merk
boeke en stel vraestelle op; polisiemanne jaag agter diewe aan en vang
hulle (hopelik); rugbyspelers oefen en vermaak ons met hul yslike,
energieke vertonings; tuiniers plant en versorg tuine wat kos vir ons
almal se siele is en so kan ek aangaan.
Kan ons nie maar asseblief 'n doen-kultuur aanleer nie? Kan ons nie
asseblief vir 'n verandering ophou praat nie en eerder die bul by die
horings pak en iets vermag nie? Kan daar nie asseblief 'n wet kom wat 'n
verbod op die alewige pratery en simposiums en konferensies en slypskole
en “wokshops” plaas nie?
Kom ons rol ons moue op, slaan die hand aan die graaf of die aambeeld of
hoe die gesegde ook lui en kry vir 'n verandering resultate.
Groot, groot asseblief!
|
|
| |
My kombers en jou matras
Ná die seisoen van konfetti en trou-albums en katelbreektyd ontwaak ‘n
nuwe seisoen in die grootste gros huwelike. Dis die tyd wanneer kinders
inbars en alles omgedolwe word. Geld, tyd en rus is min. Vurige twiste en
noord-suid-opinies is volop. Wat eens lekker geruik het, word ‘n stank. Wat
mooi was, word afskuwelik. Wat slim geklink het, word beterweterigheid.
Soetlemoene verander in bitterappeltjies.
Dan, so 20 of wat jaar ná die konfetti-dag, wanneer die kuikens hoenders
word en in hulle eie weiland begin skrop, daag ‘n ander seisoen. Jeuktyd,
kraptyd, byttyd, skaaftyd. Dis dan wanneer die huweliksbed se voeë begin
meegee en die wiekelende konstellasie dreig om vloer toe te tuimel.
Ná jare van geldstryd en kinders grootsukkel, sit die eens
uitspattig-gelukkige huwelikspaar met mekaar opgeskeep. Bykans vreemdelinge.
Of vyande. Buitentoe lyk alles wel. Almal glo dit gaan góéd met ons. (“Ons”
is ‘n versamelnaam vir wie ook al aan die versameling wil behoort). Ons hét
alles en ons lag en kuier, sing kerkkoor, stap met die hond, hou vakansie,
koop saam-saam kruideniersware. Oënskynlik die perfekte verbintenis. Maar
agter die voordeur waar niemand sien of hoor nie, staan die pitsweer ‘n
goudgeel punt. Barstens gelade met sarkasme, sinisme, ondankbaarheid,
erbarmingloosheid, humorloosheid. Ons is áltyd gereed om te verskil en te
beskuldig; te pik en te amputeer. Ysstiltes en ‘n vrot atmosfeer is aan die
orde van die dag.
En daar hang ons in die slagyster. Skei kan ons nie, want dis ‘n geval van
my kombers en jou matras en daar lê die ding. ‘n Huweliksberader wíl ons nie,
want niemand het energie vir ‘n ellelange dermuitrygery nie. Dan maar
deurdruk, hoe gallerig ook al. Solank niemand ontdek wat agter die
gordynvoerings aangaan nie. Om te kompenseer vir die yskaslewe, pak ons
allerhande vernietigende handvuurtjies aan vir hitte. Affairs, drank, pille,
pornografie, koopsiekte, vreetsiekte, verenigings, oorgodsdientigheid,
werkoholisme. En noem maar op.
Ek en die ou gryse het al deur baie driwwe geswem. Enkeldiepte, borsdiepte,
en soms watergetrap. Dat ons mekaar nie jakkalsgif ingegee het nie, bly ‘n
mirakel. En toe, tydens eens van ons doodbliksem-gevegte, kom ons op die
kwessie sowel as die oplossing af. Ek sê nie dit sal vir almal werk nie,
maar vir ons het dit.
Die kwessie: Spasie. In sy wese bly die mens ‘n eenling. Hy wil ‘n sirkel om
hom kan trek; ‘n spasie waaroor hy, en hy alleen, baasskap het. En die
huwelik het ‘n rare manier om die mens van sy eenlingskap te ontneem. Dis ‘n
cliché om te sê die huwelik is ‘n eenwording van twee mense. Want twee mense
kan nooit één word as elke eenling nie ‘n heel mens op sy eie is nie. En as
die mens van sy spasie beroof word, raak hy soos ‘n hondsdol hond wat alles
byt wat voorkom.
Die oplossing: Spasie. Só baklei ek en die ou gryskop doerie tyd amper tot
by die bottel jakkalsgif. Uit beboosdheid trek hy met klere, boeke,
lessenaar en spanners na die spaarkamer op die boonste vloer. En dáár bly hy
vandag nog. Wat destyds ‘n ek-bliksem-jou-sommer-dood-aksie was, het geblyk
die antwoord te wees.
Sy kamer is syne. My kamer is myne. Hy kan snork en poep en televisie kyk
wanneer hy wil. Ek kan snags my bedliggie aansit en slaapkouse brei as iets
my ry. Ek kan dwars oor die bed slaap, en hy kan besluit hoeveel komberse hy
oor hom wil hê. Niemand besweet niemand, en daar is nooit ‘n nagtelike
gestry nie. En dis salig om uitgerus wakker te word sonder ‘n kierie teen
jou rug. Of sonder ‘n redeloos-beneukte vrou langs jou. Die saligste bly die
op- en afsluipery met die trap. Soos outydse court. Sondagmiddag gaan lê ek
in sy arm. Of ek skrik middelnag wakker as hy fluistervra of hy agter my rug
kan lê, want hy verlang na my. Om boontoe te sms dat ek my man in my kooi
soek, of om sy brekfis trap-op te dra en te gaan sê hy’s my koning.
Nou se dae kan nie ek óf hy onthou waar het ons die jakkalsgif gebêre nie.
Want ek het my kombers en hy het sy matras. En nêrens lê ‘n ding nie.
Met elke uitgawe fokus ek op 'n
Afrikaanse webwerf.
Iemand wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek MAGALIESBURGSE AANDLIED
Woorde: G.G. CILLIÉ
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: G.G. CILLIÉ
Hoed my as ek my gaan neerlê,
grote God, wat altyd waak.
O, beskerm my deur u Almag
as die kwade my genaak.
O, vergeef my al my sondes,
dan lê ek my hofie neer.
Dood of hel sal ek nie vrees nie
want U is my Rotssteen, Heer.
Neem my ouers en my vriende
in bewaring hierdie nag.
Môre dank ons U vir goedheid,
gawe van 'n nuwe dag.
Melodie soos opgeteken deur G.G. CILLIÉ in 1950 in die huis van oom Frans Fouché, Doornhoek, P.K. Maanhaarrand,
Magaliesburg.
Wat's nuut op
Kalie se Boeremusiek webwerf?! Ons het nou 'n eie domein - dis nou vir
die wat nie die blad onlangs besoek het nie. Gaan loer gerus by
http://kalie.boeremusiek.net
Hierdie webblad is spesifiek daarop toegespits om die: Versameling...Bewaring...en
Uitbouing...van Boeremusiek aan te spreek.
Boeremusiek in Beeld
Die volgende DVD's is splinternuut op die rak en kan bestel word vanaf
Alfa Ateljee:
Bestellings kan geplaas word deur slegs die DVD nommers vir die betrokke
DVD's wat u wil bestel op een van die volgende wyses aan ons te verskaf:
Per epos
Posbestellings: Alfa Ateljee, Posbus 2615, Montanapark, 0159
Faks Stuur na: +27 12 548 5654
Selfoon Skakel vir Kalie by 082 578 8907
DVD Nr Titel
001 Boeremusiek in Beeld: Die Lydenburg Vastrappers
002 Boeremusiek in beeld: 1986 TV Kompetisie Deel 1
003 Boeremusiek in beeld: 1986 TV Kompetisie Deel 2
004 Boeremusiek in beeld: 1986 TV Kompetisie Deel 3
|
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl |
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.
NELSKOP, Brandvlei: Noord-Kaap
Hennie Reichert van Posbus 195, Napier, skryf:
“Ek en my suster en ons gades is onlangs na Nelskop in Brandvlei se omgewing,
waar ons as kinders gewoon het. Hierdie Nelskop is 10 km vanaf Brandvlei, op
die pad na Calvinia en Williston.
Volgens wat ek kon vasstel, het Nelskop tussen 1897 en 1952 bestaan. Dit is
waar ‘n klompie arm blanke boere tussen die Sakrivier se saaiwalle grond van
die Brandvlei dorpsbestuur gehuur het om te deelsaai. Vee is ook aangehou en
van die Nelskop inwoners het dienste soos sout smous, damme skraap en
draadspan aan omliggende boere gelewer. My pa was so arm dat, toe hy in 1951
daar weg is Vaalharts toe, een van die dorpsraadslede hom gevra het waarom
hy nie sommer net al sy besittings op sy rug vasmaak as hy weggaan nie.
Ons huise was van roustene gebou, met misvloere en rietdakke. Die riete het
op gespasieërde pale gerus en dit was met klei bedek. Ons kon dus nie die
dak se reënwater opvang vir drink nie.
Sus Rita was tot in graad 3 in Nelskop se skool. Ek is in 1950 skool toe en
my ma het toe met ons in ‘n kamer in Brandvlei gaan woon. Vandag is daar
niks van Nelskop oor nie. Net ‘n klompie ou murasies staan nog as getuie dat
daar eens op ‘n tyd mense gebly het.”
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
|
|
| |
Ek is
betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie
ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle
webwerf.
Goeiedag vriende,
So lekker om so besig te wees dat daar skaars tyd is vir 'n nuusbrief! Die
werk moet gedoen word - daar is nie tyd vir tik nie!!
DANKIE, BAIE, BAIE DANKIE aan al ons getroue ondersteuners en vir die
substansiële donasies wat ons ontvang het! Die wa is deur die drif, almal
het kos, klere en komberse gekry! Ons het danksy die genade van Bo en ons
ondersteuners se goue harte nou alreeds 1850 splinternuwe pragtige komberse
uitgedeel!!! "Prys die Here daarvoor!" (sien van die foto's op die webwerf
www.danvillehulp.co.za)
Almal in ons groepe wat 'n kombers moes kry het nou al een gekry en ons wil
graag kyk of dit moontlik is om darem 2 komberse per persoon uit te deel (dit
is darem bitterkoud!). Deurentyd hoor mens ook van nog mense wat glad nie 'n
kombers het nie en wil dan graag ook nog in die posisie wees om die nood te
verlig. Ons het nog steeds komberse en warm klere nodig asb.
Ons kon ook goeie kospakke uitdeel wat groot verligting gebring het - maar
ongelukkig raak die kos en fondse ook maar klaar en moet ons maar nog altyd
insamel. Daar kan nooit genoeg kos in die stoor wees nie, want die een
oomblik het jy voorraad en die volgende oomblik is dit klaar! Die nood word
al hoe groter by die dag.
By al die projekte gaan dit op die oomblik relatief goed - danksy die ruim
donasies wat ons ontvang het.
Dit wikkel en woel en ek moet kophou vir 'n vale! So op hierdie stadium is
"min nuus - sommer baie goeie nuus!"
Met die volgende nuusbrief sal ek weer breedvoerig terugvoer gee oor al die
verskillende projekte.
Weereens baie dankie.
Mooi dag
Elsabe
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry
.
Baie dankie aan almal wat vir my hierdie resepte aangestuur het, ek dink ons
gaan binnekort 'n lekker versameling bymekaar hê.
In Patriot #108:
Patriot Koek, Patriot Poeding, Afrikaner Bond Koek, Jan Smuts-koekies,
Jan Ellis poeding,
Generaal De la Rey's koek.
In Patriot #109: Paul Krugerkoek, Vrystaatse Melktert
In Patriot #110: Hertzoggies, Generaal
Smutskoekies, Victoria Sponskoek
In Patriot #111:
Stormjaers, Ounooienspoeding, Ou Jonkmanspoeding
In Patriot #112:
Soldaatpoeding, Afrika's Koekiis, Boere Soetkoekies
In
Patriot #113: President Steyn-koek, Koningin's Poeding
In Patriot #114: Voortrekker Poeding,
Oorlog Poeding
Boerewors
3 kg beesvleis of
2 kg bees en 1 kg varkvleis
15 ml fyn koljander
2 ml fyn naeltjies
2 ml gerasperde neutmuskaat
15 ml gedroogde tiemie
30 g fyn sout
5 ml peper
500 g spek in blokkies gesny
100 ml asyn
90 g derms (ongeveer) geweek in lou-warm water
Sny vleis in 50 mm
blokke en meng met speserye en geurmiddels. Maal die vleis. Voeg spek en
asyn by en meng liggies maar deeglik. Stop derms, nie te styf nie.
Biduurtert
2 groot eiers
8 eetlepels suiker
4 eetlepels botter
1 koppie kookmelk
12 eetlepels meel
2 1/2 teelepels bakpoeier
knypie sout
4 eetlepels botter
6 eetlepels heuning
Room die eiers en
die suiker saam. Smelt die botter in die kookmelk en laat 'n bietjie afkoel.
Voeg dit om die beurt met die meel, bakpoeier en sout by die eier. Meng
deeglik. Bak dit 20 minute lank teen 200º C in die bak waarin dit bedien
gaan word. Maak intussen 'n sousie aan deur die heuning en die 4 eetlepels
botter saam te smelt. Sny die koek in porsiegrootte blokke en giet die
heuningsousie daaroor. Bedien warm.
Bredasdorp
poeding
Week een ons
gelatien in koue water vir 'n uur. Wanneer sag, voeg by een koppie
kookwater, 1/2 lb. wit suiker en die sap van drie suurlemoene asook die
geklitste gele van 6 eiers. Roer oor hitte tot dit begin dik word. Dit moet
NIE kook nie. Verwyder van hitte en roer in die goed geklitste eierwitte.
Gooi in 'n vorm en laat in 'n koel plek om te stol.
Hartkloppings:
1 Lepel heuning en 1 mespunt peper daarin, 'n stukki daarfan te eet,
idermaal di hartkloppings begin.
1 Telepeltji gemmer, 3 dito suiker deurmakaar gemaak en drie maal per dag
een telepeltji droog te eet.
Appelkoosmarmalade
Sny di appelkose ope en haal di pitte uit, fer
elke pond appelkose neem 'n pond witsuiker, sit hulle tesame in 'n skottel
tot di ander dag, kook dit dan fer een en 'n half uur, altyd roer en afskuim.
Kraak fan di pitte en gooi dit by solank dit kook.
|
Resepte uit Anna se Kombuis |
Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale
geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede,
klik hier
Anna het die beste "gesond eet"
resepteboek (Al weer op dieët) saamgestel wat ek nog gesien het, letterklik
honderde resepte wat mense soos ek wat hulle cholesterol moet dophou
onmisbaar sal vind, hier is een voorbeeld:
OONDGEBAKTE VIS EN GROENTE MET 'N
OOSTERSE SOUS
50ml sojasous
40 ml balsamiese asyn
10ml viskruie
40ml olyfolie
3 rooipepers, baie fyn gekap
4 porsies vis, bv koningklip of kabeljou
400g groenbone
125 g babasampioene
Voorverhit die oond tot 200C. Meng die soja, asyn, kruie, olie en rissie
saam. Hou bietjie eenkant en marineer die vis vir 30 minute in die res.
Plaas die gemarineerde vis in ‘n oondskottel en bak 20 minute. Sit die
groenbone vir 1 minuut in vinnig kokende water en soteer die sampioene.
Bedruip die rissies met olie en sit dit in die oond vir die laaste 10 min
van die vis se gaarmaaktyd. Meng die bone, sampioene en rissies in ‘n bak en
drup die marinade wat opsygesit is daavoor oor. Verdeel die groente in dele,
plaas op die eetborde en sit die vis bo-op. Garneer met pietersielie. Lewer
4 porsies.
Kontak gerus vir Anna en kry jou
afskrif!
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Jong bestuurders
op ons paaie
Een van die hartseer stukkies statistiek in Suid-Afrika is die sterftes
op ons paaie. Dis tragies dat jaarliks duisende liggame vermink, lewens
verloor en families in motorongelukke uitgewis word.
Ongelukke kom voor onder alle ouderdomme. Dit kan met elkeen van ons
gebeur, maak nie saak hoe versigtig ons bestuur nie. Maar ek dink die
jong bestuurder het ‘n verhoogde risiko om in ‘n ongeluk betrokke te
raak.
Daar is verskeie aspekte wat ‘n jonger bestuurder in ag moet neem, maar
ek wil drie faktore uitsonder wat myns insiens sy kans op ‘n ongeluk
verhoog.
Die eerste faktor is drink en bestuur. Jong mense is vol energie, hou
van partytjies en wil graag voluit leef en hul lewe geniet.
Ek het jare gelede, vir my meestersgraad studies in sielkunde, navorsing
gedoen oor die effek van alkohol op die manlike geleentheidsdrinker. My
fokus was veral op die jonger man. Dis in hierdie tydperk, wanneer die
jong volwassene sy rybewys bekom, dat daar dikwels ‘n groot toename in
alkoholgebruik is.
Wanneer jy alkohol inneem verswak jou visie (veral laterale visie),
spierkoördinasie en reaksietyd. Jou hoër breinfunksies word deur alkohol
geaffekteer en jou vermoë om te reageer in ‘n krisissituasie neem af.
Ek het onder andere in my studie aanbeveel dat daar na wetgewing gekyk
behoort te word wat ‘n jong volwassene van die ouderdom 17- tot ongeveer
25-jarige ouderdom sal verbied om te bestuur indien alkohol in sy bloed
teenwoordig is. Ek huldig steeds hierdie siening.
Die tweede faktor is spoed. Die geweldadige impak van die slag en graad
van skade by motorongelukke wat ek in die onlangse verlede gesien het,
dui menig keer op die spoedgrens wat oorskry is. Die jonger bestuurder
is dikwels nog nie ervare en behendig genoeg om hoë spoed reg te hanteer
nie.
‘n Derde faktor is die nag. Behalwe dat baie partytjies en gefuif in die
nagtelike ure plaasvind en jong mense dan bestuur, is ‘n mens se sig in
donkerte meer beperk. Jou waarneming van potensiële gevaarplekke,
voetgangers, obstruksies en algemene roete verswak in die nag.
Wanneer jy dus as jong bestuurder agter die stuurwiel inklim - en dis
donker, jy verkeer onder die invloed van alkohol en jy jaag met ‘n hoë
spoed - moet jy weet jy verhoog jou risiko om ‘n ongeluk te maak.
Neem die volgende scenario. ‘n Jong man drink twee drankies en stap by
‘n kuierplek uit. Dis reeds donker en hy moet huis toe bestuur. Hy is
selfversekerd na die drankies, met ‘n titsel van aggressiwiteit en
verhoogde waagmoed. Sluit die motor oop en klim in. Die bekendheid van
die stuurkajuit van sy motor laat hom goed en veilig voel. Hy skakel die
enjin en ligte aan, druk sy gunsteling CD in. Sit die motor in rat; hy
trap die petrolpedaal, ervaar die krag van sy motor. Adrenalien bruis ‘n
polsende stroom deur sy are. Die drankies laat hom sterk en in beheer –
selfs magtig – voel en por hom aan om vinniger te ry.
‘n Verhoogde risiko-situasie vir ‘n ongeluk is nou geskep – sterker
impulse om te waag, verswakte inhibisies en oordeel, gevoel van mag en
krag, en afname in psigomotoriese koördinasie.
Hierdie drie faktore - alkohol, spoed en nag - kan ‘n dodelike
kombinasie vir enige bestuurder wees.
Ek wens ek kon persoonlik vir elke jong bestuurder op ons paaie vra om
hierdie faktore in ag te neem, goeie oordeel en versigtigheid aan die
dag te lê.
Dis wanneer jy in die nagtelike ure staan by ‘n grusame ongeluk en by
die lewelose gebreekte liggaam van ‘n jong man dat jy huil oor die
tragedie van ‘n lewe wat kon gewees het.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“Is jy siek van ouer mense wat jou wil leer van padveiligheid en dinge?
Ons almal het deurgegaan waar jy nou is:- praat oor jou lisensie, nuwe
vryheid… bla, bla, bla – en ons het dieselfde reaksie gehad dat ons nie
wou luister nie. Maar een ding wat die meeste van ons dadelik verstaan
het, is dat dit moeilik is om pret te hê en die lewe te geniet wanneer
jy dood is.” – Skrywer onbekend op ‘n Blog
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
Soek jy plek om te gaan kampeer?
Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd
'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry,
klik net hier.
|
Teken in /Teken uit / Kontak |
Teken hier
in op die poslys en lees ook die argiewe.
Om uit te teken, stuur vir my 'n
epos en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is
Kontak my
hier.
Druk jou speld op my besoekerskaart!
|
|