Ek
voel ek moet begin deur te vertel van my betrokkenheid met WTI. Vroeg in
Desember 2006 woon ek en my vrou een van hulle voorleggings by. Albei
van ons verstaan wat die aand aan ons vertel is as volg:
- Daar is aan ons meegedeel dat as lede sal ons 'n veel groter
verskeidenheid akkommodasie kan kry as wat ons huidiglik by die
maatskappy kry deur wie ins tyddeelpunte besit aangesien WTI direk met
die verskillende oorde onderhandel vir akkommodasie. Dit blyk toe egter
nie die geval te wees nie aangesien ons met ons eerste probeerslag deur
WTI, akkommodasie gesoek het in Februarie wat in die af seisoen is en
ook nadat ons 5 keuses aan hulle gegee het, die beste wat hulle kon doen
net 'n "studio" vertrek, wat wat nie aanvaarbaar was nie. Net om seker
te maak, kontak ek toe die maatskappy deur wie ons ons tyddeelpunte
gekoop het en terwyl ons nog met die oproep besig was, bevestig hulle
vir ons akkommodasie!. Ons eerste teleurstelling.
- WTI is nie aanlyn met hulle oorde
nie en hulle moet die oorde telefonies kontak om besprekings te maak,
dit neem 'n dag of meer, hang af hoe lank hulle moet soek.
-Die hoofrede hoekom ons by WTI
aangesluit het is dat hulle gesê het dat hulle ons tyddeelpunte vir ons
sal verhuur en dat ons dan met die huurgeld wat hulle aan ons sou
oorbetaal akkommodasie by hulle sal kan koop teen R1500 per week. Ek
onthou nog dat ons dit bevraagteken het net om doodseker te maak dat ons
reg gehoor het. Selfs die voorbeeld wat hulle vir ons op die skerm gewys
het, het R1500 per week aangedui. Nooit was daar iets genoem van VANAF
R1500 nie! Selfs op hulle webwerf word oorde aangedui as R1500 per week,
ander oorde is aangedui as VANAF R1500, dus is dit vanselfsprekend dat
die oorde wat nie as VANAF R1500 aangedui is nie wel net R1500
per week is. Groot was ons ontnugtering toe ons vir die eerste keer wou
bespreek en ons meegedeel is dat alle oorde VANAF R1500 per week is
afhangende van beskikbaarheid. Ons kry toe ook 'n lys van beskikbare
oorde met pryse vanaf R2200 tot R5500 per week! Nogal 'n groot verskil
van R1500 af.
Ons besluit toe om te kanselleer,
in die kontrak meld dit dat daar wel gekanselleer kan word mits beide
partye daartoe instem, en natuurlik stem hulle nie daartoe in nie!
Waar laat dit ons nou? Amper
R9000 later en na ons 'n baie duur les geleer het is al wat ek kan doen
hierdie feite op my webwerf sit. Die enigste manier om van hulle
ontslae ta wees is om nie my jaarlikse lidmaatskafooi te betaal nie en
dat hulle hulle dienste opskort en hopelik ook die kontrak kanselleer.
'n Paar wenke:
-As jy ooit 'n kontrak moet
onderteken, maak seker dat daar 'n duidelike kansellasie klousule in is
en wat ook terugbetaling van enige gelde insluit. Maak seker dat jy
genoeg tyd het om te kanselleer, ten minste een of twee maande. As daar
nie so 'n klousule is nie, laat dit insit, as hulle nie wil nie, moet
nie teken nie.
-As die mense aandring dat jy die kontrak NOU moet teken wees
agterdogtig, hulle wil nie hê dat jy geleentheid moet kry om die kontrak
deeglik deur te lees nie.
Hierdie is net die feite soos
deur ons gesien, ek maak geen beskuldigings nie, besluit maar vir
julleself! |