| |
Baie
dankie aan Japie Bosch vir die volgende bydrae oor gevriesde toebroodjies.
Ideaal vir besige mense!
GEVRIESDE
TOEBROODJIES
Kan ‘n mens toebroodjies vries?
Ongetwyfeld. Enige soort brood vries goed. Die geheim van gevriesde
toebroodjies is om te weet watter vulsels vries goed en watter nie.
Wat vries goed?
· Koue vleis, veral verwerkte vleis, soos salami en ham. Dit bevat nitrate
wat die groei van bakterieë beveg;
· Gesnyde, geroosterde beesvleis en geroosterde vark;
· Hoender, kalkoen en biltong;
· Tuna en salm;
· Gesnyde kaas (veral cheddar), roomkaas; kaassmeer en styfgeklopte room
(whipped cream);
· Hardgekookte geel van ‘n eier (nie die wit nie);
· Blatjang, mostert, biefsmeer (Marmie en Bovril) en gesnyde piekels;
· Grondboontjiebotter en
· Gedroogde vrugte en gekapte neute.
Wat vries nie goed nie?
Min toebroodjiesmere vries goed. Dit suig in die brood en maak dit pap.
Moenie die volgende op toebroodjies sit om te
vries nie:
· Konfyt;
· Mayonnaise;
· Slaaisouse;
· Die wit van ‘n eier word taai en verander van tekstuur.
· Blaarslaai, seldery, tamaties of wortels. Voeg dit eerder by die
toebroodjies, nadat dit uit die vrieskas geneem is.
Kombinasievulsels
Met die bestanddele wat goed vries, kan ‘n groot verskeidenheid kombinasies
saamgestel word. Gebruik jouverbeelding. Probeer
die volgende:
· Salami of ham, kaas en roomkaas;
· Gesnyde beesvleis en blatjang of mosterd;
· Tuna en roomkaas;
· Fyn hoendervleis, fyngemaakte, gekookte geel van ‘n eier en roomkaas;
· Biefsmeer en kaas;
· Grondbootjiebotter en rosyne;
· Biltong en gekapte neute;
· Gekrummelde biltong en kaassmeer;
· Gedroogte appelkose of appels, neute en roomkaas.
Vir hoe lank kan toebroodjies gevries word?
Toebroodjies kan vir drie tot vier weke gevries word, mits dit in ‘n
materiaal wat vogbestand is, gebêre word.
Plastieksakkies wat vir gevriesde kos gemaak is, is ideaal, mits dit goed
verseël is. Daar sal ‘n verlies in die kwaliteit
van die toebroodjies wees as die sakkies te dun is.
Toebroodjies wat in dubbeldikte-wakspapier toegedraai is kan vir een week
gevries word.
Hoe lank neem gevriesde toebroodjies om te ontdooi?
‘n Pakkie met een of twee toebroodjies daarin sal binne 3 tot 4 ure ontvries,
afhangende van die temperatuur. Gevriesde
toebroodjies kan ook oornag in die yskas geplaas word om stadig te ontvries.
Voorbereidingswenke
Om te verseker dat die brood minimum hoeveelheid vog absorbeer is die
volgende wenslik:
· Gebruik gevriesde brood met die aanvang;
· Gebruik eerder brood wat een dag oud is as vars brood en
· Smeer elke snytjie van hoek tot kant met sagte botter (nie gesmelt nie) of
margarien om vogintrekking te voorkom..
Merk die pakkies
Plak gegomde etikette met ‘n beskrywing van die vulsel bo-op of plaas ‘n
papiertjie met die beskrywing binne-in die
plastieksakkie.
|
|